Friday, January 08, 2010

Oor 'n Spiritualiteit van Toewyding.

Daar is ‘n groot klomp nuwe dinge aan die ontwikkel in die kerk wat alles te doen het met nuwe vorme van spiritualiteit – of hoe ons ons verhouding met God “ervaar” en beleef.


Ons het Sondae “stilword-dienste” naas die “tradisionele” dienste. In gemeentes word retreats of afsonderingsgeleenthede ‘n gewilde gebruik. Kerke gebruik kuns in al groter mate – gebrandskilderde vensters, kanselklede met baie simboliese uitbeeldings en aankondigings/preke met illustrasies, skilderye, liedere en gedigte. Ons maak ook baie van die kleure van die kerklike jaar. Ons kry al hoe meer vertalings – ook in Afrikaans – van bekende en nuwe spiritualiteitswerke (Die Navolging van Christus van a Kempis en Henri Nouwen se werke) en gewone mense verslind dit.



Hierdie nuwe ervaringe is baie belangriker as wat ons besef. Dit is deel van ‘n verskynsel wat wêreldwyd voorkom en wat tipies is van ‘n nuwe tyd. Die ou vorme van godsdiens in die twintigste eeu is verby. Die dae van geleerde en heftige debatvoering en twiste is verby. Die tyd dat ‘n mens jou teenstanders kan verbrand op die brandstapel of kan verban uit die kerk is ook oor. Dit is nie meer tyd om godsdiens as 'n wapen teen ander te gebruik nie. Godsdiens kan nie meer die menslikheid van ander aantas nie.



Dit is nou ‘n tyd dat mense wil sien dat godsdiens verheffend is, dat dit mense een maak in plaas van verdeel, dat dit opoffer in plaas van jouself laat geld, dat godsdiens jou innerlike vrede gee in plaas van intellektuele prestasie, dat godsdiens die lelike besweer en die mooie veredel.
Dit is die tyd dat godsdiens die beste uit 'n mens haal.


Dit is ‘n vernuwing onder gewone mense wat Sondae in die kerk sit en nie meer wil hoor hoe sleg en dwalend mense is met wie jy nie saamstem nie. Dit is ook ‘n vernuwingsbeweging wat wil sien hoe godsdiens ‘n verskil maak in mense se lewens.


Waar dit nie gebeur nie, loop mense weg na plekke waar hulle dink dit wel gebeur. Maar dit is ook ‘n beweging wat duidelik in die teologie aan die werk is. Die dae van spistvondige slimmighede kom tot ‘n einde. Wat saak maak is nie meer die korrekte woord om die korrekte siening van God aan te bied nie.


Ons kry hierdie beweging ook in die kringe van die slimmes en die wyses. Nou wil teoloë ook in die eerste plek in hul skryfwerk en in hul nadenke eerder probeer om die beste maniere te vind om die belewenis van God se verborge werking in die wêreld in mense uit te beeld. Wat saak maak is nie in die eerste plek of ons reg is nie en of ons teologie suiwer nie, maar wat saak maak is of ons woorde God helende woorde is wat mense meer menslik maak en ons wêreld mooi maak. Waar dit gebeur dat mense genees word, vry word en ryk in die genade voel, daar weet mense woon die Gees en die waarheid. Dit is nie die “ware” teologie wat genees nie, maar dit is die helende teologie wat waar is.



Ons praat hier van ‘n Spiritualiteit van toewyding, of, in Engels, “devotional spirituality.” Mense het baie maniere om hul toewyding aan God te beleef.


Dit is goed dat hierdie dinge gebeur en dat ‘n mens in ons tyd na nuwe maniere soek, want ons toewyding aan God kan telkens weer nuut uitgebeeld word. Ons sien dit in die kuns waar mense steeds weer nuwe kunswerke oor godsdienstige motiewe maak. Een van die mooi, praktiese voorbeelde is die baie soorte kanselklede wat vandag op die kansels verskyn.



Maar dit alles beteken dat ons leef in ‘n tyd waarin godsdiens ‘n verskil in mense se lewens maak. Dit is aangrypend. Op die strate tydens kersfees as ‘n mens ‘n orkes kersliedere hoor speel, tydens Paasfees as mense ‘n passiespel opvoer, in die sitkamer waar Henri Nouwen se boek lê, in die slaapkamer waar ‘n kruis teen die muur hang, vind ons tekens van mense se toewyding aan God. Dit is die dinge wat hulle daaraan herinner dat hulle godsdiens oral sigbaar moet wees en 'n realiteit in hul lewens met wees.


Dit is opwindend. Die Here is aan die werk.



Ons het voorheen sulke tye in die geskiedenis gehad. Die dertiende en veertiende eeu, skryf Sheldrake in sy kort geskiedenis van Spiritualiteit, was so ‘n stadium gewees. Dit was die tyd waarin baie van die gebruike wat vandag nog geld, ontstaan het. Oral oor het die geestelike toewyding van priesters in die kloosters oorgeslaan in die huise van gewone gelowiges en op die strate van die stede. Godsdiens was nie meer die besit van die die professioneles, die hiërargie van priesters biskoppe , kardinale en pouse nie. Mense het begin lees en skryf. Dit het hulle bemagtig. Elke mens het nou begin verantwoordelikheid vir sy besluite en verhouding tot God neem. Gewone mense het die Skrif en die boodskap van heling vir hul toegeëien.



Maar, skryf Sheldrake, hierdie toewydingspiritualiteit is iewers ‘n teken van hoe mense die menslikheid van Christus herken en gevier het. Hulle het die kribtonele uitgebeeld om die inkarnasie te vier en optogte gehou om die lydenstog van Jesus te volg.


Vir my is daar egter nog iets diepers aan hierdie baie vorme van toewyding: wanneer mense die menslikheid van Christus vier en beleef, is dit uit verwondering dat God self hulle lewens as mense so hoog geag het deur volledig daaraan deel te kry in die lewe van Jesus. Om te dink dat God so naby aan ons kom! As dit swaar gaan, as ons wil moed opgee oor ons wêreld en oor mense, herinner ons ervaring van God in ons lewens ons daaraan dat ons nie kan moed opgee nie. Ons kan weer leer hoe om menslik te wees, hoe om helend met mekaar saam te leef, hoe om die kwaad in ons lewens te stop, hoe om eerlik te wees, getrou te leef, billik op te tree, menswaardig te reageer. Ons hoef nie oor te gee en te wanhoop dat mense anders as diere kan wees nie.



Ons leef toegewyd en ons ervaar met dankbaarheid dat God in ons klein wêreld en in ons eenvoudig bestaan ingekom het. Daarom wil ons heilig wees in ‘n plek waar ons heilig kan leef – ‘n plek waar God waardiglik in ons lewens kan regeer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive