Friday, January 15, 2010

Die Bybel, teologie en spiritualiteit

Die groot ontwikkelinge in die Bybelwetenskappe sedert die Aufklärung het ons op baie maniere bevry. ‘n Belangrike tendens in hierdie tyd was dat ons die Bybel as ‘n boek van sy tyd verstaan het. Ons het die historiese karakter van die Bybel beter begryp. As gevolg daarvan het groot veranderinge in die kerk gebeur: Bybeltekste is nie meer gebruik om slawerny te regverdig nie, vroue is nie meer op grond van ‘n Bybelversie tot ‘n posisie van ondergeskiktheid uitgeskuif nie, anti-Semitisme is langsamerhand oorwin, rassisme word nou feitlik universeel veroordeel en die kerk het in baie opsigte sy geestelike aard beter begryp. Ons gebruik nie meer ‘n Bybelversie om vroue te laat hoed dra nie en die dae dat vroue rokke moes dra omdat die Ou Testament vroue verbied het om “mansklere” en dus broeke te dra, is lank verby. Ek onthou nog die reuse skeppings wat vrouens Sondae op hulle koppe die kerk in ingedra het en dit is soos gister dat my ouers hul dogters aangesê het om nie eers daaraan te dink om langbroek te dra nie.

Ons het in die tyd besef dat die Bybel in baie opsigte ‘n boek soos alle ander boeke is. Dit weerspiëel die gebruike, waardes en voorskrifte van sy tyd. Soos tye verander, verander ook hierdie gebruike, waardes en voorskrifte. Dit gebeur reeds duidelik in die Bybel self: Die Nuwe Testament doop in plaas van besny, preek in plaas van offer en in plaas van die tempel en sinagoges is daar nou kerke.

Soos hierdie benadering tot die Bybel gegroei het, het ons begeerte om oor baie aspekte van die Bybel meer inligting te kry en met mekaar daaroor te debatteer, ook al hoe sterker geword. Wat ons toe vir ‘n baie lang tyd in die teologie en Bybelwetenskap gedoen het, was om ‘n Bybelteks of motief te neem, dit van alle kante te bekyk en te beoordeel voordat ons dit in hul historiese konteks geplaas het. Vir nog ‘n langer tyd het ons dan besluit of sulke tekste praat van dinge wat “regtig” gebeur het. Wat is die “feite”, het ons gevra. Ons het allerhande Bybelse temas uitgelig: Jesus se toekomsleer, geregtigheid, versoening, die doop, die kerk, die Heilige Gees en nog baie ander. En ons het allerhande argument vir allerhande sieninge daaroor aangevoer. Mense wat nie met ons saamgestem het nie, was “afwykend” of “ketters” of “sektaries.” Ons gevegte met mekaar as gelowiges het gegaan oor allerhande twispunte: groot of klein doop, die verstaan van die verbond, evolusie of kreasonisme of intelligente ontwerp, spreek in tale of nie, die onderhouding van die sabbat of die Sondag, die bediening van die nagmaal in kelkies of in bekers, die dra van ‘n manel en beffie en toga. Ons het die Bybel gebruik om “kennis” so versigtig en intensief as moontlik uit te werk. En toe het ons ook die Bybel onder die vergrootglas geplaas: het Jesus die wonders gedoen? Is die opstanding letterlik? Hoeveel keer het Jesus na Jerusalem gereis? Wanneer is Jesus gebore?

So moes jy ‘n hoë kennis van die Bybel en die teologie verwerf as jy in die hoofstroom-kerke in die bediening wou staan. Met die hulp van die filosofie, die sielkunde, die sosiologie, die grondtale het ons ‘n hele akademiese struktuur ontwerp wat ‘n mens geleer het om logies oor die Bybelse “waarhede” te kan praat. Teologie was ‘n hoogs gesofistikeerde akademiese program wat ons gehelp het om die Bybel fyn te ontleed en te “bemeester.”

Hierdie aksent op kennis was vir baie mense oor eeue heen besonder belangrik en bevrydend. Die kerk wat werklik ‘n verskil gemaak het, het nooit op ‘n oppervlakkig manier ‘n anti-intellektuele houding ingeneem nie. Dit is dikwels die mense op die rand van die kerklike lewe wat smalend sal praat oor die “teologie” asof dit intellektuele gespin is wat die ware geloof tot niet maak. En gewoonlik het hulle dan ‘n taamlike verdraaide idee van wat teologie is.

Dit gebeur sekerlik dat die teologie destruktief kan wees en dat die Bybelwetenskappe min met geloof te doen sou kon hê. Maar dit hoef nie so te wees nie. Kennis kan hoogs bevrydend wees. Daar is teoloë en Bybelwetenskaplikes wat waardevolle insigte oor die Bybel gegenereer het.

Waar loop dinge egter skeef en begin ‘n mens wonder oor die waarde van teologie? Miskien is dit goed om te onderskei tussen kennis en wysheid. ‘n Slim mens is nie altyd ‘n wyse mens nie. Die slim mense van Jesus se tyd was sy grootste vyande. Hulle was “skrifgeleerdes” wat nie van moord teruggeskrik het nie. Paulus, die slim Fariseër wat ‘n dissipel van die geleerde Gamaliël was, was, in sy eie woorde, ‘n vervolger en moordenaar van die gelowiges. Die mense wat vroue in hul kerke verneder en minderwaardig maak, die Jode-haters en die rassiste het dikwels hoë en slim argumente vir hul vernietigende leefstyl – en bied sulke argumente meestal as “Bybels” aan.

Dit lyk na oordrywing, maar kennis wat ter wille van kennis nagejaag word, kan destruktief wees. ‘n Mens kan so besig wees met ernstige gesprekke en teologie, dat groot stukke onreg om jou misgekyk word. ‘n Mens kan allerhande argumente oor die regte geloof uitwerk sonder dat die noodwendig ‘n duit verskil aan jou lewe maak. Eerder as om kennis argumentatief uit te werk, is die wyse mens die een wat in kontemplasie in God se teenwoordigheid leef, vir wie hul kennis eksistensiële gevolge inhou. Hulle wag op God. Dit is nie eintlik die kennis wat saak maak nie. Wat saak maak is of hierdie kennis tot wysheid lei, tot vrees van die Here. Gelowiges soek nie om sekere sake, temas, probleme of dwalinge te bekyk nie, maar herkou en bedink en mediteer oor wat God in die Bybel in wysheid aan mense bied. Hulle skryf nie allerhande slim dinge voor nie, maar soek om gehoorsaam te wees aan die goddelike wil.

Wat is die Heilige Gees van God se wil vir die mens en die skepping? Dit is soms baie moeilik om dit te verstaan en diepe nadenke is dikwels nodig. Paulus kon diepsinnig oor ‘n baie moeilike tema skryf - dink maar aan Romeine 9-11. Hierdie “slim” Fariseër wat vroeër mense vermoor het omdat hulle nie oor sy “waarhede” wou saamstem nie, word ‘n wyse mens wat in hierdie hoofstukke nadink oor die diepe eenheid tussen alle mense, Jode en heidene en oor God se eeue-lange getrouheid aan die goddelike beloftes . Paulus begin hierdie gedeelte in Romeine 8:37-39 met een van die aangrypendste uitsprake oor die bemagtigende liefde van God en hy sluit dit in Romeine 11:33-36 af met ‘n ewe aangrypende lofsang op die rykdom en wysheid en kennis va God! Mediterend en kontemplerend bedink hy die raadsplan van God en herkou hy aan die goddelike verborgenhede in die Skrif. Hier, in een van die moeilikste dele in die Nuwe Testament bring kennis nie twis en slimmigheid tot stand nie. Kennis trek vir Paulus hier in in ‘n ekstatiese belewing van God se verborge raadsplan – “Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees.” Hier val oratiwiteit en kontemplatiwiteit in die konteks van die verborgenhede van God saam.

Waar loop dinge skeef, sodat ons nader aan Paulus die Fariseër as Paulus die gestuurde getuie beland? ‘n Mens sou kon sê dit gebeur wanneer ons die geskiedenis van die Bybel ken, maar nie vir die God van die Bybel ervaar nie. Dit loop skeef wanneer ons die feite raaksien, maar God miskyk. Paulus het fanatiek aan die wet vasgehou, maar in die proses die Een wat liefdevol die wet geskenk het, veloor. Paulus was betrokke by die wet, intens betrokke, maar hy was nie meer in ‘n verhouding met God betrokke nie.

Spiritualiteit wil beklemtoon dat teologie nie ‘n onbetrokke gesprek oor God en God se dinge is nie. Spiritualiteit onderstreep dat die mens in ‘n verhouding met God leef. Dit is nie ‘n intellektuele, akademiese verhouding nie, maar ‘n geestelike vehouding. Wanneer ‘n mens oor God praat, praat ‘n mens met God en oor geestelike ervaringe van God. Ons bemeester nie die Bybel nie, maar, by wyse van spreke, die Bybel begeester ons. Deur die Bybel kom ons uit by die heilige plek waar God die Jabbokservaring bewerk. Schneiders praat van die teologie wat die noëtiese effek van die spirituele ervaring behoort te wees. Ons staan coram Deo, God raak ons aan, en in die teologie en die spirtiualiteit dink ons hieroor na. Ons bedink die aanraking van God, daardie mistieke ervaring, wat ons tot ‘n nuwe lewe omvorm. Schneiders gebruik ook iewers die begrip “ervaringskennis van God.”

Kennis is ‘n magtige instrument en iets wat ons ten alle koste moet najaag. Dit is gevaarlik wanneer mense anti-intellektueel word. Die Bybel onderstreep die spesiale rol van kennis gedurig. Maar kennis, skryf Paulus in sy oorrompelende lied in 1 Korintiërs 13, is niks, is waardeloos as dit nie liefde wek nie.

In Spiritualiteit word steeds weer beklemtoon dat liefde God se diepste dryfveer tot ‘n verhouding met die mens is. Wat tel is nie wat ons weet en so stellig beweer nie (1 Timoteus!), maar of ons in die liefde is en bly. En dit is, wat my betref, die rede waarom ons die Bybel lees. In die boek ontdek ons, ook deur ons versigtige historiese studie, die liefde. Ons herkou die Bybel as ‘n liefdesteks. Ons her”ken” daarin die grenslose liefdesaanraking van die Een wat volledig liefde is.

Daarom dink ek dat ‘n mens die Bybel net kan verstaan as jy dit in liefde lees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive