Saturday, January 02, 2010

Is die mistiek gevaarlik?

“Mistiek” is ‘n hoogs omstrede verskynsel. Daar is mense wat dit selfs as “gevaarlik” beskou. As gevolg daarvan word spiritualiteit, waarvan die mistiek ‘n wesenlike deel is, deur sommige skrywers verdag gemaak. Bekende teoloë het deur die eeue heen gewaarsku teen die mistiek. Aan die begin van die twintigste eeu het so ‘n bekende teoloog soos Karl Barth hewige kritiek teen die mistiek gelewer.

Heel eerstens is dit duidelik dat daar duidelik deur die eeue heen baie slegte dinge in die naam van die mistiek gesê, gedoen en geskryf is. Daar is beslis onaanvaarbare, selfs “slegte” vorme van mistiek.

Tweedens beteken dit dat ‘n mens moet onderskei tussen goeie en slegte mistiek. Die “goeie” mistiek gaan byvoorbeeld direk terug op die Bybel of steun op die Bybel. Daar is gedeeltes in die Bybel wat sonder meer mistieke dele is. Mistiek is, kortweg, die eenwording met God. Die Johannes-Evangelie is ‘n hoogs mistieke boek waarin die intieme eenheid tussen die goddelike en menslike in hoofstuk na hoofstuk uitstraal (Ek is die wynstok, julle die lote – wie nie in my bly nie...). Die intieme, noue verhouding met God en eenwording met Christus word byvoorbeeld in Galasiërs 2:20 uitgespreek wanneer Paulus skryf dat hy nie meer leef nie, maar dat Christus “in hom” leef. En Paulus het self gepraat van sy verrukking na die derde hemel (2 Kor.12:2). Die “verheerliking” van Jesus op die berg is ‘n verdere voorbeeld van die mistiek. En vir mense wat dink dat dit net met Jesus gebeur is daar die verrassende 1 Korintiers 15:51-55 waar Paulus vertel hoe ons almal in ‘n oogwink verander sal word met ‘n onvoorstelbare heerlikheid wanneer ons onsterflikheid (wat net God het) sal ontvang. Die eenwording met God en die deel aan God se heerlikheid is die hart van die evangelie en die kern van ons toekomshoop.

Derdens is dit net so waar dat ‘n mens nie alle mistici oor dieselfde kam kan skeer nie. Daar is baie verskillende mistieke skrywers en tekste wie se gedagtes onmoontlik in een netjies skema saamgebring en verduidelik kan word. As daar mistici is wat sekere stellings maak wat vir sommige verdag lyk, is daar ook weer ‘n klomp ander wat nie sulke stellings sal maak nie en wat duidelik verskil van mening. Ons kry baie verskillende vorme van mistiek – en hulle is in mindere of in meerdere mate deel van en te rym met hoofstroom Christelike ervaringe en oortuiginge. Dit is die verantwoordelikheid van mense wat die mistieke boodskap van die Bybel wil verstaan om gedurig weer mistieke tekste te toets aan die bronne van die Christelike geloof.

Vir sommige skrywers is die mistiek gevaarlik en onaanvaarbaar omdat hulle glo dat mistici hulleself as unieke, besondere, geesvervulde mense beskou wat uitstyg bo ander wat nie mistieke ervaringe het nie. Sulke mistieke ervarings lei tot hoogmoed en trots. Maar hierteenoor is dit bekend dat baie mistici nie eers oor hulle mistieke ervaringe wou praat nie omdat hulle geweet het dat die egte mistiek nie self-gerig is nie. Hulle was juis agterdogtig teenoor mense wat op hul mistieke ervaring geroem het.

Vir ander weer is die mistici mense wat deur emosionele ervarings aangevuur word – en, redeneer hulle, ons emosies is onbetroubaar en bedrieglik. Dit is 'n vertekening van die mistiek wat beslis nie geld vir die meerderheid mistici nie. In die mistiek word byvoorbeeld duidelik onderskei tussen emosies, wat wisselvallig is maar tog in mistieke ervaringe ‘n rol kan speel aan die een kant en, aan die ander kant, “ervaring” wat nie emosioneel is nie. Hierdie "ervaring" van God se aanraking is baie meer as net 'n emosionele saak. Ervaring het 'n spesifieke nie-emosionele betekenis. ‘n "Ervare" mens wat deur die leerskool van die lewe is en dinge aan sy of haar lyf beleef het en geleer het, is tog nie ‘n “emosionele” mens nie. In die mistiek word “ervaring” dus nie met “emosies” verwar nie. In die mistiek “ervaar” ons ons eenheid met God. Dit is as ervaring ‘n diepe wete wat deel is van ons geloofspraktyk – dit is ons “wandel” met God, ons “reis” met die Here. En dat dit ons gelukkig, bly, emosioneel maak, is goed al is dit “ervaring” veel wyer as die emosies. ‘n Mens kan in jou nood en in jou hartseer God se teenwoordigheid “ervaar.” Dit is juis die mistiek. Daarom werk die mistiek ook heel dikwels met die motief van die donker nag van die siel. Ook in tye dat 'n mens nie God se teenwoordigheid kan "voel" nie, is God nog steeds daar.

Nog skrywers redeneer dat die mistici die sentrale plek van die Bybel in die geloofslewe vervang met allerhande oortuigings en spekulasies wat van die Bybel afwyk en dikwels selfs met die Bybel in teenspraak is. Terwyl die sekerlik kan gebeur dat sommige mistici só ‘n houding het, is dit opvallend hoe die groot mistici juis steeds weer die Bybel gelees en bestudeer het. Die lectio divina is ‘n kern-aktiwiteit in die mistieke wêreld.

Sommige kritici beklemtoon dat die mistici eintlik hoogs self-sugtige mense is wat net op hul eie geestelike ervaringe ingestel is. Hiermee hang saam dat party dink die mistiek is wêreldvreemd. Die mistikus gaan sit iewers in ‘n woestyn in plaas van om sy of haar roeping ten opsigte van God se wêreld uit te leef. Hier is ook ‘n bietjie waarheid in die beswaar teen sommige mistici. Dit is waar of dit kan gebeur dat sommige mense wat ‘n monastieke leefwyse opsoek wêreldmydend kan leef, maar dit is juis een van die belangrike kenmerke van die moderne mistiek dat die die wêreld as die oord van geloofspraksis beleef. Die mistieke ervaring bind die mens aan die wêreld as God se skepping. Mistici soos Merton, byvoorbeeld, was aktief in die vredesbeweging.

Hiermee hang verder saam dat sommige mense dink die mistieke skrywers is eintlik hoogs arrogant: hulle hef die grense tussen God en mens op en vergoddelik die mens. Hierteenoor moet ‘n mens ook weer kyk na daardie mistici wat juis insien hoe die mistieke ervaring ‘n mens bewus maak van jou eie eindigheid en verganklikheid teenoor God se grootheid.

Dit is maar ‘n paar van die voorbeelde van die kritiek wat ‘n mens teen die mistieke tekste kan uitspreek. Ek het onlangs ‘n artikel begin uitwerk hieroor – skryf gerus aan my vir ‘n afskrif daarvan. Daar is inderdaad baie ander moeilike onderwerpe oor die mistiek waaroor nog baie gedink en gepraat moet word. Een ding staan egter vas: Mense het deur die eeu die mistiek grootliks verteken of misverstaan. Dat daar slegte dinge in die tradisionele mistiek was, is duidelik. Maar die mistiek is nie net negatief nie. Trouens, hoe langer ons die mistiek ignoreer, hoe meer ontneem ons ons self en ons tydgenote ‘n ervaring wat hul lewens kan transformeer en wat hul sal help begryp wie die God van die Bybel is.

Die artikel waarna hier bo verwys word kan aangevra word by my epos adres - kyk vir die adres by my "profile".

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive