Dit is ‘n ou boodskap hierdie: dit is dikwels juis gelowiges wat deur hul vroomheid die grootste skade aanrig.
Deur die eeue het die geestelike wyses daarom uitgewys dat die geestelike reis ‘n proses is. Die verhouding met God moet gedurigdeur verdiep word. Paulus het daarom gepraat van “vleeslike” mense wat nog op ‘n melkdieet is (1 Kor.3:1-3) en dus nie geestelike volwasse raak nie. ‘n Mens kry ‘n kinderagtige, onvolwasse en skadelike vroomheid wat ‘n gemeenskap uitmekaar kan ruk – soos in Korinte gebeur het. As God ‘n verhouding met die mens aanknoop, impliseer dit ‘n verlange om toenemend en in alle opsigte as ‘n dissipel van God te leef, wat ook al die eise en uitdagings van die geestelike reis is.
Dissipelskap is ‘n sleutel-motief in Spiritualiteit.
Heel eenvoudig kan ‘n mens dissipel alleen wees deur in God se teenwoordigheid te bly. God gee rigting op die geestelike reis van dissipelskap deur die wyse woorde van geestelike leiers oor eeue heen. Wat hulle oor hul geloof skryf en wat as “Bybel” vir ons bewaar is deur latere geslagte, word vir ons die “lamp” vir die pad – soos die Psalmdigter dit digterlik uitgedruk het. In hulle wyse woorde sien ons hoe hulle God se teenwoordigheid in hulle lewens ervaar het.
‘n Dissipel waak en bid, soekende na God in ‘n ruimte van heiligheid. Paulus het tydens ‘n groot krisis in sy lewe toe mense gedink het hy verloën God se wil, vir sewe dae lank gesoek om “gereinig” te word in die Jerusalem-tempel waar hy met vier ander ‘n ritueel uitgevoer het wat onder andere beteken het dat hulle hul koppe afgeskeer het (Hand.21:17-26). Dus: drie dae lank het hy hom afgesonder in God se heilige plek en ‘n eeue-oue ritueel beleef. Hy het meegemaak hoe vier mense hul hare laat afskeer het en dus hulself beskikbaar gestel het vir reiniging. Hy wat gepreek het dat God deur Christus en nie die wet nie, mense heel maak, moes op hierdie stadium van sy lewe besef dat dinge nie so eenvoudig is nie. Hy moes leer en volwasse genoeg raak om te besef dat ook die wet op een of ander manier nog goed is, al is Christus die enigste naam... Hy het meer volwasse geword. Hy het God se wil beter begryp. En hy het in die proses sy verhouding met die Jode opnuut bekyk en vernuwe.
Godsdienstige mense, Paulus inkluis, is lerende dissipels wat op ‘n sleutel-oomblik bereid is om stil te word met die vraag na God se wil vir hulle lewens en wat bereid is om hulself weer te ondersoek vir dinge wat hulle verhouding met God belas en skade aandoen. Dit is egte dissipelskap – om dieper te groei in ‘n mens se verhouding met God deur in God se teenwoordigheid jou eie wil prys te gee en God se heerlikheid te soek.
Daar is nog heelwat ander aspekte van dissipelskap.
‘n Lewe van dissipelskap kan soms wreed eenvoudig wees. Vir Jesus het dit beteken dat ‘n mens al die dinge wat andersins so belangrik in jou dagboekie uitstaan, met ‘n kritiese oog moet bekyk. Laat dit maar los wanneer die geloofsreis dit vra. God kan nie geskenke van genade uitdeel aan die hand wat krampagtig vashou aan aardse, verganklike dinge nie. Dissipelskap is, soos so baie mistici dit onderstreep, begin as ‘n heel eenvoudige lewe voor God, sonder fieterjassies en daaglikse gekarring. Wie vrede wil vind, sal dit binne-in hom- of haarself ontdek, daar waar ‘n mens se wil in volledige harmonie met God se wil vir jou lewe is. ‘n Hiper-aktiewe mens, innerlik arm, word ‘n egte dissipel wanneer hy of sy weet dat die dinge van God altyd eerste kom.
So eenvoudig as wat hierdie boodskap is, so eenvoudig is die manier waarop ons op God wag. Ons wag op God in alleenheid sodat God kans kry om te praat. God woon in die stilte. Daarom is die tyd van ons afspraak met God, ‘n “stilte-tyd”. Dit is die tye van rus, van heel-word, van genesing en van innerlike vervulling. ‘n Mens kan nie ‘n dissipel van God wees as ‘n mens nie alleen tyd met God deurbring nie.
Hiermee is dissipelskap al vol betekenis gelaai, want dit impliseer dat ‘n mens nie jou eie god is nie. As dissipel is die mens se lewe gerig op God en op wat God vra. Dit beteken dood”eenvoudig” dan dat ons daarna soek om die minste te wees. Die dissipel wag op God, maar word deur God ryk van genade teenoor ander gemaak. Dit maak moeg om gedurig vir ‘n plek in die son te baklei. Maar min dinge maak ‘n mens innerlik so ryk soos die gevoel dat ‘n mens ‘n verskil in ander se lewens maak. Rykheid, sê Jesus, lê in wat jy gee, nie in wat jy insamel nie. Dissipelskap vind sy krag in die leef vir die Ander. Soms, na ‘n tydjie van harde, harde werk om vir ander te gee, sit ‘n mens doodmoeg terug, maar tog vol innerlike krag. Ek het my moeg gewerk, maar ek sal dit nog baie kere kan doen.
Maar te dikwels word ons weer dissipels wat niks anders as maar net nog ‘n klomp aktiviste is nie. Dissipelskap is nie net om iets vir ander te wees of te doen nie. Die geloofsreis beteken dat ‘n mens die pad in die teenwoordigheid van God saam met ander stap. Daarom is die gemeenskap van die heiliges so belangrik. Die korporatiewe element is wesenlik vir dissipelskap: om saam met ander te aanbid, te bely of om sommer net saam met ander vir God te verheerlik. Niemand kan sonder die ondersteuning van ander die geloofsreis aanpak nie. Maar die ondersteuning is veral te vind in die manier waarop gelowiges saam met mekaar in die teenwoordigheid van God leef en aanbid. Wat tel is nie soseeer of ons daar is vir mekaar nie, so belangrik soos wat dit ook al mag wees. Kragtiger is dat ons saam by God kan wees.
Dikwels, baie dikwels, stap ons uit só ‘n tyd van saam-wees met ander by God en wéét ons – ons het nuwe moed, nuwe krag, ons het ‘n paar treë vorentoe geneem op die weg van ons geloof.
‘n Mens kan vroom wees sonder om ‘n dissipel van God te wees. Die vraag is nie of ‘n mens vroom is nie. Die vraag is na watter soort vroomheid ‘n mens strewe. Dit is nie verniet dat ons dikwels praat van die krag van die Heilige Gees wat in die geloofsreis duidelik moet blyk nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.