Hy skryf op ‘n stadium toe daar tot 20 en 30 mense op ‘n dag sterf – meestal vroue en klein kinders – die retoriese vraag: “wat sou ons hier gedoen het as ons nie op ons godsdiens kon terugval nie, as ons nie die vertroue gehad dat ons ‘n goeie en barmhartige Here het nie, as daar nie Liefde was nie, as daar nie ‘n hoop op die opstanding en die ewige lewe was nie?
Maar later, toe die ellende nog erger geword het, sou hy minder vertrouensvol, skryf:
Wanhopig. Het nou net teruggekom van ‘n sterwende seun, Herklaas, sterk. Vader in Ceylon. Het hom gister besoek. Hy het vir my gesê hy wil nie doodgaan nie, sy pa was ver weg en hy moes vir sy ma sorg. Het vanaand weer gegaan en toe is hy baie siek. Ek is baie, baie teneergedruk vanaand en wil amper dink dat God tog maar – Nee, ek sal die nie skryf nie, want ek glo dit is ‘n versoeking van Satan! Maar o, ons het so ernstig gebid dat God sy lewe sou spaar; hy is tog nog so jonk en sterk.
Enkele weke nadat hy hierdie woorde geskryf het, het hy ‘n senuwee-instorting gehad en moes hy uit die kamp weg. Die lyding het hom eenvoudig oorweldig.
Hierdie geskiedenis kom by my op terwyl ek beelde van die verskriklike ramp op Haïti oor die televisie bekyk. Dit is hierdie soort natuurampe, wat, soos die Tsunami destyds, ‘n mens konfronteer met die sinloosheid van lyding en ‘n mens diep laat nadink oor die voorsienigheid van God.
‘n Mens stel jouself die vraag wat baie gelowiges oor die eeu heen in sulke tye van grenslose ellende uitgekreun het: waar is God dan in hierdie tyd van nood?
Dit klink so maklik, selfs hol, om te sê God is in die reddende hande van al die heldhaftige mense wat dikwels in groot gevaar daar werk, in die moed van die mense van Haïti wat daar wil oorleef, in die gawes van mense vanoor die wêreld heen wat skenkings stuur, in die gebede van hulle wat die slagoffers onthou.
‘n Mens kyk na die beelde in Haïti se verskriklike ramp. Oral sien jy treurende, gebroke mense wat geliefdes se lyke ronddra, dapper mense wat pap baba’s uit die puin trek, sterwende pasiënte wat gesange sing terwyl hulle in groot pyn op ‘n wankelende kampbedjie wag op versorging wat hulle kennelik nie gou gaan bereik nie.
Twee ervare, harde joernaliste van CNN staan voor die kamera en praat oor die ellende. Jy kan sien hulle is na aan trane. Hulle bly soms stil omdat hulle emosies hulle oorweldig.
Dit is naakte, oewerlose lyding wat die armste land in die westelike halfrond soos ‘n vuishou in die maag getref het. Die mense wat dit die minste verdien, word die hardste geslaan.
My gebede is by die mense van Haïti. Hulle het reeds die rou kant van die lewe ervaar voordat die aardbewing hulle getref het. Hulle word nou dubbeld getref.
Dit is nie maklik om vir hulle te bid nie. Vir my is dit moeilik om hierdie gebede voor God neer te lê en ek soek woorde. ‘n Mens doen dit met ‘n gemoed wat wil-wil opstandig word en met neergeslaande oë, met ‘n hart na aan die verwyt en twyfel wat ook in Luckhoff se hart opgedam het.
Ek verstaan waarom Luckhoff na die dood van daardie jong seun in die fleur van sy lewe, geskryf het: “Ek is baie, baie teneergedruk vanaand en wil amper dink dat God tog maar – Nee, ek sal dit nie skryf nie, want ek glo dit is ‘n versoeking van Satan! Maar o, ons het so ernstig gebid dat God sy lewe sou spaar; hy is tog nog so jonk en sterk.”
Ek blaai deur die Psalms terwyl ek nadink hieroor. Daar is pragtige Psalms wat met groot vertroue na God uitreik in tye van groot rampe en nood. My oog val op Psalm 23 waar die Psalmdigter in die dal van doodskaduwee reis, maar tog niks vrees nie.
Uiteindelik kom ek by Psalm 38 uit. Dit is woorde van iemand wat intense lyding ervaar. Sy wonde stink. Hy het nie ‘n heel plek aan sy lyf nie. Hy ervaar verwerping en eensamheid. Meer nog: hy is desperaat dat God hom verlaat (vers 22).
In hierdie Psalm wat so lank gelede deur iemand neergeskryf is en oor baie eeue in baie harte gebid is, kry ‘n mens die Prediker-gevoel. Daar is nie baie lig nie. Daar is nie veel antwoorde op vrae nie. Daar is nie ‘n tafel vol vettige spyse om by aan te sit nie. Nêrens is daar groen weivelde in sig nie. Verkwikking vind nêrens plaas nie. Daar is nie olie vir die hoof, olie vir die voete, ‘n kruik wat leeggemaak word, balsem wat uitgegiet word nie.
Daar is maar net ‘n geroep om te kan verstaan. ‘n Rou geroep na God. Selfs ‘n appel, dalk verwytend, op God: “Here u pyle het in my ingedring en u hand het op my neergedaal.”
Nêrens word daar ‘n enkele woord uitgespreek oor iets wat die bidder dink God met ‘n sterke hand sal doen nie. “Ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.” Hier is naakte lyding.
Dit is die donker nag van die siel.
En dit is deel van die geloofsreis – ‘n Psalm van Dawid.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.