Thursday, January 14, 2010

Ons het ‘n groot behoefte aan mense wat heilig lewe. Oor die gewoonheid van spiritualiteit en oor leke-spiritualiteit

Een van die opvallende aspekte van Kees Waaijman se belangrike boek oor Spiritualiteit is die spesiale aandag wat hy aan die spiritualiteit van gewone mense, oftewel, leke gee. Dikwels word spiritualiteit gekritiseer omdat dit ‘n sekere groep mense uitgelig het as “besondere vroom” persone wat verder gevorder is op die geestelike reis en op die weg van heiligmaking as gewone mense. Hierdie mense was gewoonlik die monnike wat in die woestyn gaan woon het of hulle self in afsondering onttrek het. Die reformatore was byvoorbeeld gekant teen hierdie praktiese voorkoms van ‘n “super”-klas van spirituele mense wat “bo” en “beter” as die gewone mens en sy gewone godsdiens was. Die Reformasie het nie gehou van ‘n elitisme nie, soos Sandra Schneiders in ‘n artikel skryf nie. Hulle het ook nie gehou van die “ekstatiese” verskynsels wat dikwels met spiritualiteit verbind is nie – wanneer mistieke figure ekstatiese, mistieke ervaringe beleef het nie. Hoewel dit nie beteken dat die idee van afsondering verkeerd was nie, het die insig al hoe duideliker geword dat afsondering maklik tot uitsondering van ‘n sekere groep mense as super-heilig kon lei.

Teenoor hierdie elitistiese, abnormale vorme van spiritualiteit het die Reformasie gereageer – soveel so dat reformatore die woord mistiek vermy het en eerder van “vroomheid” gepraat het. Vroomheid was in hulle reformatoriese konteks die gewone lewe van toewyding wat na vore gekom het in aanbidding van God (soli deo gloria) in sulke eenvoudige toewydingsgebruike soos ‘n daaglikse roetine van Bybellees en gebed. Nie die menslike prestasie was in fokus nie, maar God se genadige redding en heiliging moes in die geloofslewe van mense gesoek en geëer word. Nie net priesters moes heilig lewe nie en God se teenwoordigheid opsoek nie – elke mens staan direk voor God, coram Deo, en moet God se heiligende, helende teenwoordigheid opsoek.

En dit het beteken dat heiligmaking nie ‘n individualistiese saak was nie. So nodig as wat dit was dat elke mens as individu die innerlike verbintenis en gehoorsaamheid aan God soek (bv. in stiltetyd), so was dit ook vir die reformatore noodsaaklik dat veral die familie saam die geloofsreis aflê. Vandaar die groot klem op die huisgesin as die kern van die gemeente en byvoorbeeld die klem op boekevat. In die Protestantse konteks is verder byvoorbeeld baie gemaak van spiritualiteitsliteratuur wat gewone mense gehelp het om God se stem in die Bybel te ervaar as ‘n lewende, transformatiewe krag in hulle lewe. Dit was nie die priester wat namesn die gesin by God ingetree het nie. Die familie het saam voor God vergader en in God se teenwoordigheid geleef. Die eredienste het in die verlengde hiervan gestaan: die geloofsreis van mense is gevorm deur die byeenkomste in ‘n gemeente waar die baie families saamgekom het om as gemeenskap verder deur God se spreke gevorm te word en bewus moet raak van hul gemeeenskaplike verantwoordelikhede.

Deesdae is spiritualiteit lank nie meer net die terrein van die monnikke en die spesiale begaafdes nie. In alle konfessies word beklemtoon dat elke individu, hoe eenvoudig en hoe “ongeleerde” ook al ‘n spirituele reis aflê. Dink maar net hoe word die evangelie deesdae in baie kerke spesiaal toeganklik gemaak vir mense wat gestrem is en nie altyd die intellektuele gawes het nie. Henri Nouwen se Adam is ‘n boeiende voorbeeld van hoe konsekwent die insig gegroei het dat alle mense God se liefde kan ervaar.

Daar is wel nog die aandag vir uitsonderlike mense soos Moeder Teresa wat uitgesonder word as toegewyde mense. Maar dit is boeiend om te sien hoedat daar groeiende belangstelling is vir die heldhaftige manier waarop gewone mense in onbekende plekke en in nederige omstandighede hulle geloofsreis aflê. Die dae is lankal verby dat “gewone” mense gesien word as mense wat voortploeter in sonde, terwyl dit slegs die predikant of die priester is wat ‘n heilige lewe kan lei. In spiritualiteit is daar juis groot belangstelling in hoe die “gewone” mens ‘n lewe van heiligmaking lei en na eenheid met God verlang. Juis deur bewus te wees van die alledaagse vorme van spiritualiteit word ‘n mens bemoedig en geïnspireer. Daar is, soos Schneiders skryf, ware heiliges buite kloostermure wat God “in die wêreld” soek.

Die Reformasie met sy argwaan teen die mistiek en teen ‘n werkheilige elitisme het ‘n belangrike rol gespeel om spiritualiteit te herken vir wat dit is en om die mistiek te “demokratiseer.” Aan die een kant is alle mense gevul met verlange om in ‘n intieme eenheid met God te leef. En, nog belangriker, ons besef in die mistiek en die spiritualiteit dat egte heiligheid nie net en alleenlik in die groot, heroïese dade gevind word nie. Egte heiligheid word ook nie in uitgestalde vroomheid en eie roem gevind nie.

Egte heiligheid word op die strate, in die koshuis, in jou kombuis, by die rugby en sokker en netbal, rondom die kuierplek, in die liefdesomhelsing, in die skep van kuns en op baie ander plekke van min aansien en opwinding gevind.

En egte heiligheid het ook nie veel te doen met self-verbetering en self-verryking nie. As daar enige rykdom in die lewe is, leer die spiritualiteit, is dit te vind in die gawe om te gee. ‘n Mens is ryk en gelukkig en salig, sê Jesus, as jy kan gee en gee en gee. Een van die mooiste verhale waaraan ek dikwels dink is oor die mense by wie ek op ‘n stadium as student gebly het. Die oom en tannie was altyd goed vir my. Sy sou vir my ‘n koppie koffie kom afgee by die deur as sy gesien het my studeerlig is laat aan. Of soms het daar ‘n bakkie beskuit in my kamer beland. Daar was altyd ‘n vriendelike woord, ‘n aanprysing of ‘n grappige verhaaltjie. Maar sy en haar man, het dit my nog meer opgeval, het twee aangenome kinders soos hul eie en in baie liefde grootgemaak. Harde woorde het ek nie tussen hulle hoor val nie. En, wat my die helderste bybly, is dat hulle saam aandgodsdiens gehou het voordat hulle tot rus gekom het. Dan het hulle ‘n Bybelgedeelte gelees en elkeen het ‘n gebed gedoen – knielende by hul bed. Hulle leef nie meer nie. En daar het in hulle lewe ook tye van swaarkry en seerkry en swakheid voorgekom. Maar lank na hul dood leef in my gedagtes ‘n verwondering oor hul eenvoudige geloofstrou. Hulle was nie ryk in materiële dinge nie, maar vir my het hulle lewe ‘n rykheid in getuienis agtergelaat – selfs al het ons paaie maar vir ‘n kort tydjie gekruis.

Ons hoef nie soos hulle hard saam te bid of te kniel as ons bid nie. Dit is nie wat heiligheid maak nie. Maar iewers gee ons deur die kleinste dinge te kenne dat ons God eer vir wat ons is en het. Dit is nie altyd maklik nie. Dit vra ‘n stuk dissipline om jou woorde te tel, nie harteloos te skel, growwe taal te vermy (Efesiërs!), om te gee vir ander ten koste van jou eie gerief, om hulle wat sonder tuiste is te versorg, om maar daagliks die gebed en die Bybellees vol te hou en baie ander maniere van gewone liefdesdade. Dit is wat heiligheid is – om in daardie gewone plek so gewoon te leef dat dit ‘n verskil maak aan jou eie lewe, maar ook aan ander mense. Dit is die transformasie waaroor spiritualiteit gaan – die Gees se werking van heling in hierdie wêreld deur wie jy in jou slaapkamer en jou huis en jou werk is en deur wat jy daar doen.

Spiritualiteit gaan oor mense se daaglikse, eenvoudige omgang met God wat hulle daartoe bring om ‘n verskil te maak. Alle mense het hierdie kans om heilig te leef. Wat dit so moeilik maak, is dat juis in die gewoonheid van ons heiligmaking ons nie die erkenning gaan kry wat die groot helde van die geskiedenis kry nie. En dikwels is daar onreg, minagting, afwysing en spot vir ons getrouheid aan God se helende werking in die wêreld. Maar wat ons goed doen, is heilig – juis omdat ons dit nie vir erkenning doen nie, of om beloon te word met dankbaarheid nie, maar omdat God se heiligheid en teenwoordigheid ons daartoe inspireer.

Ons het ‘n groot behoefte aan mense wat heilig lewe.

Dit is boeiend om Kees Waaijman se skrywe oor leke spiritualiteit te lees. Dit het vir my baie beteken om te kan besef dat spiritualiteit in ‘n sekere sin sy toetsteen in die lewe van die gewone mens het. En sy skrywe het my laat besef dat ons vir ‘n lang tyd ‘n belangrike asspek van ons spiritualiteitserfenis verloor het, wat gelukkig deur die Reformasie herwin is. In die Ou Testament speel die “oudstes” in bladsy na bladsy ‘n deurslaggewende rol. Hulle was die “wyses” wat die volk en die koning moes lei in die volk se geloofsreis. Hulle was die mistagoë van hulle tyd, die spirituele begeleiers. Hierdie wyse oudstes was nie die intellektuele reuse en die goed opgeleide predikante nie. Hulle het nie in verre lande gaan sendingwerk doen of wonderwerke verrig of in ekstase geraak nie. Ons lees oor hulle wysheid in die Spreuke boek – so belangrik deur die kerk geag dat dit ‘n vaste plek in die kanon gekry het. Dit was doodgewone alledaagse wysheid en hulle was mense wat God se wil geleef en geleer het. Harde, konkrete, gedissiplineerde, maar vervullende wysheid.

Maar, soos ons uit daardie een beroemde en onvergeetlike uitspraak leer – die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here. Eerbied, ontsag en aanbidding van die God van liefde is waar wysheid begin.

En heiligheid, wat ons so nodig het, begin juis wanneer ons in kontemplasie by God leef. Dit is die bron van die lewe. Maar dit vind sy voortsetting en vervulling wanneer ons kontemplatief in die lewe ingaan en lewe soos God van ons vra.

Ons moet hierdie erfenis, deur die Reformasie herontdek en vandag as ‘n belangrike dimensie van spiritualiteit en mistiek beskou, dieper bedink en toeëien.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive