Thursday, January 07, 2010

God, so anders en ver, maar so naby.

Die Kappadosiërs was ‘n groep monnike wat in die vierde eeu n.C. ‘n asketiese lewe in Klein-Asië gevoer het. Onder hulle was veral Basilius die Grote en Gregorius van Nyssa baie bekend. Gregorius se boek, “Die Lewe van Moses,” is een van die bekendste spiritualiteitsboeke. Basilius se voorskrifte aan monnike vir ‘n asketiese bestaan het ‘n blywende invloed in die Oosterse Christendom uitgeoefen.

Terwyl Basilius veral die praktyk in die oog gehad het, was Gregorius eerder die teoloog wat veral nagedink het oor die geestelike reis waartydens die mens die aardse dinge agtergelaat het om dieper in die waarheid en die geestelike lewe te groei om uiteindelik met God een te word.

Maar die eenheid tussen God en mens verstaan Gregorius as iets wat tot stand kom deur die werking van die Heilige Gees, juis buite die mens se toedoen om. Hy het dikwels oor die Heilige Gees geskryf wat die mens laat deel aan God se heerlikheid.

Ook hier het ons weer ‘n voorbeeld van iemand wat die noue band tussen God en mens beklemtoon, maar terselfdertyd onderstreep dat God en mens nie dieselfde natuur het nie. Vir Gregorius as apofatiese denker is God bo alle menslike woorde verhewe. Die gelowige wat oor God nadink en in God se teenwoordigheid leef, ontdek dat hy of sy God nie beter “verstaan” nie. ‘n Mens reis nie na die lig nie, maar eerder na die duisternis. Om dit te verduidelik, steun Gregorius op die geskiedenis van Moses. Soos Moses op die berg Sinaï gaan ‘n mens ‘n wolk binne en reis ‘n mens dus in die duisternis na God toe. ‘n Mens ervaar God se teenwoordigheid en streef steeds daarna om dit meer en meer te ervaar. Maar nooit bereik ‘n mens op aarde in die reis na God die volmaakte toestand van die teenwoordigheid van God nie. Dit bly 'n voortgaande groei.

Gregorius se bydrae tot spiritualiteit lê vir my op twee vlakke: aan die een kant is hy bewus van hoe anders God as die mens is – en hy beklemtoon dit gedurigdeur. Terwyl die meeste mense aan die geestelike reis dink in terme van “verligting” in denke en dieper verstaan, is Gregorius gelaai met ontsag voor die verborgenheid van God. Wie is ons, as mense, om God vas te wil vang in ons menslike denke? Ons groei juis nie in die lig nie, maar in die onbekende, dit wat vir ons verborge is, wat so anders is as wat ons gewoond is. ‘n Mens moet vanuit ‘n apofatiese hoek oor die geestelike reis dink – as ‘n proses wat moeilik in menslike taal verduidelik kan word. Dit is 'n reis wat ver bo menslike woorde uitstyg. En juis hierin ontdek 'n mens Gregorius se eerbied en ontsag vir God.

Aan die ander kant tref dit my hoe hy tog weer beklemtoon dat ‘n mens ten nouste met hierdie Verborge God verbind word. Ons is op pad na ‘n lewe van heerlikheid. Die reis in die duisternis in is ‘n opwindende reis. Ons is op pad om God van aangesig tot aangesig te ontmoet... Ons bedryf nie sommer net godsdiens nie. God het ons aangeraak. Die ontsaglike, verborge God nooi ons in om by God te woon - in die Verborgene, maar dan ook terselfdertyd in Geborgenheid!

Hier is nie “gevaarlike” mistiek nie. Die grense tussen God en mens word nie opgehef nie, maar die intieme eenheid tussen God en mens word sterk onderstreep.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive