Wednesday, January 06, 2010

Gebed en God se teenwoordigheid

Gebed is ‘n teken van ons verlange na God. In ons gebede smag ons na God, ons stort trane om die goddelike teenwoordigheid in ons lewens te ervaar, ons sug om by God te wees. Dit wys dat ons nie ons verlange kan stil deur dit wat ons besit of het nie. Iets/Iemand buite onsself het ons innerlike aangeraak en ons hart soek daardie aanraking.

Vir baie van ons biddendes is dit ‘n diepe frustrasie, want ons kyk teen ons trane vas en sien net ons hartseer raak. Ons dink ons verlange is ‘n teken dat God weg is.

Daar is egter ‘n ander kant van die prentjie: ons trane kan vir ons vreugde gee en troos bring. Ons gebede is juis ‘n teken en ‘n getuienis dat God in ons lewens inkom.

As ons smagtend bid, bid ons tot God wat na ons uitreik en in ons lewe teenwoordig is. Wanneer ons ons harte biddend tot God verhef, is God besig om in ons harte in te daal. Wanneer ‘n mens na God roep is dit ‘n teken dat God tot ons kom. Daarom kan ons trane van verlange terselfdertyd trane van vreugde wees.

Want dit is God wat die verlange na God in ons gee. Dit is God se genadige geskenk aan ons dat ons smagtend tot God bid.

Wanneer ons na God verlang, reik God na ons uit en woon God in ons verlange na God.

Die blote feit dat ons na God verlang is ‘n aanduiding van God se teenwoordigheid in ons lewens. Dat ons ons in die gebed oopstel vir God se liefde is ‘n aanduiding dat God die Een is wat ons lief het, ons Minnaar is.

Wanneer ons in gebed na God verlang, sê God onmiddellik vir ons terwyl ons bid: “Hier is ek!” Daar is ‘n oomblik wanneer ons bid, dat ons weet dat alles wat ons uit die lees van die Skrif in nadenke en meditasie ervaar het, skielik in ons lewens ‘n werklikheid word. Wat ons in die Bybel lees, word nou vir ons omvorm tot ‘n werklikheid, tot ‘n verhouding met God waarin ons ‘n aktiewe deel het. Ons ervaar dat die God van die Bybel nou God van ons lewe word. Nou lees en bedink ons nie meer Skrifwoorde nie, maar staan ons by God, praat ons reikhalsend met God. En God se koms na ons terwyl ons bid is ‘n verborge koms in die liefde, want God praat ook met ons. Ons is wedersyds in ‘n gesprek. En God sê heel eerste vir ons: “Wees lief vir my.”

Maar nou: hoe weet ons dat God daar is – want ons ervaar dikwels net God se swye? Waaijman (764-5) skryf dat God in liefde by ons is wanneer ons versigtig in ons gebed soek en luister na God. Ons weet God is daar deurdat ons God hoor sê: “Jy moet die Here jou God met jou hele hart, siel en krag lief hê.” Dit is vreemd vir ons om te dink dat God ons beveel om God lief te hê. “Bemin my!” is ‘n teken dat God in ons lewens is en van ons liefde vereis. Maar daarmee lê God nie ‘n verpligting of ‘n wet aan ons op nie. Daarmee vra God ons eerder om God te aanvaar, om ons oop te stel vir God. Ons verlang na God in die gebed en God sê vir ons in ons gebed om God te bemin.

Wat hier belangrik is, is dat ons in ‘n liefdevolle verhouding met God ingetrek en opgeneem word.

Wanneer ons bid en na God verlang, is God by ons in die liefde: “Kom, droog die trane af, praat met my, wees lief vir my, moenie ooit ophou om na my te verlang nie, sien my raak as die Een wat jou Bemin, ervaar my in my liefde – ek is hier vir jou!”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive