Intussen is dinge nie eintlik naasteby so eenvoudig nie. Daar is selfs nog N.G.Kerke wat in ons tyd sowaar geboue van 70 miljoen rand bou omdat hulle so 'n klomp lidmate het en dit woel en werskaf in hulle N.G.Kerk. In ons dorpie staan die motors Sondae oor die hele plek geparkeer soos mense die plaaslike N.G.Kerk volsit – sommige Sondae sit hulle maklik vir 'n uur of twee geduldig en aaneen in die kerk. Hulle is duidelik tevrede met wat in die diens gebeur. En ‘n mens staan verstom oor die ongelooflike aktiewe bediening wat in hierdie gemeente aan die gang is. As ‘n mens nou oor hierdie gemeente sou praat en daaruit veralgemeen, sou ‘n mens maklik kan sê: die N.G. Kerk sit Sondae stampvol en mense gee hulle goed en bloed om die gemeentes aan die gang te hou.
Hieruit leer ‘n mens ‘n belangrike les. 'n Mens moet nie veralgemeen nie (behalwe dat 'n mens nie te gou moet oordeel nie). Ek lees vir die eerste keer in diepte verskeie artikels oor spiritualiteit in Duistland waarin hieroor geskryf word (sien S. Altmeyer, R Boschki,, J.Theis en J. Woppowa [redd]. Christliche Spiritualität, lehren, lernen und leben; V&R unipress, Bonn University Press, 2006). Die eerste artikel van Rudolf Englert (“Pliger auf verschiedenen Pfäden”) kyk so bietjie na godsdiens-tendense in ons tyd en veral na die komplekse en omvattende nuwe beweging van Spiritualiteit.
Die artikel het ‘n paar interessante opmerkings oor hierdie groeiende, lewende belangstelling in Spiritualiteit. Hy noem byvoorbeeld dat die groot en tog so gewilde teorie oor die sekularisering van die vorige eeu duidelik misluk het. Ons ken almal die verhaal van geleerdes wat met soveel vertroue die inkrimping, verlies van invloed en selfs die einde van veral die kerk, die Christendom en dus van die godsdiens voorspel het. Hierteenoor, skryf hy, praat navorsers deesdae al van die 21e eeu as die eeu van godsdiens! En sommige beweer dat ten spyte van die teorie in die verlede dat godsdiens aan die uitsterf is en dat sekularisering onvermydelik is, daar nou navorsers is wat beweer dat die Christendom juis besig is om ‘n terugkeer te maak.
Maar waarsku hy, ons moet maar hieroor versigtig wees. Sulke teorieë kan dieselfde lot ondergaan as die sekulariseringsteorie. Oor ‘n paar jaar word hulle ook maar weer in die asblik gesmyt. Daarom moet 'n mens maar met nederigheid (my woorde) en met terughoudendheid eerder oor spesifieke dinge praat as om te groot op te gee met veralgmenende teorieë.
Origens wys hy uit dat baie van die teorieë en veronderstelde tendense oor godsdiens op hoogs selektiewe materiaal berus. Wat mense so stellig en seker daaroor beweer is iewers die gevolge van iemand se individuele siening oor 'n klein verskynsel. 'n Mens moet dus ook nie te gou een mens se siening veralgmeen nie. Iewers, skryf hy, sal ‘n joernalis of ‘n skrywer byvoorbeeld oor ‘n sekere verskynsel praat. Dit word gelees, bespreek en kry spoedig soveel aandag dat mense van ‘n tendens praat. Op die manier word sekere plaaslike verskynsels ten onregte voorgestel as universele tendense. Wanneer ons dus oor spiritualiteit praat, moet ons versigtig wees: spiritualiteit en godsdiens is hoogs komplekse sake. Daar is vele vorme van spiritualiteit wat baie van mekaar veskil in die baie kontekste en groepe waarin hulle voorkom.
Nietemin wil Englert oor spiritualiteit veral drie tendense uitspel en tog 'n algemene teorie opper wat hy dink vir die verskillende groepe geld:
1. In ‘n hoogs interessante deel skryf hy heel eerstens hoe mense aan die soeke is na die “transfunksionele.” Met kersfees, skryf hy, vier ‘n ieder en ‘n elk, Jood, Moor en Mohammedaan lustig die kerstyd saam, of hulle nou Christene is of nie, of hulle nou kerkmense is of nie. Almal sit liggies op en gee hope geskenke weg. Anders as wat mense dink, is dit nie kommersialisering van kersfees nie, maar ‘n poging van mense om die liefde te gee wat hulle dink in ons wêreld ontbreek. Hulle spandeer hope geld om te koop wat nie met geld gekoop kan word nie! Mense spandeer so hewig want hulle weet te goed geld is nie alles nie. Geld het ‘n nuttige funksie – dis waar, skryf hy – maar mense kyk verby die funksie van geld na dit wat ‘n hoër, dieper en belangriker funksie het – die transfunksionele. Dit sluit in familie, liefde, vrede, ‘n tuiste, geborgenheid, bymekaar-wees. Dit is wat mense wil gee deur hul presente. Sommige navorsers skryf daarom ook dat die moderne Christendom is ‘n Christendom van die krib. Mense pak die kerke dan vol. En in die proses skuif die aksent weg van die ouere Christendom van die kruis. Oor die hele wêreld heen is dit merkwaardig hoedat mense uit baie verskillende godsdienste juis kersfees as ‘n tyd van welwillendheid vier. Kersfees verenig mense soos min ander dinge. En dit is dan die Spiritualiteit: mense is op soek na die diepere dinge wat bo geld uitstyg – al moet hulle geld uitgee om dit te vind. Mense wat in ‘n wêreld leef waarin hulle nie meer tuis is nie, hoe ryk hulle nou ook al is en hoe gerieflik hulle ook al lewe, soek en verlang en jaag na ‘n geestelike tuiste. Hulle het 'n diepe geestelike behoefte om hul koue omgewing te omvorm en anders te beleef. Englert sluit hierdie deel met ‘n paar kritiese vrae af. Een daarvan is: ons kan nie die krib ten koste van die kruis beklemtoon nie. Maar as ons oor die kruis nadink, is die vraag of ons in hierdie nadenke rekening hou met die mensdom se diepe verlange na ‘n tuiste. Kan ons die evangelie van die kruis só nuut verstaan dat mense van die krib ook mense van die kruis kan word?
2. Englert wys ook ‘n tweede tendens uit: ons merk al hoe meer dat mense nie meer soseer na ‘n “ander” wêreld, die wêreld anderkant die dood, soek nie. Die “groot” transendensie het verdwyn. Mense verlang nie meer soseer na dit wat “anderkant” ons wêreld gevind sal word nie. Ons het nou die “kleiner” transendensie. Die innerlike verlange, die spiritualiteit van ons tyd, is ‘n verlange na ‘n wêreld wat eg is, goed is, ‘n tuiste bied – hier en nou. Nie ons bestaan na die dood nie, maar al die klein, wonderlike oomblikke waarin ons lewe vir ons die moeite werd word en ons geluk vind, is wat werklik saak maak. Ons moet God in hierdie wêreld ontdek. Deur dieper te kyk, sal ons vind dat hierdie wêreld tog “anders” lyk as die slegte, onvriendelike en ontoeganklike wêreld wat ons meestal raaksien. Vir Englert is die uitdaging dat ons sal moet nadink of hierdie nuwe spiritualiteit nie vir ons in werklikheid help om te besef, in die woorde van Jesus, dat God nie ‘n God van die dooies is nie, maar van die Lewendes. Ons het miskien te dikwels hierdie wêreld opgegee en geweier om God in die Verborgene van die alledaagse lewe raak te sien. Waar mense ook al vandag geestelik nadink, sien ons hierdie grondtendens: hulle is lank nie meer net pelgrims na die ewigheid (Bunyan!) nie. As hulle wel nog enigsins "pelgrims" na 'n ander plek is, is hulle pelgrims in hierdie wêreld wat soek om God in hierdie skyn-wêreld in 'n egte wêreld te vind en te dien. “Wêreldvroomheid” skryf Englert, kom in moderne spiritualiteit in die plek van die tradisionele “Hemelvroomheid.” Kleiner transendensie vervang die groter transendensie. Dit alles daag ons op ‘n besondere manier uit om te vra of sulke spiritualiteit nog te rym is met die ou geloofstradisies waarin die verlange na die komende heerlikheid by God so ‘n groot rol gespeel het. Vir my mag die twee nie teenoor mekaar gestel word nie. Terwyl ek hou van die manier waarop ons hierdie wêreld terug opeis vir God, voel dit vir my asof ons ‘n heel beperkte en wanfunksionele beeld van God het as ons God se teenwoordigheid meestal net soek in hierdie wêreld. Dit is te arm. En hierdie wêreld is te klein daarvoor.
3. In ‘n laaste gedeelte skryf Englert hoedat alle spiritualiteite deesdae soek om mistiek en rede te versoen. Mense wil nie meer die wêreld aleen maar in terme van die rasionele verklaar nie. Die tye dat ons deur ons breine alleen geregeer is, is verby. Daar is ‘n diepe verlange om sin te vind, om een te word met God wat nie deur ons verstaan, ons insig en ons intellek gedikteer en bepaal kan word nie. In spiritualiteit fokus mense op ervaring. Dikwels kan mense nie juis verduidelik wat hulle onder “ervaring” bedoel nie. Hulle kan dit nie netjies uitlê nie en hulle wil dit ook nie doen nie. Hulle wil bloot net in die teenwoordigheid van God wees, hulle wil ‘n sinneverrukking ervaar, ‘n mistieke belewenis kry. Godsdiens word gesoek – nie omdat mense daardeur beter verstaan nie (soos in die ou dae gedink is nie). Godsdiens word gesoek omdat mense in godsdiens transformatiewe ervaringe vind. Daarmee word mense nou nie minder rasioneel of intellektueel nie. Hulle bly verstandige mense wat nadink oor die lewe. Maar hulle kombineer sonder enige probleme hul mstieke oomblikke met hulle verstandige, intellektuele dinge. ‘n Ingenieur, argitek, dokter, skoolhoof wat ‘n paar dekades gelede nog sou sê dat ‘n mens maar nie te maklik “oorboord” moet gaan nie en dat jy jou godsdiens altyd “verstandig” moet hou, sal deesdae, in spirituele kringe, sonder skroom spesiale godsdienstige ervaringe soek.
Ek leer deur hierdie nuwe Duitse artikel interessante dinge oor hoe ‘n Duitse wetenskaplike spiritualiteit as ‘n wêreldwye veskynsel sien. En dit help my om ‘n paar dinge te begryp. Ek sal graag dieper en meer hieroor wil nadink, veral in terme van ons Suid-Afrikaanss konteks.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.