Thursday, January 28, 2010

Die sewe doodsondes. Die geestelike reis is kompleks.

Die sewe doodsondes (hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns, luiheid) het tradisioneel ‘n groot plek in ons geestelike lewe en in spiritualiteit.

Iewers is daar’ n Bybelse aanknopingspunt hiervoor. In Hennie Aucamp se keurige versameling essays, “Sewe Sondes, Nee Meer” (Kaapstad: Human en Rousseau, 1995), verwys hy in sy boeiende voorwoord tereg na Spreuke 6:16-19 as ‘n moontlike teks vir hierdie tradisie van doodsondes. Hy noem dat die vers wel praat van sewe sondes, maar hulle oorvleuel nie met die sewe wat veral in die Rooms-Katolieke tradisie gelys word nie.

Die sondes word dus nie in een lys in die Bybel genoem nie. En die lys van sewe sondes is ook nie in die geskiedenis altyd dieselfde nie. Daar was deur die loop van die tyd wel ook ander sondes wat bygevoeg is. Evagrius van Pontus het byvoorbeeld in sy baie vroeë lys van agt sondes gepraat.

Maar uiteindelik het daar toe tog ‘n “kanon” van die “sewe” of die “volmaakte” getal van sondes ontstaan wat langsamerhand ‘n soort van “amptelike” lys geword het. Dis ook nie sommer net ‘n lys nie. Daar is ‘n bepaalde “hiërargie,” soos Aucamp tereg uitwys, met, interessant genoeg, “hoogmoed” as die “grootste” sonde. Dít is hoe geestelike mense deur die geskiedenis die bedreiging vir hul geestelike reis opgesom en gerangskik het.

Hoe ernstig mense oor hierdie sewe sondes gevoel het, kan ‘n mens aflei uit die begrip “doodsondes” wat daarmee verbind is. Die sewe is dinge wat houdings en dade reflekteer of kweek wat ‘n mens se lewe vernietig. Maar sommige mense het eintlik met die begrip “doodsondes” nie net wou waarsku teen vernietigende gedrag nie, maar veral bedoel dat ‘n mens vir sulke onvergeeflike sondes geen vergewing sal kry nie. Later is hierdie harde houding versag en is die slegte idee van “onvergeeflikheid” van sekere sondes indirek gekritiseer toe mense eerder van “kardinale” sondes begin praat het.

Eintlik sou ‘n mens sê dat hierdie lys vir baie mense verwys na die belangrikste dinge wat die mens se verhouding tot God tot niet maak.

'n Paar dinge is vir my belangrik om die lys te verstaan.

Ek verstaan eerstens waarom mense van “dood”sondes gepraat het. En ek kan verstaan dat só ‘n lys ‘n mens maklik kan verlei om te besef hoe die kleinste ongehoorsaamheid dodelik in sy gevolg kan wees. En ek kan verstaan dat sommige mense hieroor versigtiger wou praat. Calvyn het opgemerk dat alle sonde tot die dood lei, sekerlik nie net hierdie sewe nie. In Galasiërs 5:19-21 word in elk geval sewentien sulke sondes as werke van die vlees, van mense sonder God, uitgespel en uitgelig. Wie is ons om tussen sewe groot en dan ander minder, kleiner sonde te onderskei? Buitendien weet ons ook dat daar baie vorme van moord is. Jesus het hieroor nogal in die Bergrede heel radikaal geleer: Dit is nie net doodslag nie, maar ook ‘n moorddadige, begeerlike kyk in ons oë (woede en wellus!) wat ‘n mens in die hel kan beland. Ek verstaan verder tog ook waarom mense soms hierdie lys gekritiseer het omdat ‘n mens te gou kan vertel dat mense nooit vergifnis kan vind vir hul “dood”-sondes nie.

Tweedens moet hierdie sondes altyd weer in terme van ‘n bepaalde tyd verstaan word. Soos Aucamp uitwys, weerspieël hierdie lys van spesifiek sewe doodsondes veral ‘n Rooms-Katolieke klooster-konteks. Daarom, byvoorbeeld, is hoogmoed so belangrik. Wie in ‘n klooster leef, is deel van ‘n gemeenskap waarin gehoorsaamheid ‘n sleutel-motief is. ‘n Hoogmoedige houding kan die kloosterlewe fundamenteel ontwrig en is daarom hoogs ongewens. En tog dink ek kan ‘n mens hoogmoed as ‘n gevaarlike krag in baie ander plekke en tye as in ‘n klooster herken. Hoogmoed is mos tog reeds in die Bybel ‘n oersonde. Is dit nie ‘n faktor wat in Genesis se paradysverhaal nogal prominent raakgesien kan word nie? En Jesus se verhaal oor die Fariseër wat so vroom voor in die tempel sy geestelike bates uitstal terwyl hy by sy neus afkyk na die tollenaar, is ‘n klassieke veroordeling van hoogmoed. Hierin was die Bybel nie alleen nie. En ver buite die Bybel is die skerp kant van hoogmoed uitgewys. Hubris, of hoogmoed, was in die Griekse wêreld ook die grootste sonde – die gode het veral toegeslaan op die hoogmoedige mens. Op dieselfde manier is jaloesie duidelik die Kaïn en Abel sindroom van iemand wat iets van ‘n ander begeer. Hoe jaloesie presies lyk en wat hoogmoed is, sal uiteraard verskil van tyd tot tyd en plek tot plek en mens tot mens. Maar ‘n mens eers bewus geraak het van die vernietigende rol van hoogmoed en jaloesie, verstom ‘n mens jou oor hoe maklik jy dit begin herken in jou eie omgewing en in jouself. Net hierin word die lys van doodsondes ‘n instrument om jou te help om waaksaam te wees – dit word die verkyker waardeur jy die dinge wat andersins so op ‘n afstand is, kan herken. Die ver dinge word in jou visie ingestrek en kom baie naby aan jou lyf. Die geestelike reisiger sal weet dat hierdie doodsondes dus veel verder as ‘n klooster herkenbaar is.

Tog dink ek dat sekere sondes in hierdie lys in sommige tye waarskynlik ‘n meer prominente probleem as ander sal wees. Neem nou byvoorbeeld luiheid wat in die klassieke lys heel onder op die ranglys staan. Aucamp vertaal die Latynse acedia in sy Afrikaanse met “luiheid.” Maar hy gee in die inhoudsopgawe, interessant genoeg, ook “traagheid van gees” as ‘n verdere vertaling aan (vir die ander ses gebruik hy net een Afrikaanse vertaal-begrip). Ek wil graag later oor hierdie acedia iets skryf, veral omdat dit ‘n sentrale houding in ons moderne tydsgees raak. Ons jongmense sal iets “boring” noem en daarmee waarskynlik acedia bedoel. “Boredom” met ‘n mens se lewe is ‘n sleutel-houding wat baie van ons ervaringe in ons tyd stuur. Aucamp praat ook van acedia as die “verlamming van die wil” (p.13). In die byna-aforistiese stelling van die befaamde Engelse digter, T.S. Eliot word van van acedia gepraat as “the unsuccesful struggle towards the spiritual life.” Die lam strewe na spiritualiteit, sou ‘n mens kon sê, is ‘n wesenlike kenteken van ons tye. Maar hieroor later meer.

Terwyl ek hieroor nadink, loop ek die onderstaande berig raak en besef ek hoe die sewe doodsondes byvoorbeeld in jeugspiritualiteit ‘n rol kan speel. ‘n Mens wonder dikwels waaroor die spirituele lewe gaan. Hoe lyk dit konkreet om op reis te gaan in die geselskap van God? Hoe verloop God se verhouding met die mens? Die antwoord is nie so eenvoudig nie. Deur die sewe sondes te lys, help die wyses uit alle tye dat ‘n mens bewus raak van hoeveel kante van ons lewe onbekeerd is en hoe kompleks ons geestelike reis is. Ons lippe is so gou in beroering en ons spoor mense graag aan om hul sondes te “bely.” Ons bid so maklik: “vergeef ons ons sondes.” En dikwels is drank en seks die groot vyande wat ons so hamer as sondes. Intussen loop baie van ons sondes onherkend in ons lewens rond – as die balk in ons eie oë. Vir jong mense, hulle wat aan die begin van hul geestelike reis staan en soek om hierdie reis in al sy volheid te ervaar, kan besinning oor die sewe sondes insigryk word. En ek kan my indink dat baie preke verryk sal word as hulle gereeld hierdie sondes in al hul vorme bedink as uitdagings wat in die geestelike reis beleef word.

Die sewe sondes help dus nie net jongmense nie, maar ook die pelgrim in die algemeen om na te dink oor die geestelike reis. Soos Aucamp skryf, het die sondes uiteindelik ‘n godsdienstige en morele kwaliteit. Dit wil nie ‘n stukkie wettiesheid uitstal nie, maar wil ons aanspoor tot ‘n lewe van stryd en heiligheid.

Dus maak dit sin om te sê dat ons geestelike reis ‘n stryd teen die vernietigende dinge in ons lewens is. Ons verhouding met God is ‘n sagte, breekbare verhouding wat daarom ten alle koste versorg en gekoester moet word. Daarom moet ons weet wat breek ons af en waarop moet ons let. En dit help ons besef dat ons nie God se genade deur ‘n lam geestelike reis moet verspeel nie. Ons kan nie in hoogmoed en in traagheid leef as ons egte geluk wil vind nie. Natuurlik is dit net ‘n begin. En ons sal baie verder as hierdie sondes moet gaan om al die klein jakkalsies te herken.

En om ons te help, het die wyses van die eeue, die geestelike moeders en vaders, die mistagoë, vir ons die kragte benoem. Ons leer van hulle omdat ons ons verhouding met God wil verdiep wanneer hulle oor die doodsondes praat. Met hulle begeleiding oor die opvallende rotse in ons pad waaroor ons kan struikel, vertrek ons op ons eie geestelike weg. Ons moet natuurlik ons eie pad loop, want hulle wys vir ons alleen maar bakens aan vir ons eie pad vorentoe. Ons soek daarom na al die nuwe, verleidelike manier waarop die verkleurmannetjie-sondes van hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns en traagheid telkens weer vir ons wegkruip terwyl hulle in ons tier en ons innerlike lewe verduister.

Wat my eintlik by my eintlike punt bring en by my gereserveerdheid oor die sewe sondes. ‘n Mens kan jou lam baklei teen al die hubris wat daar in jou lewe is. Of jy kan hard teen acedia swoeg om in die geestelike reis nie lam te raak en uit te sak nie. En ‘n mens soek ook hierdie stryd, maak geen fout nie, ons het juis dissipline en toewyding as geestelike gawes bitter nodig.

Maar vir my is alles nog net half gedoen as ‘n mens so op sewe doodsondes fokus. Paulus, die mistagoog wat bitter ervarings in sy gemeentes gehad het, het nie verniet in Galasiërs 5:22 nege aantreklike deugde uitgespel nadat hy so uitvoerig oor die sewentien vleeslike dinge geskryf het nie. En vir my is daar iets bonatuurliks aantreklik in daardie onvergeetlike vers in Filippense 4:8. Paulus vra ons om ‘n paar dinge te bedink en daaroor te mediteer: “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. “ As ‘n mens jaag na ‘n sfeer van heiligheid, om by God te wees, skryf hy, sal die God van vrede met ons wees. Hy begin juis sy mistagogiese opmerkings in vers 7 met hierdie boeiende oproep: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en jul sinne bewaar in Christus Jesus.”

Ons kan saans ons kop neerlê, in die liefde versink, met ‘n goeie gewete verder op God wag wanneer ons ‘n lewe soek waar daar geen ruimte is vir die onkruid wat ons geestelike lewe versper nie. Die geestelike reis is nie altyd maklik nie. En daar is baie verleidelike omleidings en afdwaalpaaie. Maar ons loop die nie alleen nie. God is daar en God gee ook vir ons die geestelike bakens van wysheid van al die ander wat voor ons hierdie reis afgelê het. En uiteindelik tel hierdie verlange na God en wees-by God die meeste.

Dit is per slot van sake waarom die groot mistici en die aantreklike spiritualiteitskrywers gefokus het op die navolging van Christus. Dink Christus, volg Jesus. Vanuit hierdie lewegewende sfeer en verbintenis word die geestelike reis ‘n verkwikking en nie ‘n bitter, moralistiese stryd nie.

As jy elke dag in ‘n huis leef waar mense naby aan jou jou lief het, jou vashou, vir jou omgee, sal jy in volmaakte vrede alles doen om ook vir hulle getrou te wees en vir hulle ‘n hawe van liefde te skep. Dit is nie anders in die geestelike reis nie. Om by God te wees is waarom ons stry teen sonde.

Dit is eintlik nie nuwe insigte nie. Evagrius van Pontus wat hierbo genoem is, het lank nie net in sy Praktikos net oor die sewe doodsondes geskryf nie. Hierdie beroemde en invloedryke mistikus het beklemtoon dat die mistieke kern van die geestelike lewe is om rus in God te vind. Daarom was hierdie rus, of die hesugia, vir hom ‘n kernwoord. En hesuchia, het hy geskryf, is die voordurende besig-wees met God wat in ‘n mens se mees verborge innerlike plaasvind.

Mooi.

Hier volg nou die interessante stukkie jeugspiritualiteit, oorgeneem van http://www.thebanner.org/magazine/article.cfm?article_id=1330. Vir my is daar oulike idees wat met vrug in ons eie konteks nuut bedink en probeer kan word.

The Seven Deadly Sins: Still very much alive

by Bill Harris

Mentioning the seven deadly sins brings a lot to mind—just ask a teenager.

“Sloth,” volunteered several boys at church. “They’re the names of villains in Full Metal Alchemist,” said an anime devotee.

For others, it’s Brad Pitt. “After the movie Seven, the seven deadly sins have a cultural currency,” notes Calvin professor Rebecca Konyndyk DeYoung. After all, “everybody finds sins intriguing.”

For DeYoung, sins can be diagnostic tools for spiritual growth, especially for young adults. She developed that viewpoint teaching seniors at Calvin. As a class project students had to present each of the seven sins as part of late-night devotions in the college dorms.

“My only requirement was that it be interactive,” she said. “It was totally a blast.”

DeYoung also taught the course for high schoolers at her home church. Out of this experience has come The Seven Deadly Sins, a new study from Faith Alive Christian Resources for high school teens and young adults.

Whether in college or high school, students want to live faithfully and authentically as Christians, explains DeYoung.

“A lot of them have been taught ‘Jesus, please forgive my sins’—they have a very clear sense of justification but a very thin sense of sanctification,” explains DeYoung. “Students often lack the discipline of reflecting on their lives. By articulating what the sins are in our lives, we can then try to root them out.”

Learning to name the problem makes a big difference for teens, adds DeYoung. “Rather than trying to make up stuff to convince them that something is a sin, we focus on their experience. As soon as they find that label for the experience they already know, you get this ‘ah ha’ moment.”

Like the dorm presentations, The Seven Deadly Sins uses an interactive approach. For example, in the unit on anger students keep a journal for a week, noting what they got angry about and why, and rating each incident.

“Once you have identified the problem then you can do something about it,” DeYoung explains. “Kids are interested in more than just a superficial Christianity, they want a lived discipleship. It’s a whole way of life. And that’s just so Reformed.”

A sample chapter from The Seven Deadly Sins is available at www.FaithAliveResources.org.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive