Saturday, January 30, 2010

Om uit te hou, vas te byt en nie tou op te gooi nie. Om Geestelike traaghed en tamheid te oorwin.


In mistieke literatuur is geestelike traagheid of luiheid dikwels uitgelig as ‘n bedreiging van die geestelike lewe, soos ons in die twee vorige blogs gesien het. Die luiheid en gebrek aan dissipline kan gelowiges depressief en treurig maak, het hierdie tekste uitgewys. Maar, beklemtoon hulle verder, ‘n mens kan ook van dissipline weghardloop deur baie besig te wees. Geestelike tamheid steek homself dikwels agter hiper-aktiwiteit weg.

Vir die mistagogie van die vroegste tye kon hierdie verskynsel dodelik wees. Dit kon 'n mens se geestelike reis onherroeplik knak.


In die woorde van die Nuwe Testament sou ‘n mens amper kan sê: ons sif die muggies, maar laat die kamele deurval. Ons hardloop agter die onbelangrike dinge aan, ons word ontmoedig deur sekondêre dinge want ons kom nie uit by wat regtig saak maak nie. Selfs die mooi dinge in die lewe word dan ‘n struikelblok vir geestelike groei. Al die goeie dinge waarmee ons besig is kan uiteindelik ‘n slegte invloed op ons lewe hê.


Waarom is dit so dodelik?

Geestelike tamheid en traagheid kry ons onder omdat ons nie uitkom by die geestelike dinge wat vir ons geestelike reis die belangrikste is nie. Uiteindelik sterf die siel weens die suurstof van die lewe wat dit nie kan inasem nie.

Hieruit is dit duidelik dat ons moet leer om vas te byt, want deursettingsdrif is die medisyne teen traagheid en tamheid.

Iets van die lewe in die algemeen is ook waar van ons geestelike reis: ons kan nie tou opgooi in die middel van die wedstryd nie, al gaan dit hoe sleg. Eers as die laaste punt gewen of verloor is, kan ‘n mens ophou speel. Soms vra dit baie sweet, inspanning en toewyding. ‘n Goeie sportman weet dat daar dae kom dat ‘n mens maklik wen, maar daar is ook die dae dat ‘n mens dink jy kom nooit by die einde van ‘n wedstryd uit nie. Uithouvermoë is wat tel. En juis as ‘n mens vasbyt en aanhou, is die uiteindelike oorwinning soveel groter en intenser, of, selfs al wen jy nie, is die vreugde van 'n eerbare wedstryd waarin jy jou beste gegee het, soveel groter.


Dit beteken dat ‘n mens vir jou geestelike reis veral een groot doel moet uitspel – en dit is om die reis met volharding te loop. Die Emmausgangers in Lukas 24 het tou opgegooi, skryf Lukas. Hulle het Jerusalem verlaat. Hulle het gedink alles het op niks uitgeloop nie. En hulle harte was swaar, hulle gesigte somber. Depressie het oor hulle lywe uitgeskryf gestaan. Hulle kon nie volhard nie.

Die mistagoë het daarom deur die eeue veral vir die jong resigers aangemoedig om te volhard. Hulle het acedia uitgesonder as ‘n gevaar en as teenmiddel die deug van vasbyt as ideaal voorgehou. En volharding is inderdaad ‘n belangrike deug in die Bybel. Paulus praat van die goeie stryd wat hy tot die einde gestry het, sonder om tou op te gooi. Op sy oudag skryf hy dankbaar: Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop klaargemaak, voleindig (2 Tim.4:7). In sy laaste rede sê Jesus aan sy volgelinge: “Wie volhard tot die einde toe, sal gered word” (Mt.24:13). Die teenpool van acedia is daarom volharding. As ons die geestelike reis begin, moet dit wees met die wete dat dit stamina gaan vra.

Die wyse mistagoë het nie net vir hulle treurige, hiper-aktiewe jong medereisigers gesê hulle moet maar vasbyt nie, maar vir hulle ook geleer hóé om vas te byt. En jare se ondervinding het hulle heel prakties daaromtrent gemaak. Daar was nie allerhande ingewikkelde teorieë of net algemene moed-inpraat nie. Die raad was heel eenvoudig.

Ek het so bietjie hul raad bekyk en dit so volg vir ons tyd vertaal:

• Sing of luister ‘n geestelike lied wanneer jy begin traag raak.
• Lees ‘n Psalm of luister na iemand wat ‘n Psalm lees.
• Moenie met jou stiltetyd ophou nie, al ontbreek die konsentrasie.
• Sê vir jouself dat jy gaan bly in die plek waar jy jou afgesonder het en nêrens anders heengaan nie.
• Wees bewus van hoe min kans jy het om geestelik te groei en hoe belangrik dit is om elke geleentheid daarvoor te bly soek – selfs al sukkel dit
• Sê vir jouself dat dit menslik is om kwesbaar, traag, tam en ongemotiveerd te wees.
• Dink na oor jou fisieke omstandighede. Ondersoek of jy jou liggaam genoeg versorg om te kan volhard. Vra of die traagheid dalk ‘n teken is dat jy meer moet rus, beter na jouself moet kyk, gesonder moet eet, oefening moet kry.
• Sommige van die mistagoë het selfs aanbeveel dat ‘n mens eers ‘n slapie moet vang of ‘n warm bad moet neem voordat jy met jou geestelike oefening aangaan. Met ander woorde, laat jou liggaam sterk wees, maar sorg ook dat jou omstandighede gunstig is.

In al hierdie klein, konkrete dinge wil ‘n mens veral volharding oefen, leer die geestelike wyses. Dit was die doel van hulle fokus op acedia as 'n doodsonde. Hulle wil nie vinger rondswaai en wette opnoem nie. Hulle herinner daaraan hoe belangrik geestelike inspanning is en hoe feilbaar die geestelike reis is as die reisiger dit nie ernstig bly soek nie.

Maar altyddeur is daar in al hierdie aktiwiteite die gebed aan God om uithouvermoë, om volharding, om te kan vasbyt. Wie vra, het die Wyse Een geleer, sal mildelik ontvang. En net die vra van inspanning is al 'n tree in die rigting van 'n oorwinning.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive