Tuesday, January 19, 2010

Invictus

Invictus was my fliekpiek van die week. Ek het gemengde gevoelens gehad oor die vooruitsig. Aan die een kant is daar die goeie vooruitsig om goeie spelers te sien. Clint Eastwood het die afgelope jare groot naam gemaak as regisseur. Daar is ook ‘n paar groot name, soos Matt Damon en Morgan Freeman wat as akteurs opgetree het. Maar aan die ander kant het flieks oor Suid-Afrika in die verlede dikwels gewys hoe belaglik mense kan wees as hulle ons land en ons geskiedenis wil uitbeeld. Wie kan nou die siel van Suid-Afrikaanse politiek, kultuur en veral rugby peil as hulle vreemdelinge in die poorte van Israel, Loftus, Nuweland en Afrikanerdom is?

Ek het ook geleer, veral in die afgelope jare, dat geen van die wêreld se groot helde net goeie kante het nie. Dus ontwikkel ek toenemend ‘n skeptisisme oor romantisering van mense en die skildering van groepe in terme van wit óf swart (figuurlik bedoel). En 'n mens wil veral nie druppende sentimentaliteit sien oor iemand wat 'n enorme rol in ons land gespeel het nie. Ons weet ook 'n mens moet maar nie te gou en naief ophemel nie. Dié van ons wat oor die jare die politieke toneel van naderby bly bekyk het, weet dat Madiba by tye hewig woedend kon word. Die uitvalle tydens die konstitusionele onderhandelinge was een voorbeeld. En Van Zyl Slabbert het in sy laaste outobiografie ook kante van Madiba geteken wat ‘n mens nie graag wil hoor nie.

En tog, juis vanweë daardie swakker, menslike kante, dink ek, staan Nelson Mandela groter as gewoonlik uit bo baie ander leiers. Want ‘n mens wat swakker kante wys en van wie 'n mens weet dat hy of sy ook maar feilbaar is, blink vir ons uit juis wanneer hy of sy groter, dieper en aangrypender momente het. Dan besef 'n mens hoe styg hy of sy werklik uit bo sy eie beperkinge. En so groot en uitsonderlik was Mandela beslis.

En die Vader weet, 'n mens het die behoefte om vir 'n slag ook die goeie, mooie en uitsonderlike in mense te kan raaksien. In die fliek sê die karakter op ‘n stadium: “This country longs for greatness.” Maar dit is waar van die wêreld in sy geheel. In die fliek besoek die Springbokke Robbeneiland en staan Matt Damon alias Francois Pienaar in Mandela se sel. Vir een sekonde wys hulle hoe hy sy twee hande uitsteek en amper die sel se mure in die lengte raak. En wanneer hy by die venster in die harde, stowwerige gruisgat kyk waar die gevangenes jaar na jaar moes werk, sien hy vir Mandela kap in ‘n stukke wonderlike, maar hartverskeurende cinematografie. Jy skuif eintlik in jou stoel terug van verleentheid om te dink dat die waardige man, ‘n merkwaardige leier, aan daardie vernedering onderwerp is.

Daarna, in ‘n roerende oomblik, vertel Pienaar aan sy vrou hoe hy verwonderd staan voor die feit dat ‘n man wat 30 jaar in só ‘n sel toegesluit was, die mense wat hom opgesluit het, vergewe het.

Ek het dus met gemengde gevoelens in die fliek ingestap. En tog het ek ‘n ryk mense daaruit gekom. Dit is sekerlik ‘n aangrypende fliek. Mandela word veral uitgebeeld as die held, sonder fout of swakhede. Maar ‘n mens besef gou dat dit in die fliek om meer as net die uitbeelding van ‘n mens gaan. Hier is dieper debatte aan die gang: As Mandela vir Pienaar die eerste keer vir tee nooi en Matt Damon absoluut oortuigend die rol van ‘n onervare, skaam, geïntimeerde Afrikaner rugby-kaptein so oortuigend en mooi speel, praat Mandela met hom oor leierskap. Dit vind plaas binne die konteks van die vraag hoe word ‘n hoogs gepolariseerde, verdeelde samelewing deur voorbeeld en leiding geheel. Met hierdie soort van debat begin die twee mense se vriendskap. Dan besef jy, hierdie fliek onderstreep eintlik sekere belangrike spirituele waardes. Dit wil aanmoedig tot menslike optrede, tot versoening tussen groepe, tot vergifnis, tot self-opoffering, tot leierskap. Ons is in ons sinisme oor die politiek nie gewoond om sulke verheffende gesprekke met die politiek te verbind nie. En net so verfrissend is dit om weer vir ‘n slag te hoor dat ‘n politieke leier bereid is om sy volgelinge oor belangrike sake teen te gaan. As hulle besluit om die Springbok-embleem af te skaf, is hy die een wat vasskop, ter wille van die eenheid tussen die groepe in die land.

Ek is diep geroer deur hierdie film. ‘n Mens kom daaruit vol heimweë na ‘n hoogtepunt in ons jong land se geskiedenis, maar veral na die grootheid van ‘n man wat teen sy volgelinge in, sy hand uitgereik het na sy teenstanders wat hom jare lank gestraf het en wat met absolute sinisme sy presidentskap begroet het. ‘n Mens treur oor die agteruitgang wat na die groot man se tyd plaasgevind het, oor die vervreemding wat weer ingetree het, maar veral oor die gierigheid, selfsugtigheid, onverdraagsaamheid en ander negatiewe gevoelens wat in die jare na Mandela so dikwels weer aangemoedig en verdra is.

Hierdie fliek kom net betyds om ons daaraan te herinner dat klein lande met onbekende mense die verbeelding ver buitekant hulle grense kan aangryp en ‘n verskil maak. Want hierdie fliek oor ‘n sportgebeurtenis in 1995 word ‘n les in heroïek, in menslikheid. Dit spreek ‘n universele taal wat deur mense oor die wêreld heen verstaan is. Ons het 'n behoefte aan groot leiers, want dit is wat ons ook aanspoor tot grootheid. En iewers, leer ek weer, ontdek ons ook deur die fliek hoe 'n mens grense tussen mense, selfs die keiharde grense wat ons so graag verdedig, iewers afgebreek kan word sonder dat die aarde ineenstort - ja, selfs tot verryking en wedersydse agting van mekaar.

Clint Eastwood het ‘n fliek gemaak waarin die Afrikaner vir ‘n slag nie gekarakteriseer is as dom rassiste nie. Dit is ook nie ‘n sentimentele fliek nie. Daar is lekker humor, veral die keer as die springbokke vir die eerste keer in ‘n township ingaan om rugby onder die skoolkinders te bevorder en af te rig. As hulle van die bus afklim en na die kinders loop, storm die kinders met groot gejubel op hulle af – en omring dan met blye krete vir Chester Williams!

Ek gee die fliek ‘n 9, veral oor sy verheffende impak, die oortuigende en deurleefde spel van Morgan Freeman en Matt Damon (ongelooflik), asook die sekretaresse van Mandela (wat ‘n speler), die stunning musiek, die wonderlike gedig waaruit die titel Invictus vandaan kom (wat sê dit tog van Mandela se grootheid dat hy sulke gedigte vasgehou het vir inspirasie), die verbysterende tonele van die Kaap (Tafelberg), die lekker toneel oor die Boeiing wat oor die eindstryd-stadium gevlieg het, die leier van die span wat Mandela opgepas het. Maar een punt word afgetrek vir die rugbyspelers waaarvan sommige gelyk het of hulle nie in Pofsonderadder se derde span plek sou gehaal het nie. A nee a. Die spelers in die fliek was darem nou nie ninnies of ballerinas nie (soos die huidige coach dit sou geformuleer het), maar hulle was darem ook nou nie daardie manne wat die dag op Ellispark hulle kant so formidabel gebring het nie.

Na die tyd stap ons huis toe. Hier op die dorp begin die straatkafees toemaak. Dit is jool-week en die studente is en masse besig met hulle dinge. Maar vanaand is die polisie op patrollie. Ons sien ten minste drie polisie-voertuie. En, half elf in die aand, is die skoonmakers besig om die strate skoon te maak. Agter op hulle voertuig is sakke vol vuillis wat die voetgangers oral gemors het.

Ons sien die polisie op die strate. Ons sien ons strate word skoongemaak. Ons sien hoe ons geskiedenis die wêreld inspireer.

Dit is ‘n goeie aand gewees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive