Monday, January 25, 2010

Om jou roots te ontdek. Oor die Spiritualiteit van 'n groot leier.

My oupa-grootjie se pa is vernoem na die merkwaardige Voortrekker-leier, Piet Retief, vandaar sy name: Pieter Gideon Retief de Villiers. Dit was nie net om Piet Retief te vereer nie. Sy ma was Piet Retief se suster, Anna Susanna Retief – dus bloedfamilie. Hy is gedoop op 9 Mei 1816 toe Piet Retief 35 jaar oud was.

Ek is die vyfde geslag wat as “stamvader” en as De Villiers, nog steeds hierdie naam “Pieter Gideon Retief de Villiers” dra. In ons are vloei die bloed dus van Francois Retief wat in 1688 uit Blois na Suid-Afrika gekom het. ‘n Jaar later, in 1689, sou die ander De Villiers-familie, ook Hugenote, in Suid-Afrika aankom. Dubbele Hugenote-roots het ek dus (behalwe dat die Retiefs self verbind word met die Jouberts wat verskeie plase in die Drakenstein-omgewing besit het – die mense was grondbaronne!).

Hoewel ons soms in die familie hieroor gepraat het, was die lang geslagsregister van Pieter Gideon Retief de Villiers eerder as die band met Pieter Retief (soos hy genoem is) wat vir ons uitgestaan het. Dit is eers in die afgelope paar dae dat ek, in ‘n spesiale roots-ervaring, vir die eerste keer bewus geraak het van wat dit vir ons familie moes beteken het dat ons uit dieselfde huisgesin en kring kom waarin hierdie man gebore is en geleef het.

‘n Ruk terug neem ek ‘n buitelandse besoeker na die Voortrekker-monument in Pretoria – dit is maar die derde of vierde keer wat ek self daar was. Die Voortrekker-Monument was ‘n mylpaal ook in ons familie-geskiedenis. Ek het in my besit foto’s van my pa en my ma, toe al ‘n jaar of vyf getroud, by die inwyding van die Voortrekkermuseum in 1949, ‘n jaar na die Nasionale Party oorwinning. Hulle het uit die Kaap-kolonie spesiaal opgetrek om daardie unieke oomblikke te gaan beleef – wat nogal iets sê van die volksywer van my direkte voorsate! Iewers is daar soms oor hierdie spesiale geleentheid gepraat, maar dit was uiteindelik net een van baie momente wat deel was van ons familie se passievolle anti-Britse en pro-Afrikaanse sentimente.

Hierdie besoek aan die Monument, nietemin, in ‘n tyd van groot politieke onsekerheid en ‘n herwaardering van ‘n mens se eie identiteit was vir my tog ‘n unieke oomblik – veral toe ek op ‘n sekere stadium met my buitelandse kollega (wat diep beïndruk was oor die verering van vroue in die monument) voor die grootste marmer-paneel in die wêreld staan en vir hom kon sê: hierdie uitbeelding is van my bloedverwant en naamgenoot. Dit is Pieter Retief, die man van wie ek my naam kry, die een wie se gruwelike dood so diep in die diepte-struktuur van die Afrikaner se psige ingebed is dat dit as ‘n herhaalde motief na vore kom – nie net in die Monument nie, maar dikwels in historiese werke. En sy dood was so gruwelik in hulle oë omdat hy die een was wat veral die moed gehad het om sy mense na vryheid te lei en van ‘n onderdrukkende sisteem te verlos.

Ek besef te deeglik dat dit hierdie diepe vryheidstrewe was wat ‘n jong, idealistiese volk, uiteindelik vry van die koloniale mentaliteit en mag, In 1949 verwesenlik gesien het toe die Monument op so ‘n dramatiese manier ingewy is – destyds met die volksprediker en politieke leier, D.F.Malan, as hoofspreker. Uiteindelik, op daardie dag, het die Groot Trek in ‘n sterk simboliese daad van die verering van die voorgeslagte geëindig. In die fokus was die Voortrekkers en hul onuitblusbare drang na vryheid. Die lang reis van die voorsate was uiteindelik verby. Op die Vryheidskoppie kon hulle nasate die skoon lug van hul vryheid diep inasem. Verby was die dekades van uitbuiting, verontregting en selfs die afskuwelike volksmoord in die Boere-oorlog van 1899-1901. Dit waarna die Voortrekkers uitgesien het en waarvoor hulle gedurig aan die soek was, het uiteindelik deur die stembus op ‘n wetlike manier tot hulle gekom. Dit was goeie, blye tye. Die oorwinning, ten spyte van die bloed van vele wat wreed vergiet is, was soet – al was die stryd nog lank nie verby nie. Die stryd het maar begin.

Hoe daardie stryd verloop het, weet ons almal. En in 1994, ‘n skrale 45 jaar later, het die geskiedenis opnuut weer ‘n dramatiese nuwe wending moes loop. En ‘n nuwe trek wag op nuwe geslagte, ‘n trek na vryheid vir almal in ons land – vry van geweld, korrupsie, onreg, diskriminasie, vreemdelinge-haat en baie ander vorme van onmenslikheid.

Maar daar staan ek toe met my besoeker in die Voortrekker-Monument en vir die eerste keer tref dit my hoe prominent Piet Retief in hierdie saal uitgebeeld word. Hier, saam met my kollega uit die buiteland, ervaar ek skielik van naderby en selfs vir die eerste keer dat ek die naam dra en die bloed deel van ‘n man wat ‘n ikoon in ons geskiedenis geword het.

En later ontdek ek dat dit nie toevallig is dat hy so prominent op die fries-panele uitgebeeld word nie. Hy is ‘n opvallende teenwoordigheid in die monument en in sy geskiedenis: Een van sy agter-kleinkinders, Mev Preller, was immers een van die drie vroue wat in 1938 die eerste sooie gespit het toe hulle met die oprigting van die Monument begin het (die ander twee was afstammelinge van Hendrik Potgieter en Andries Pretorius).

En toe lees ek die afgelope paar maande die boek, “In the Steps of Piet Retief” deur afstammelinge van 1820-setlaars, Eily en Jack Gledhill. Nou verwag ‘n mens nie normaalweg van setlaars om gebalanseerd oor Pieter Retief te skryf nie – en dit nog in 1980. Die boek skryf hulle nie sonder rede nie: Daar was ‘n sterk interaksie tussen Piet Retief en die setlaars, want hy was ‘n baie lang tyd in Grahamstad voordat hy die Groot Trek begin het. Deur oor hom te skryf, skryf hulle eintlik ‘n stuk van hul eie geskiedenis neer. Maar ek is aangenaam verras deur die gebalanseerde beeld wat hulle teken: Pieter Retief met al sy eelte, maar ook met al sy deugde word helder en soms selfs aangrypend uitgebeeld.

Ek lees daarom die boek met meer as gewone belangstelling. Dit is duidelik nie ‘n sentimentele heiligverklaring van ‘n engelagtige man nie. En ek lees die boek ook gedurig met die besef hoe omstrede die Groot Trek ook kan wees – hoe mense die Voortrekkers as bloeddorstige, primitiewe kolonialiste uit kan beeld en teorieë ontwikkel wat vanuit hul gierigheid hul uitbeeld as mense wat nie hul vryheid nie, maar bloot eie gewin gesoek het.

Uit die Geldwills se boek is dit duidelik dat Retief ‘n hiper-aktiewe entrepeneur was. Hy is wel deeglik ‘n mens wat weet van sake doen. En hy doen dit dikwels byna roekeloos. Droogweg vertel hulle van die baie skuld wat Piet Retief gemaak het en sy vele eiendomstransaksies wat hy aangegaan het. ‘n Mens staan verstom voor die feit dat hy ‘n swetterjoel van plase besit het, dat hy kort-kort in die hof moes verskyn omdat hy nie sy skuld kon betaal het nie, maar dat hy dan tog weer steeds weer op die been gekom het en met sy besigheid aangegaan het. Die man het hom nie laat onderkry deur sy terugslae nie.

Soos ek die boek oor my oer-grootjie oom lees, begin ek al meer besef watter kaliber hy was, ten spyte van sy geldelike verknorsings. En deur hom skemer daar dinge omtrent die Voortrekkers by my deur wat vir my herinner aan geestelike waardes wat ek nou nog dikwels by hul nasate opmerk.

Dit is duidelik dat Retief nie ‘n skelm is nie. Daar is nooit aanklagte van korrupsie en bedrog teeh hom nie. Dit is elke keer weer duidelik dat die man in ‘n sirkelgang van slegte skuld verval het. Die Geldhills meen dat hy soveel slegte skuld opgeloop het omdat hy deur ‘n oordeelsfout ‘n onwyse kontrak met die koloniale moondheid aangegaan het wat hom geknak het. Hy was, skryf hulle, uiteindelik iewers veral ‘n slagoffer van omstandighede buite sy beheer (p.222).

Origens was hy ‘n man van integriteit wat goeie besigheid gedoen het en ‘n uitnemende bouer wie se huise vandag nog uitwys watter goeie vakman hy was. Hulle prys hom as ‘n ordentlike, gewone plaasseun, ietwat skaam (hy het op 33 dan eers getrou, sê hulle!), vriendelik, gasvry en iemand wat as gewilde persoon leierseienskappe getoon het wat meegebring het dat beide die Engelse owerheid en sy eie mense hom in leiersposisies aangestel het. Dit val my op dat hy self nie graag ‘n leier wou wees nie, soos hy telkens laat blyk het. En daar was uiteindelik ‘n geestelike dryfveer vir sy aanvaarding van die leierskap van sy mense. Hy het, skryf hulle, sy verkiesing tot die eerste Goewerneur van die Voortrekkers en dus die eerste Afrikaner-leier buite die kolonies, slegs aanvaar omdat hy as gelowige geglo het God vra dit van hom. Hy het nooit getwyfel daaraan dat God se hand in sy lewe gesien kan word nie – en, voeg hulle by, dit is hierdie kinderlike, byna naÏewe vertroue op God wat hom daartoe gelei het om sy manne onbewapen in Dingaan se kraal te laat gaan op die dag dat hulle gegryp is en na Moordenaarskoppie gesleep is waar hulle wreed doodgemaak is nie. “Retief was sure that it would be all right, under divine guidance and protection.” Dit is hierdie geloof wat hy telkens in sy lewe as leier teenoor sy volgelinge beklemtoon en uitgeleef het.

Ek herken hier die stoere geloof van Rensche van der Walt in haar dagboek oor die Konsentrasiekamp in Bethulie (waaroor ek ‘n paar blogs geskryf het). God se hand is in alles wat ons oorkom. Dit is ‘n tipies gereformeerde spiritualiteit waarin mense ‘n eindelose vertroue het in God se voorsienigheid.

Maar Pieter Retief se integriteit en spiritualiteit kom vir my veral na vore in die manier waarop hy oor ander (die Ander!) dink. Retief skryf die Gledwills, was iemand wat nie so eng soos baie ander Voortrekkers was nie. Hy was bereid om in gesprek te tree met ander groepe soos die Engelse kolonialiste en verskeie swart groepe. Hy was ‘n demokratiese persoon wat in oorleg met ander besluite geneem het. Hy was nie die groot Baas wat rondgeorder het nie. Hy het ook gepleit en gewerk daarvoor dat algemene juridiese beginsels hul lewe in die vreemde moes stuur. Die nuwe land moes ‘n plek van geregtigheid wees. Ek lees verwonderd oor die eerste grondwet en regstelsel wat die Voortrekkers onder Retief se leiding in plek plaas. Hulle praat byvoorbeeld op ‘n stadium van die “Christelike menslikheid” waarmee Retief vir Sekonjela, die swart opperhoof, behandel het.

‘n Mens merk dit alles in Retief se beroemde manifes wat op 26 Oktober 1837 in die Graham’s Town Journal verskyn het (p.171-173). Hy skryf daarin oor hoe hy eredienste wil behou en bevorder, hoe hy God vertrou (“Ons trek dus in volle vertroue, in die wete dat God, in genade ons gou sal bring waar ons moet wees”) en dat hy die swart bevolking nie hardhandig sal behandel nie.

Wat my egter veral opval is Retief se afkeer aan geweld. In sy manifes praat hy van 21 jaar se ervaring wat hom die wysheid gegee het om so op te tree dat hy nie ander groepe skade aandoen nie, al is die handhawing van wet en orde vir hom belangrik. Op ‘n stadium gedurende die trek, vertel die Gledhills, is daar erge spanning tussen Silkaats en Dingaan wat tot ‘n groot bloedbad tussen die swartes aanleiding sou kon gee. Retief het uiteindelik ingegryp en die vee wat Silkaats gesteel het, gaan terugvat en terugbesorg het aan Dingaan omdat hy, soos hy dit uitdruklik gestel het, wou keer dat duisende onskuldige mense se bloed vergiet word as die groepe mekaar sou aanvat – en daarmee het hy nie na witmense se bloed verwys nie.

‘n Mens sien die openheid, die menslikheid en die eerlike bedagsaamheid teenoor ander op plekke waar die Gledhill’s dit nie oplet nie. Erasmus Smit, die sendeling wat Retief se predikant was, het op ‘n stadium ‘n lelike onderonsie met ‘n Wesleyaanse predikant wat hy dink in sy slaai kom krap. Smit wil tog so graag die enigste man van God in sy omgewing wees. Om hom uit die pad te kry, bewerk Smit dat die Voortrekkers in hul grondwet die gereformeerde geloof as enigste wettige godsdiens te aanvaar – soos dit maar in daardie tyd gebruik was dat die staat kerke aanvaar of afwys. Die volgende week kon hy Retief daarop wys dat sy opponent ‘n Wesleyaan is en dus nie vir die Voortrekkers mag preek nie! Maar Retief, hoewel hy Smit se voorstel aanvaar, huiwer nie om kort daarna by ander geleenthede vir die Wesleyaanse predikant in te roep, hom te raadpleeg en hom te gebruik nie. Hy het nie ‘n ideologiese, sektariese denkwyse gehad nie.

Ek sien my oergroot-oom, die een van wie ek my naam kry, met nuwe oë deur hierdie prentjie van die Gledhills:

“We would picture Retief on trek, then, as usually riding a horse, wearing a dark jacket over light-coloured trousers and braces and a woollen hat, unarmed except when hunting or in danger; a man of medium height but well built, with striking, confident, dark eyes, quick movements and a small dark beard and black hair, with a noticeable touch of grey. A friendly man, with a word for everyone including children and, with his experience as a Field-Commandant, a reliable man in a tight corner, with a wary eye for danger and quick appraisal of the best way to react to it; the undisputed leader of his band of well over a hundred souls and one who could stand on equal terms with other leaders, inside or oustide the Colony” (p. 150).

Die Gledhills skryf later in hulle boek: “To many, Retief is the founder of the Afrikaner nation, the first great Afrikaner” (bladsy 225). As hulle reg is, is daar in ons geskiedenis ‘n basis wat die identiteit van Afrikanerskap eer aandoen want uit hulle skryfwerk leer ken ek hom as ‘n gelowige mens met ‘n boeiende geestelike reis.

En, dan: Ons ontdek soms, verrrassenderwyse, ‘n spiritualiteit en geloofservaring wat vir ons inderdaad, terugskouend, laat besef: Die geskiedenis word tog maar iewers deur die hand van God geskryf.

Wat my laat besef waar die gewildheid van een van ons bekendste liedere vandaan kom: “O God van Jakob deur U hand....”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive