Saturday, January 23, 2010

Inoefening in die geestelike reis. Oor die belangrike rol van geestelike begeleiding.

Nou onlangs kom kuier een van my oud-studente wat sy proefskrif by my geskryf het vir my. Hy kom uit ‘n toegewyde predikante-familie wat met opoffering oor jare heen merkwaardige werk gedoen het. Vandag is hy in ‘n sleutel-posisie waarin hy verantwoordelik is vir die toelatingsprosedure van predikante tot die bediening. Hulle kyk noukeurig na elke student se persoonlikheid, gawes en geestelike volwassenheid. Hulle huiwer nie om studente aan te raai om, sê hy, ook vir hulle eie ontwil, eerder hulle geestelike gawes in ander posisies te gaan gebruik as dit blyk dat studente nie gereed is vir die bediening nie. Die kerk waaraan hy behoort besef tereg hoe die kwaliteit mense in geestelike leiersposisies die lewe van die kerk beslissend kan bepaal. Daarom is daar by hulle ‘n sterk klem op geestelike begeleiding en onderstreep hulle die belangrike rol van mistagogie. Gelowiges het mekaar nodig wanneer hulle ‘n bepaalde geestelike reis wil begin.

Mistagogie was reeds vanaf die vroegste tye ‘n sleutelfunksie onder die eerste gelowiges. Die duidelikste voorbeeld is Jesus se roeping van dissipels. Hulle het Jesus oor maande lank gevolg om van hom geestelike leierskap en volwassenheid te leer. Van hom het hulle gehoor watter geestelike reis hulle sal loop (bv. Matteus 10). En in Handelinge 1 meet hierdie dissipels op hulle beurt hul mede-dissipels aan sekere maatstawwe voordat hulle hul geledere versterk na Judas se dood. Hulle neem verantwoordelik¬heid vir die geestelike reis wat hulle met mekaar en ander moet loop.

Die doel hiervan is duidelik: Geestelike leiers is mense wie se eie lewe die beeld en die vingerafdruk van God dra waardeur hulle ander se reis met God beïnvloed. Mede-gelowiges sien hulle en herken God se beeld in hulle lewens. Hulle “praat” nie bloot met gesag oor God nie – hulle leef met gesag. Geestelike leiers ( die predikant, die dienswerker, die voorsitter, die kategeet, die Bybelstudie-leier, die jeugwerker) skep dus met hul lewens ‘n sfeer van goedheid wat mense aantrek en inspireer om ook die geestelik reis te soek. Ons kan verder van mekaar leer waar God ons op ons geestelike reis wil neem.

Hieraan dink ek toe ek In die Duitse Spiritualiteitsbundel (sien vorige blog) die tweede artikel van Ernst Dassmann (kerkhistorikus en patroloog van Bonn) oor die geestelike leerproses in die vroeg-monastieke tyd lees. Die titel van die artikel is mooi: “Vater, gib mir ein Wort... Geistliches Lernen in frühmonastischer Zeit” – “Vader, spreek tot my ‘n woord. Oor die geestelike leerproses in die vroeg-monastieke tyd. Dit is ‘n historiese stuk werk oor die eerste fase van die groot beweging in die tyd van die kerkvaders toe monnikke begin het om in afsondering te leef.

‘n Mens kon in die antieke nie sommer maar net ‘n monnik word nie. Anders as wat vandag soms gebeur, skryf jy nie in vir ‘n teologie-graad en word dan deur die kerk as predikant gekeur en toegelaat nie. Jy is nie beoordeel as ‘n goeie kandidaat in terme van jou intelligensie of jou prestasies nie. In daardie tyd is iemand mistagogies begelei, veral waar iemand wou deel word van ‘n gemeenskap wat in afsondering geleef het. Hierdie gemeenskappe het besef dat nie almal die geestelike gawes het om die moeilike pad van asfsondering te loop nie en hulle het daarom verantwoordelikheid geneem om mense te help vasstel of dit werklik deel is van hulle geestelike reis om monnikke te word. Wat vir hulle dus getel het is of iemand die geestelike instelling en lewenswyse van die orde kon uitleef.

Dit alles het beteken dat iemand eers vir ‘n proef-tydperk van inoefening in die geestelike lewe aangemeld het om voorberei te word vir ‘n moontlike aanvaarding as monnik. Die tyd van inoefening is die novisiaat, of nuwelingstyd. Dit is byvoorbeeld interessant dat die bekende Thomas Merton afgewys is deur die eerste orde waavan hy wou lid word – hulle wou hom nie eers as novisiaat aanvaar nie. Eers daarna het hy tot die Trappiste-orde toelating gekry.

Hierdie mistogogiese proses was vir die novisiaat in antieke tye self ook van groot belang en hulle het hulleself ten volle daaraan oorgegee. In hierdie tyd het nuwelinge wat ‘n lewe van afsondering wou lei, na bekende geestelike figure gegaan, by so ‘n persoon gebly en van hom geestelike begeleiding ontvang totdat die persoon sterk genoeg gevoel het om die anagoretiese lewe van totale afsondering op sy of haar eie of in ‘n hermiete-gemeenskap te gaan lei. Die “geestelike vader” het hier nog nie enige formele gesag gehad soos in latere tye nie.

In die Duitse artikel verwys die skrywer, Dassmann, na ‘n boeiende uitspraak van die bekende monnikke-vader, Antonius, wat in die bekende teks van Athanasius se Vita aangehaal word. Athanasius skryf hoe hy as nuweling met verwondering die verskillende gawes van die hermiete by wie hy oor geestelike groei gaan leer het, opgemerk het:

By hierdie een het hy vriendelikheid opgetel en raakgesien, by ‘n ander gebedsywer. In hierdie een merk hy ‘n rustigheid, by daardie een ‘n menslikheid. By die een ontdek hy waaksaamheid, by die volgende een ‘n leergierigheid. Hy bewonder een vir sy standvastigheid, daardie een vir sy vas-gewoontes en dat hy op die kale grond geslaap het. Iemand anders weer herken hy as ‘n sagte mens, by ‘n volgende een is daar ‘n groothartigheid. Vervuld deur al hierdie ervarings, het hy toe tot sy eie plek van afsondering teruggegaan (Vita Antonii 4).

As ek dit lees besef ek dat geestelike volwassenheid kom tot die gelowiges wat weet hoeveel geestelike hulp hulle nodig het en wat dit gaan soek van mense wat reeds verder as hulle op die geloofsreis gestap het. Vandag sal ons van ‘n “mentor” praat wat ‘n onervare persoon vir raad en ondersteuning doelbewus opsoek.

Die doel van mistagoge was gedeeltelik om iemand te help om te besin oor sy of haar innerlike betrokkenheid by hul geloof, om iemand te help insien of hy of sy die gawes het wat vir ‘n bepaalde geestelike reis nodig is of om iemand te help inoefen in die volheid van die geestelike lewe. ‘n Mens leer by ‘n geestelike begeleier dalk byvoorbeeld wat jou spesiale gawes is, maar jy kan ook ervaar hoe ander gawes jou lewe kan verryk. Antonius het in elkeeen van die geestelike leiers iets aantrekliks gesien wat hy vir sy eie lewe begeer het en waarin hy hom wou inoefen. Dit alles beteken dat ons ons moet “inoefen in spiritualiteit,” soos Dassmann skryf van die novisiate (“Einübung in die monastische Spiritualität”). Ons soek, ook deur te let op die lewe van ons voorgangers en mede-gelowiges, die “vrug” van die Gees in sy volheid van verskeidenheid – vriendelikheid, gebedsywer, rustigheid, menslikheid, sagtheid, ruimhartigheid en baie ander wat deel is van die sfeer van goedheid waarin ons ons geestelike reis moet voortsit.

Die mistagogie kan maklik ontaard. ‘n Geestelike begeleier is nie ‘n baas wat bevele uitreik nie, hoewel hy of sy altyd eerlik en openlik sal wees. ‘n Mistagoog is die afrigter en die breier deur wie die beste in jou uitkom. Hy of sy is die een wat jou help in die harde inoefening. Ons almal weet hoe beslissend ‘n goeie kaptein of breier vir ‘n span kan wees. ‘n Mislukte groep kan ‘n wenspan word as daar iemand aan boord kom wat weet hoe om die beste uit hulle te haal. Die mistagogie moet so wees. ‘n Breier wat sy sout werd is, sal sy of haar span tot in die fynste detail inoefen. Hy bring hulp-breiers, fisioterapeute, sportsielkundiges, administrateurs en net die beste hulpkragte in. Alles gaan om optimale inoefening. Hoe meer gefokusd en gedetailleerd die inoefening, hoe geslaagder is die uitkomste.

Dassmann begin sy artikel so: “Je ausgeprägter die Spiritualität einer Gruppe ist, umso sorgfältiger muss sie gelehrt und eingeübt werden.” En ons weet hoe waar dit van die praktyk is. ‘n Protestant sal nie sommer net kan inval by ‘n Rooms-Katolieke mis nie. Hy of sy sal baie van die fynere aspekte totaal misverstaan. Of: iemand wat ‘n Christen word, soos ons maar weet uit Paulus se briewe, moet ‘n hele nuwe en uitgebreide leerskool ervaar. Waar dit nie gebeur nie, sal hy of sy dikwels uitsak en agterbly. Juis daarom is die mistagogie belangrik: om deel te bly van die geloofsgemeenskap is dit nodig dat ons ons gedurig inoefen in die geestelike aspekte van daardie gemeenskap. Hoe meer ons dit doen, hoe vervullender sal ons geestelike reis wees.

Wanneer ‘n kerk of ‘n geestelike groep nuwelinge opneem in hulle geledere wat net so ‘n vae idee het waarom dit in hulle geestelike lewe gaan, sal die geestelike lewe in daardie groep flou en afgewater wees. Daar waar ‘n geestelike gemeenskap hulleself diep ingrawe om op baie maniere God se liefde, genade en verwagtinge vir hulle in te oefen en uit te leef, brand hulle geestelike vuur hoog. Juis daarom het ons mense nodig wat heiliger lewe, wat met groter toewyding op God wag, sodat hulle saam met die wat nog jonk in die geestelike lewe is, die geestelike lewe met inspanning kan aflê en sodoende volledige vrede en vervulling kan vind.

Dit is die atleet wat hard oefen, wat ure in die arena deurbring, wat die skare meesleur in verwondering oor sy of haar wedloop. Heel dikwels weet die skare ook dat daardie atleet sy prestasies te danke het aan iemand wat met groot geduld en ondersteuning lang tye met hom of haar in afrigting deurgebring het. “Let op mekaar,” het Paulus geskryf en mense aangespoor om, soos Christus, hulle onderlinge geestelike verantwoordelikheid teenoor mekaar na te kom. ‘n Geloofsgemeenskap wat ryk is aan mistagoge is ‘n gemeenskap wat vreugde vind in geestelike inoefening en dus ryk is aan krag.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive