Ek het in my blog van twee dae terug so bietjie geskryf oor die sonde van “traagheid” of acedia (ook accidia gespel en met “vadsigheid” as ‘n ander Afrikaanse woord).
Toe het ek die verhaal van die groot en invloedryke mistikus, Evagrius van Pontus in sy Praktikon oorvertel oor die monnik in die klooster wat tipies teen 10 uur in die oggend begin uitsak met sy geestelike oefening. Hy raak moeg en lui, want die dag begin lank word en die son beweeg maar stadig na die uitspantye wanneer hy so bietjie kan terugsit, uitgaan, eet en ander dinge doen. Dis duidelik, wil Evagrius eintlik vertel, maar ‘n ding om op God te wag - selfs as jy 'n monnik is. Of miskien veral as jy 'n lewe van volmaaktheid jaag!
Die monnik begin dan allerhande slim verskonings soek om rond te loop om eerder ander lekkerder dinge te doen. Dis duidelik nie dat hy kwaad wil doen nie of dat hy in versoekings om slegte dinge te doen, verval nie. Dit is alles onskuldige dingetjies wat hom oorval. Daar is sy gewone menslike behoefte aan kontak met ander. Hy, wat in stilte op God wag, verlang emosioneel na intimiteit van ‘n meer konkrete manier wanneer hy gou die geselskap van ander mense wil opsoek. En in die proses word dit vir hom belangriker as sy wag op God. ‘n Hele kettingreaksie begin. Hy raak opgewerk en begin voel dat ander mense niks vir hom omgee nie. Hy voel te na gekom. Hoekom kom soek sy vriende hom dan nie op nie? Hoekom ignoreer almal hom? Sy gebrek aan geestelike dissipline kring op die manier uit om ook sy verhoudinge met ander af te breek.
Dit is nou die ervaring wat oor hom spoel terwyl hy besig is met sy geestelike oefening...
Maar die duiwel ploeg dikwels dieper: hy sukkel nie net met die gelowgie mens oor ‘n tydelike uitsak wanneer die dag begin lank en vervelig word nie. Die duiwel van Acedia werk dieper – hy karring uiteindelik selfs met die roeping wat die monnik gevoel het toe hy op die kloosterlewe besluit het. Terwyl die gelowige mens op God wag, oorval allerhande dwaal-gedagtes hom of haar. Sy of hy begin as gevolg van die dwalery selfs om hul verblyf in die klooster te bevraagteken. Kan ek die Here nie maar net so goed in die wêreld dien nie, begin hy wonder, want God kan eintlik mos op enige plek aanbid word? Op die manier gee hy die dinge waaroor hy eens op ‘n tyd so ernstig gevoel het, prys. Sy entoesiasme taan, sy toewyding verslap en traagheid slaan in al sy felheid toe. Dinge lyk al teen tien uir die oggend maar valerig. Dit is nie dat hy sleg word of ongelowig word nie.
Evagrius van Pontus is deel van ‘n lang spiritualiteitstradisie wat beklemtoon dat dit ‘n probleem is wat eie is aan die gelowige reis van God. Traagheid is onvermydelik. Vadsigheid is ‘n wesenlike deel van ons lewe en wandel met God.Die geestelike begeleiers het besef watter probleme dit vir 'n mens kan veroorsaak en dit uitgesonder as 'n bedreiging.
En wie herken hierdie patroon dan nie? Die aanvanklike ywer waarmee ons ons bekering beleef en die gloed wat God se aanraking in ons lewe bring, begin afneem en verkoel. Sommige kerke praat van ‘n drie jaar tydperk: mense wat as volwassenes ‘n dramatiese geloofservaring beleef , val dikwels binne ‘n kwessie van drie jaar terug. Daar is iets in mens-wees wat een of ander tyd die doodsonde van acedia aan die brand steek. Ons noem hom ‘n “duiwel”, maar ons weet dit is iets wat uit die diepste van ons binnekant kom. Daarom moet ‘n mens al die kante van hierdie vernietigingsproses bekyk:
Aan die een kant werk acedia negatief met heel donker gevoelens in ons. ‘n Depressie oorval ons. Ons voel terneergedruk. Hoekom werk dinge vir my op geestelike gebied nie uit nie? Ek het tog die goeie tye, wanneer ek naby aan God kom en voel. Hoekom voel ek dan ander oomblikke so leeg? Hoekom is my wonderlike ervaring in my stiltetyd net so verskriklik ver weg wanneer my dag eers op gang kom? Waarom het ek so min deursettingsvermoë? Waarom verdwyn al my mooi voornemens soos mis voor die son soos ek op reis gaan en die vaalheid van die dag begin toeslaan?
Dit is negatiewe gevoelens wat moeilik is om te verwerk, veral as ‘n mens se bekering intens was en as ‘n mens naby aan God gevoel het. Die gelowige verlang na die goeie, maar erf droefheid.
Hierdie persoonlike ervaringe slaan ook deur op ander vlakke: waarom kan ‘n groep mense,’n gemeente, ‘n besigheid met groot toewyding begin om nuwe dinge te doen wat van die wêreld, van hul gemeenskap en van hul besigheid ‘n beter plek moet maak, maar dan word die hele groot opgeblaasde ballon op ‘n stadium tot ‘n lamlendige stuk papheid afgeblaas?
Maar Acedia as traagheid is ‘n duiwel wat nie net as depressie en teleurstelling sigbaar word nie. Want dit is ‘n slim duiwel, hierdie Acedia. Hy werk nie net met ‘n “lamheid” wat ons ongelukkig maak en ons vrede wegneem nie. Baie mense is diep depressief sonder dat hulle dit besef. Hulle steek hulle depressie weg deur orals heen te jaag. Ons jongmense soek die avontuur, doen wonderlike interessante dinge, soek geselskap op, besoek die een fliek na die ander , dans hulle lywe lam in die disko’s terwyl hulle innerlik, soos Bono dit sê, uitroep en smeek om vervulling. Hulle honger na vervulling en geestelike traagheid jaag hulle aan, onrustig, van die een soektog na die ander.
Die monnik in die klooster wil gou gaan soek na iemand om mee te gesels, gou gaan kyk hoe laat dit is, gou gaan kyk of iemand nie hulp nodig het nie. Hy is aan die gang, bly dink, beplan, soek uitkoms, woel en werskaf.
Hierdie gewoel en gewerskaf gebeur ook met groepe mense, in hiper-aktiewe gemeentes waar mense al die mooi dinge jaag. Maar die gewone gelowige ken hierdie stryd net so goed: Ook in ‘n mens eie, persoonlike geestelike reis skuil daar agter mense se hiper-aktiwiteit ‘n diepe depressie. Die hiper-aktiwiteit het ‘n pragtige voorkoms en kan op die mooiste manier na vore kom. Ons jaag agter die goeie dinge aan, maar dikwels doen ons dit verbete, met ‘n angstigheid en ‘n onrustigheid soos ‘n monnik wat kort-kort op sy horlosie kyk of by die venster uitloer.
Die kombuis-sake, die kantoor-sake, die skool-sake, die kerk-sake, die gesinsake – al die mooi en belangrike dinge in die lewe stuur en beheer ons lewens. Ons bodder tog nie met dwelms, drank, dobbel en ander dinge nie. Ons jaag werklik die “goeie dinge” in die lewe, soms sonder dat ons naby aan God voel. In die hiper-aktiewe leefstyl knyp ons van ons eie-tyd en stilte-tyd af, bid maar agter die stuurwiel of die kospotte, lees kits-geestelike stukkies. Hoe meer ons na God verlang, hoe minder voel ons God se nabyheid.
Ons voel nie dat ons afskeep nie, want ons laai ons lewens met mooi, lofwaardige dinge. Trouens, die probleem hier is juis dat ons nie al hierdie aktiwiteite wil afskeep nie omdat dit vir ons so “belangrik” is. En deurdat dit ons dwing om eie-tyd en stilte-tyd en tyd-vir-God-alleen as net nog ‘n belangrike saak te beskou, mis ons juis dit wat die “belangrikste” is. Ons jaag van plek tot plek en ding tot ding, ons program is vol van kantoor, kerk en kinders. En ons jaag weg van die stilte, van die rusplek, van God. En die uiteinde daarvan is Acedia. Geestelike lamheid, tamheid en traagheid. Vadsigheid.
Die ryk jongman, het Jesus in Matteus 19:16-30 gewys, was ‘n diep geestelik mens wat gejaag het om “die goeie dinge” te doen. Daar was in sy lewe ‘n transformerende krag aan die werk. Sy verhouding met God het sy lewe mooi gemaak. Hy is ‘n jongmens vol ideale, van kindsbeen af soek hy die dinge van God (Mt.19:20) – hy is ‘n kind van God in meer as een sin van die woord. Hy is ‘n inspirerende mens, want hy, anders as van sy tydgenote, kom ook by Jesus geestelike voedsel soek. Hy kom sy by die voete van Jesus. Hy jaag volmaaktheid (Mt.19:21). Hy het al hierdie goeie dinge gedoen wat ‘n kind van God behoort te doen. Oor hierdie ryk jongman sou 'n mens 'n pragtige preek kon maak.
Jesus het hom liefgekry oor sy verlange na God. Juis omdat Jesus sy diepe behoefte herken en bewonder het. Jesus het vir hom baie rykdom aangebied. Maar die probleem was dat dit hemelse rykdom was. Jesus het vir hom die nabyheid van God aangebied: "Volg My," want deur met Jesus op reis te gaan sou sy soektog op ‘n einde gekom het en sou hy die innerlike vrede waarna hy so verlang het, gevind het. Maar God, hoe belangrik ook al in sy lewe, was vir hom nie só belangrik dat hy alles sou opoffer om by God te bly nie.
Hiper-aktief: jaag al die goeie dinge. Soek selfs vir Jesus op. Maar dan slaag Acedia toe. En, lees ons in die verhaal van die ryk jongman, hy het “bedroef” van Jesus weggegaan, die rug gekeer op die Een by wie hy vrede sou kon vind. Acedia of geestelike traagheid is daarom niks anders as ‘n verwaarlosing van dit wat die lewe die moeite werd maak nie.
Hoe nou gemaak? Hoe hanteer ons die diepe depressie, die bedroefdheid wat op ons toesak wanneer ons in ons hart onvrede ervaar en dit vir ons voel of ons uitsak? Hieroor wil ek meer nadink. Want traagheid en vadsigheid is ‘n verskriklike ding. Dit kan jare oor jou toesak en vir dekades lank oor jou soos ‘n donker wolk hang.
Dankbaar, dus, kyk ons na hulle wat voor ons daardeur is en wat mistagogies ons hand neem en ons wil ondersteun. Ons wil van hulle leer, want, per slot van sake, acedia is 'n sonde wat oorwin kan word.
Laat ons kyk wat sê hulle.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
January
(32)
- Vroomheid kan gevaarlik wees. Oor dissipelskap.
- Om uit te hou, vas te byt en nie tou op te gooi ni...
- Om bedroefd die rug op vrede te keer. Oor die sond...
- Die sewe doodsondes. Die geestelike reis is kompleks.
- Is dit alles die moeite werd? Oor geestelike traag...
- Op die vlerke van die duif. Oor Liefdesverrukking
- "En niks gebeur sonder dat dit God se wil is nie."...
- Om jou roots te ontdek. Oor die Spiritualiteit van...
- Weer 'n keer oor boelies en bullebakke.
- Inoefening in die geestelike reis. Oor die belangr...
- Die nuwe millennium as die tyd van spiritualiteit?...
- Die lieg is waar. Verkoop Clint Eastwood vir ons k...
- Mense sukkel om "spiritualiteit" uit te spreek. Oo...
- Invictus
- Oewerlose lyding en die afwesigheid van God
- Wie gaan ooit dieselfde na ‘n wit skoenlapper kyk?
- Die kerk raak groen! Oor eko-spiritualiteit en ker...
- Die Bybel, teologie en spiritualiteit
- Ons het ‘n groot behoefte aan mense wat heilig lew...
- Uncle Tom's Cabin en die Kwakers - oor die kontemp...
- Fliekpiek: Avatar
- Ons kan God op baie maniere dien, maar ons kan nie...
- 'n Bietjie doodgaan.
- Ruusbroec en die gevare van die mistiek
- Oor 'n Spiritualiteit van Toewyding.
- God, so anders en ver, maar so naby.
- Gebed en God se teenwoordigheid
- Wanneer ons bid.... Gebed as ‘n openbaring van Go...
- Hoe lees 'n mens die Bybel? oor die teenwoordighei...
- Uitgestuur buite my vertroude vriendekring. Oor Go...
- Is die mistiek gevaarlik?
- Politek en Spiritualiteit
-
▼
January
(32)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.