Tuesday, January 05, 2010

Wanneer ons bid.... Gebed as ‘n openbaring van God se teenwoordigheid

Wanneer ons in ons gebede op God reageer, ervaar ons ‘n verborge geheimenis. En in hierdie verborge geheimenis gebeur iets spesiaals. Ons kan die Bybel van hoek tot kant deurlees en alles daarvan weet, ons kan aanmekaar bid, sonder ophou, maar ons kan steeds nog soekende wees na God en onbewus van God se teenwoordigheid in ons lewe wees.

Maar dan gebeur daar op ‘n dag iets met ons wat die Verborge betekenis van die Bybel tot ons laat deurdring. Ons word ingetrek in dit wat die Bybel so omvattend teken en uitbeeld. Ewe skielik, as ‘n gawe, onverwags, uit genade, oorval die wete ons dat God ons liefhet. Ons is God se “geliefdes” – mense wat deur God bemin word. God se transformatiewe liefde deurdring ons soos vuur in ‘n yster intrek en dit gloedwarm maak. Hoe dit gebeur sal ons nie weet nie. Dit is ‘n mistieke oomblik wat aan ons geskenk word. Ons “ervaar” dit.

Ons kan hierdie oomblikke nie “bewerk”, “verdien” of “afdwing” nie.

Ons “bid”. Maar in hierdie menslike gebed word ‘n verborgenheid onthul wanneer ons gebed ‘n toelating is van God se liefde in ons lewens. Ons stel ons oop vir die branding van God se liefde in ons. En deur God se liefde te omhels, word God ‘n werklikheid en ‘n teenwoordigheid in ons lewe.

In gebed, dus, stel ons ons oop vir die gloedwarm liefdesverhouding. Om dit te verduidelik, het mistici soos Franz Rosenzweig veral Hooglied as illustrasie gebruik. Hierdie teks vertel van ‘n bruid wat in die liefde van haar Minnaar die hoogste vervulling vind. ‘n Mens wat op God ingestel is en in ‘n verhouding met God leef, ontvang dus God se liefde en ervaar dit. Die gelowige ervaar dat hy of sy bemin word. Hy of sy is as die bruid, soos in Hooglied, die Minnaar se Geliefde aan wie hy sy liefde onvoorwaardelik uitdeel.

Gelowig sien ‘n mens nou uit na die liefde wat God uitdeel. Jy weet dat God by herhaling die liefde deel in ‘n daad van self-prysgawe en opoffering. Net God gee, soos die Minnaar wat eindeloos aan sy bruid passievol liefde gee en bly gee aan die een wat biddend daarop wag. Soos die bruid ontvang ‘n mens hierdie liefde en sien uit daarna as ‘n teenwoordigheid in jou lewe.

Daar is dus ‘n verhouding tussen ‘n God wat lief het en ‘n mens wat bemin word. Deur toe te laat dat ‘n mens bemin word en deur God se liefde in jou lewe in te laat en te ontvang, antwoord en reageer ‘n mens op die liefdesverhouding wat God aanknoop. Maar dit is nie ‘n bydrae van jou kant af nie. Jy “gee” deur hierdie liefde te “ontvang.”

Dit is dus ‘n verhouding waarin “gegee” word en waarin “ontvang” word. Wat ‘n mens van jou menslike kant af gee in antwoord op God se liefdesgawe is nie ‘n daad of ‘n aksie van ‘n mens se kant af nie. Jy “doen” niks nie. ‘n Mens laat eintlik net toe dat jy bemin word. ‘n Mens kan niks meer doen as om jouself oor te gee aan God se liefde nie! Daarmee bevestig ‘n mens God se liefde. Deur dit toe te laat en jou daaraan oor te gee, vertel jy en getuig jy dat daar ‘n liefde in jou lewe aan die werk is. Jy hoef niks te doen nie. Jy hoef nie te presteer nie. Jy “gee” in reaksie deur God se liefde te “aanvaar.”

Dit beteken nou glad nie dat ‘n mens bloot passief is nie. Wanneer ‘n mens God se liefde vir jouself toeëien, kom daar ‘n krag in jou lewe los. Dan werk iets magtigs en sterks in jou. Want die aanvaarding van God se liefde roep by jou ‘n biddende hartskreet los: ‘n mens roep uit, “ja, Here. U liefde is myne.”

Daar gebeur iets met jou wat andersins nooit in jou lewe voorkom nie. Jy vier in jou toelating van die liefde, ‘n liefde wat jy andersins nooit in jouself kon vind of gehad het nie. Jy bevestig dat daar nou in jou lewe iets is wat jy nooit voorheen in jouself aangetref het nie. Jy vind vertroue in iets durends en standvastig wat jy nooit tevore in jouself ontdek het nie.

Deur hierdie liefde te bevestig vir jou lewe, bevestig jy dat God bestaan en dat God ‘n werklikheid in jou lewe is. Die mistieke hieraan is dit: God se liefde is ‘n weggee-liefde. God samel nie ons liefde in nie en reageer nie eers op ons as ons God liefgehad het nie. God “gee” vir ons goddelike liefde, eindeloos, gedurig, aanhoudend, onophoudelik. God gee weg. En ons aanvaar God se self-gewende, self-opofferende liefde.

Met ander woorde – deur God se liefde te aanvaar, deur jou oop te stel vir die liefde word God ‘n ewige teenwoordigheid in jou lewe.

Dit is egte liefde. ‘n Mens hoef nie te presteer voordat hierdie liefde na jou kant toe kom nie. Jy hoef ook nie te bewys dat jy die liefde werd is nie. Dit is soos die Vader wat die Verlore Seun gaan haal en oorlaai met soene. Ons hoor nooit weer iets van die Verlore Seun nie. Sy storie het tot ‘n einde gekom. Hy is nou in die Vader se liefde. Hy bied nie aan om vir sy pa te werk om eers die liefde te verdien nie. Hy is by die huis en hy baai in sy pa se ewige, oorweldigende liefde. Dit is genoeg. Sy lewe word nou ‘n lewe in liefde. Daarmee kom sy lewe tot vervulling.

Wanneer ons die liefde wat God gee, aanvaar, bevestig ons God as ‘n Minnaar in ons lewens. Die liefde wat God vir my weggegee het en wat nou myne gemaak is, maak God tot die Een wat my lief het, wat my lewe vul, wat vir my alles is. Hierdie aanvaarde liefde roep by ons ‘n vertroue in God as ons Minnaar los. Ons roep uit tot God, ons bly by God, ons hoort by God omdat ons hierdie liefde in ons lewe ontdek het. Dit is die wonderwerk: die feit dat ons van God se liefde getuig is ‘n teken dat God ewig in ons woon en dat God God is.

Ons kan alleen God se teenwoordigheid in ons lewens ervaar en erken wanneer ons God se liefde in ons toelaat. Om God se liefde toe te laat in ‘n mens se lewe, is ‘n teken dat God aan die werk is en dat God in ‘n mens se lewe teenwoordig is.

Dus: in die mistiek gaan die om ‘n verlange om liefde te ontvang en om te gee.

Nog dieper: God word geopenbaar in die liefde wat vir ons gegee word. Maar dit is 'n verborge liefde - niemand kan dit vir ons verduidelik, bewys of gee nie. Dit is 'n liefde wat ons ontdek net as ons ons oopstel daarvoor. 'n Mens ontvang dit alleen binne 'n intieme verhouding met God. Alleen maar in die U-ek verhouding (Buber) ontdek ons die goddelike liefde.

(n.a.v. Waaijman 763-4).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive