Sunday, January 17, 2010

Wie gaan ooit dieselfde na ‘n wit skoenlapper kyk?

In vandag se Rapport vertaal Henning Pieterse, die bekroonde digter, ‘n boeiende gedig van Wislawa Szymborska en lewer dan kommentaar daarop.


Die gedig praat oor ‘n interessante verskynsel: Net soos in godsdiens en in die kerk, deel ons ons lewe in “belangrike” en “onbelangike” komponente in. Belangrike dinge, redeneer ons dan, is die “buitengewone,” die “bonatuurlike,” die “wonders” en onbelangrike dinge is om te gaan werk, skool toe te gaan, in jou tuin te wees of motor te bestuur of jou kos te eet, of sulke alledaagse, “normale” dinge.

In die gedig van Szymborska word hierdie houding van ons bietjie nader bekyk. Dit is ‘n gedig wat ‘n mens se kop nog eens met ‘n belangrike, ou insig wil swaai: Die “gewone” dinge kan net so transformatief as die buite-gewone wees.

Hierdie gedig het nie eintlik ‘n aardskuddende insig nie. Maar die boodskap word tog baie spesiaal uitgebeeld. Ek dink ook die gedig kry nogal op sy manier reg om ons iets te laat verstaan wat ons maklik kan oorslaan en verbyleef.

Die gedig beklemtoon vir my naamlik dat 'n mens slegs die eenvoudige dinge sinvol gaan beleef as jy jouself oopstel. Ons kan met oop o ë blind deur die lewe gaan. Die gedig wil die leser "bewus" maak van hoe "blind" ons eintlik is en ons bring om werklik die diepere dinge "raak" te sien.

Dit is ook wat in Spiritualiteit gebeur. Anders as wat dikwels in teologiese werke gebeur met allerhande redeneringe en argumente, beklemtoon Spiritualiteit dat 'n mens slegs die lewe sinvol sal vind as jy deel word daarvan - en jy word deel daarvan deur jouself oop te stel en oor te gee daaraan. In godsdiens dink mense altyd aan die mistieke as ‘n ekstatiese, bo-natuurlike gebeurtenis. Maar die gedig het 'n boodskap wat veral oor godsdiens waar is, naamlik dat mistiek juis in ons alledaagse lewe na vore kom. ‘n Mens kan onder ‘n boom sit op ‘n sonnige dag, soos in hierdie gedig, en ‘n aardskuddende, mistieke gebeurtenis kan jou oorval op ‘n doodnormale manier.

Die gedig help my om Spiritualiteit beter te verstaan. As ek die gedig lees, ontdek ek daarin geestelike dimensies wat my aanspreek, veral as ek die gedig vanuit Spiritualiteit as die bewustelike (“noëtiese”!) nadenke oor transformasie lees.

Net eers die kwessie van die wonder wat ons in die alledaagse dinge kan ontdek. Dit herinner my aan die ou klassieke asketiese ideaal: monnike wat in die woestyn gaan leef het, weg van alles wat mense om hulle gewoonlik so “belangrik” in die wêreld geag het. Hierdie monnike het ontdek dat ‘n stil lewe net so, indien nie meer vervullend is as die besige wêreld van die groot dinge. In die eenvoudigste omstandighede kon hulle op die diepste dinge konsentreer en bewus wees van wat die lewe werklik is. Hulle het gesmag om God te ontmoet – wat tog die belangrikste van alles is. En hulle kon God vind waar hulle in ‘n grot of woestyn niks om hulle gehad het wat hulle kon steur nie of hulle aandag aftrek nie. En hulle het na die stil plekke gegaan juis toe die kerk wonderlike nuwe kanse tot magsvertoon en magsgrepe gehad het. Hulle het begin berge en woestyne toe gaan in ‘n tyd dat die Christendom sy vennootskap met die groot name van die wêreld, die konings en die keisers en die maghebbers, begin aanknoop het en mag in al hoe groter mate die kerk binnegesypel het. In die sin was hul woestynverblyf ook ‘n protes teen die manier waarop die sogenaamde “groot” dinge, die verleidelik prag en praal van mag, die klein dinge, die eenvoud en stilte waar God ook (! – miskien veral) woon, begin bedreig het.

Hierdie gedig het my toe ook laat dink aan hoe die Bybel oor Jesus praat: aan die een kant vertel Bybelse boeke ook deeglik van die groot dinge van die lewe (Herodes, die Romeine, die keiser en die politieke leiers). Maar gedurig teken die Bybel ook die ander kant wat die sogenaamde groot dinge in perspektief plaas: hierdie Jesus se lewe, vertel Bybelboeke, is deurspek met die refrein dat ‘n mens in jou “gewone” lewe as “gewone,” selfs ongerekende, obskure mens, ‘n verhouding vol vervulling met God kan leef.

Trouens, baie teoloë wat onderstreep dat Jesus veral ‘n boodskap vir die armes, die mense aan die rand van die samelewing, gebring het, sê daarmee dat Jesus die gewone alledaagse lewe sakraliseer. Jesus ken ‘n “heiligheid” toe aan ‘n mens se alledaagse lewe. Sin bestaan vir Jesus nie net in die hemel, die paradys in die tempel, in die toekoms, in die groot, belangrike dinge nie. Jy kan God hier en nou vind waar jy ook al is – selfs in die mees afgeleë plekke. Jesus self maak lewensbelangrike keuses in die stil plekke. Hy soek die woestyn op, ver buite die groot stede, daar waar Johannes die eensame profeet mense doop, deur God ingewy in sy bediening wanneer Hy gedoop word. Een van die grootste momente in die Bybel is wanneer Jesus eenkant, op die berg, met mense in stilte en eenvoud praat oor geluk wat te midde van armoede, siekte, trane en selfs vervolging gevind kan word (in die Bergrede van Matteus 5-7). Jesus, God se Seun, is terselfdertyd die mens. En as die mens, 'n geringe timmermanskind, behoort hy en gee hy homself aan die kleines, die geringes, die gewone ou wat nie gereken word en op die hoge gestoeltes sit nie. En Jesus ken en beleef die eenvoudige dinge - hy praat oor die lelies van die veld, die voëls van die hemel en vertel verhale oor die gewone mense, die reisigers, die boere, die arbeiders. Jesus heilig die natuur en die alledaagse lewe op die manier as die plek waar ons ook ‘n goddelike verhaal kan hoor.

‘n Mens kan dus, leer ook die Bybel ons, diepe vervulling kry in ‘n lewe van eenvoud. Jy hoef nie belangrik te wees of geag te wees, om ‘n volledige mens te wees nie.

Maar ek was, soos hierbo gestel, by die eerste lees van die gedig se vertaling deur iets anders getref as die klem op die wonderlike sin wat ook in eenvoudige dinge te vind is. Die gedig vertel ook hoe die digter die dieper dinge agter die eenvoud begin “beleef” en hoe dit al sterker na vore kom.

Dit gebeur ook in Spiritualiteit wat beklemtoon dat 'n mens se verhouding tot die diepste dinge iets is wat tot jou deurdring, wat jy beleef en wat jy dus "ervaar." ‘n Mens “weet” dikwels iets sonder dat dit ‘n snars maak aan jou lewe. Hierdie gedig vertel van ‘n proses waarvan jy bewus word, waarin jy jou inleef en wat jy beleef.

Dit is eintlik wat werklike spiritualiteit is: dit gaan in spiritualiteit om 'n ervaring waarin jy opgeneem word. Jy ervaar iets wat jou anders laat word. Jy beleef hóé dinge wat jy normaalweg nie reken nie en as niks beskou nie skielik totaal anders lyk en jou lewe verander. Dinge waarby jy normaal weg verbygeleef het word nou iets wat jou lewe vul en ryk maak.

Vir my is die kernreël van die gedig die sin wat lui: “So gebeur dit net dat ek is en ek kyk.”

Die sin spreek van "attentiewe" en noukeurige waarneming. 'n Mens word betrokke, jy sien. Jy raak bewus van jou bestaan (dat “ek is”).

Die gedig vertel eintlik op ‘n heel pakkende manier deur eenvoudige taal hoe die digter algaande en stadig en intiem begin raaksien wat “werklik” is, wat “saak maak”, wat skoonheid is. In ‘n doodgewone boomtak herken die digter skielik ‘n patroon. Dit word verder teel van ‘n tapisserie. Net so word ‘n simpel mier ‘n soom van die tapisserie. Deur hierdie dinge te "sien" as deel van wie die digter "is" ontstaan daar ‘n verhouding met die omgewing wat die digter voorheen nie gereken het nie.

Die digter bekyk en sien ‘n mier, die gras, die lugbeeld van ‘n boomtak se patroon, ‘n fladder van ‘n skoenlapper. En “lees” dan hierdie dinge sodat hulle ‘n tapisserie vorm – daar is ‘n samehang, ‘n samekom van baie dinge wat, en dit is die trefkrag, iets “in my” wakker maak. “Ek is” en ek kyk” is dus die twee belangrike woorde in die slot van die gedig.

Jy kan God vind in alle omstandighede, ook in die heel eenvoudigste van plekke en tyd. Maar daar is ‘n voorwaarde: jy moet uitkyk daarvoor. Dit moet in jou ingroei. Dit is ‘n kwessie van jou oopstel, jou oë oopmaak vir wat goddelik om jou is. Maar selfs nog meer: dit is iets wat jou moet raak, wat jy moet laat deel word van wie jy is. Daar moet ‘n interseksie kom tussen jou en die goddelike, ‘n ontmoeting, ‘n versmelting, ‘n mistieke eenwording.

Klink dit mooi, maar niksseggends? Maar Jesus het ook sulke dinge vertel toe hy gepraat het van die sienendes wat blind is en van die horendes wat doof is. Mense het oë en bestaan, maar hulle leef verby die goddelike en mis daarom sin aan hulle lewe. Hulle sien die goddelike nie raak nie.

Hoe belangrik is die oë nie! Hoe belangrik is ons wil om ons oop te stel tog nie. Dit laat ons dinge ontdek wat ons deur ons normale, verkrampte vooroordele en hatigheid en blindheid weier om raak te sien.

Wat gebeur wanneer ek my oopstel: merkwaardig genoeg, kom twee botsende wêrelde bymekaar:

Die wit skoenlapper in die gedig het iets wat net “syne” is – sy skaduwee. Maar in die “syne”, in die objektiewe, die afstandelike, in sy afgesonderde wêreld, is daar ook vir “my” ‘n onmiddellikheid, ‘n intiemheid: sy skakduwee “skeer” deur “my” hande. Sy wêreld deurkruis (!) my wêreld. Die twee wêreld kom bymekaar en dring tot die waarnemer, die digter, as iets asemrowends deur. Die waarnemer word bewus van hoe hierdie tapisserie skoonheid in sy of haar lewe inbring. Die lewe word vervullend.

As twee sulke wêreld kruis en ons die nie-bedreigende, die eie van die Ander raaksien, roer dit ons en kan ons nie meer dieselfde wees nie.

Hierdie gedig van Wislawa Szymborska is ‘n boeiende relaas van hoe ‘n mens bewus raak van die dieper dinge. Daarom is dit ‘n mistieke gedig: dit gaan om die Verborgene te onthul. En die verborgene is in die eenvoud, die alledaagse te vind. Juis daarom is die mistiek vir elkeen beskore. Ons lewe kan ryk wees aan verrykende, mistieke ontdekkings. Iewers, selfs op die mees onverwagte plekke, is daar vir die mens wat wag en gereed is, is daar vir die een wat “is en kyk”, vervulling te vinde.

Die digter in hierdie gedig het ‘n mistieke ervaring. Maar soos die Bybel wat oor mistieke ervarings gaan, die leser ook wil uitnooi om die mistieke ervaring te deel, is hierdie gedig van Wislawa Szymborska mistiek in sy uitwerking. Deur toe te laat dat dit ‘n mens bring tot die bewussyn van die skoonheid van eenvoud, roer dit jou en transformeer dit jou. Deur hierdie gedig te lees, te bedink en te beleef, word iets in my los, word ek saam met die digter bewus van dit wat groter as ekself is, maar wat my onherroeplik aanraak en verander. Ek bedoel: wie gaan ooit weer op dieselfde manier as tevore na ‘n fladderende wit skoenlapper kyk as hy of sy eers hierdie gedig gelees het?

En wat hierdie gedig dan aan jou doen, is wat die Bybel, op ‘n nog dieper manier ook wil doen. Dit illustreer ook hoe ons die Bybel moet lees. As ‘n teks wat oor die Mistieke handel en oor die Mistieke wat in die hoogs eenvoudige dinge gevind kan word, maar wat die Bybellesers wil uitnooi om ook deel te hê aan hierdie Mistieke ervaring.


Hier is die artikel:

Tapisserie van omstandigheid


Henning Pieterse

Geen titel benodig nie
(No title required / Moze bez titylu)

Vertaal deur Henning Pieterse

Dit het gebeur: ek sit onder ’n boom
langs ’n rivier
op ’n sonnige oggend.
Dis ’n onbenullige gebeurtenis
wat nie opgeteken sal word in die geskiedenis nie.
Dis nie soos oorloë of verdrae
waarvan oorsake noukeurig ondersoek word,
of merkwaardige tirannemoorde nie.
En tog sit ek langs hierdie rivier, dis ’n feit.
En omdat ek hier is,
moet ek van êrens af gekom het,
en voor dit
moet ek in vele plekke verskyn het,
net soos die oorwinnaars van koninkryke
voordat hulle uitgevaar het.
Selfs ’n vlietende oomblik het sy vrugbare verlede,
sy Vrydag voor Saterdag,
sy Mei voor Junie.
Sy horisonne is net so werklik
as dié wat ’n maarskalk se verkyker mag bespied.
Hierdie boom is ’n populier met oeroue wortels.
Die rivier is die Raba; dit het nie gister ontspring nie.
Die pad deur die ruigte
is nie verlede week gebaan nie.
Die wind moes die wolke eers hierheen waai
voordat hy hulle kon wegwaai.
En alhoewel niks gewigtig hier naby gebeur nie,
is die wêreld daardeur nie behoeftiger aan besonderhede nie.
Dit is net so begrond, net so noukeurig
as toe nomade dit oorwin het.
Sameswerings is nie al wat in stilte gehul word nie.
Optogte van redes sleep nie slegs agter kronings aan nie.
Herdenkings van revolusies mag aanrol,
maar so ook spoelklippies wat die baai omsirkel.
Die tapisserie van omstandigheid is verwikkeld en dig.
Die mier se soom in die gras.
Die gras gestik in die grond.
Die patroon van ’n golf geborduur deur ’n tak.
So gebeur dit net dat ek is en ek kyk.
Bokant my fladder ’n wit skoenlapper deur die lug
met vlerke wat heeltemal syne is,
en die skaduwee wat deur my hande skeer
is slegs dit, niemand anders s’n nie, net syne.
Wanneer ek sulke dinge sien, is ek nie meer so seker
dat wat belangrik is meer belangrik is as die onbelangrike nie.

Wislawa Szymborska (1923-) word gereken tot die uiters begaafde geslag Poolse digters wat Czeslaw Milosz, Tadeusz Rósewicz en Zbigniew Herbert insluit. Sy debuteer in 1952 met die bundel That is what we are living for en het sedertdien meer as 15 digbundels gepubliseer. Haar vroeë poësie sluit verheerlikings van Lenin, Stalin en sosialisme in, maar van die 1960’s word sy gaandeweg al hoe meer krities teenoor die kommunistiese ideologie, neem deel aan ondergrondse kulturele bewegings teen die Russies gesteunde regering en dra by tot die samizdat-tydskrif Arka. In 1996 word sy bekroon met die Nobelprys.

Veral van die bundel Calling out to Yeti (1957) is haar poësie gemoeid met die doodgewone, skynbaar saai werklik¬hede van die menslike bestaan. Haar verse is dikwels sardonies, ironies, snaaks, en roep – deur klein, kompakte beelde – groter eksistensiële vraagstukke op waarin die geskiedenis en die rol van individue en groepe mense daarin subtiel bevraagteken en verproblematiseer word.

Die gedig “Geen titel benodig nie” (uit die bundel The End and the Beginning, 1993) illustreer verskeie kernaspekte van Szymborska se poësie.

Die gedig begin met ’n oënskynlike toevalligheid: die liriese subjek wat onder ’n boom langs ’n rivier sit en meen dat dit ’n onbenullige gebeurtenis is, kleiner as “groot” gebeurtenisse wat opgeteken word in die geskiedenis.

Dan begin sy egter dink: omdat sy op dié spesifieke plek sit, moes sy tog van êrens af gekom het, net soos oorwinnaars van koninkryke. ’n Vlietende oomblik se “horisonne” is net so werklik en geldig as die horisonne wat deur ’n maarskalk se verkyker bespied word. “Klein” gebeurtenisse word teenoor “merkwaardiges” gestel, soos wat die “amptelike geskiedenis” van die mensdom dikwels geneig is om te doen – ’n geskiedenis wat slegs die verhale van oorwinnaars ten boek stel en die lot en lyding van doodgewone mense ignoreer.

Haar blik strek wyer: na die populier met sy oeroue wortels, na die Raba-rivier wat lank terug moes ontspring het, na die kom en gaan van wolke. Dan is daar ’n kernmoment: “En alhoewel niks gewigtig hier naby gebeur nie, / is die wêreld daardeur nie behoeftiger aan besonderhede nie”.

“Groot” en “klein” word weer teenoor mekaar gestel: “Herdenkings van revolusies mag aanrol, / maar so ook spoelklippies wat die baai omsirkel.” Die blik word intenser en met verwondering op die “klein”, onmerkwaardige dinge gerig: die mier, gras, die patroon van ’n golf wat deur ’n tak “geborduur” word. Die besef slaan deur dat die “tapisserie van omstandigheid” “verwikkeld en dig” is, dat ’n skoenlapper sy éie vlerke en skaduwee het, net sýne. En dan weer ’n “toevallige”, verwonderde waarneming soos aan die begin: “So gebeur dit net dat ek is en ek kyk”.

Die slot is in pas met die kontraste wat deur die gedig opgestel word: “Wanneer ek sulke dinge sien, is ek nie langer seker / dat wat belangrik is / meer belangrik is as die onbelangrike nie.” Dus: wat is “groot” of “klein” in die uitgebreide sirkelgang van dinge?

Uit die gedig spreek, op ’n amperse Zen-wyse (die “so-heid” van dinge), verwondering oor die “toevallige” klein details van bestaan – waaroor ’n gedig geskryf kan word – wat so dikwels ontken of misgekyk word ten gunste van “groot” gebeurtenisse wat die mensdom dink vir altyd onthou gaan word.

Szymborska verbind die heel kleinste met die heel grootste, soos wat digters soos T.T. Cloete, Seamus Heaney of William Blake dit dikwels in hul poësie vermag.

Henning Pieterse is digter, kortverhaalskrywer, Hertzogpryswenner en professor in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.
*Geraadpleegde bronne:
Szymborska, Wislawa. 1990. People on the Bridge. Vertaal deur Adam Czerniawski. Forest Books.
Szymborska, Wislawa. 1996. View with a Grain of Sand. Selected Poems. Vertaal deur Stanislaw Baránczak en Clare Cavanagh. Faber and Faber.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive