Sunday, January 03, 2010

Uitgestuur buite my vertroude vriendekring. Oor God se roeping.

In sy “Encounters with Silence” skryf Rahner ‘n hoofstuk oor “God of my Brothers.” Hy begin die hoofstuk met God se roeping tot sy werk:

“God,” skryf hy, “U het my geroep om onder mense te werk – wat ‘n swaar las en groot verantwoordelikheid is. U het my weg van Uself gestuur na mense vir wie U wil red.”

Hy skryf dan dat dat hy sy lewe lank met mense gewerk het en dit geniet het. Dit is dus vir hom nie vreemd om uit te reik na hulle nie. Dit was ook nie vir hom ooit ‘n kwessie om by mense te wees nie. Hy het altyd graag onder sy goeie vriende en uitverkore kennisse gekuier. Maar nou, vervolg hy, is dinge anders: God het hom uitgekies na mense wat God self gekies het. En hierdie mense is nie dieselfde persone by wie hy voorheen graag gekuier het nie.


En hy is nie deur God gestuur om vriende met hulle te wees nie. Dit is op hierdie punt dat Rahner byvoeg: “ek weet U het my gestuur om hulle dienskneg te wees. En wanneer ek moeg raak vir hulle, is dit nie ‘n teken dat ek my uit die voete moet maak nie – soos ek in die verlede gedoen het nie.” Dit is, merk hy op, eerder God se opdrag om te bly.

Hiermee bevraagteken Rahner grondiglik ons patroniserende houding tot ander in ons geestelike werk: ons ontmoet ander mense op óns voorwaardes, verkeer gesellig met hulle so lank dit óns pas en kuier lekker by mense wat ons uitgesoek het. En al die ander val buite ons kring van uitverkorenes. As ons goed doen, is dit omdat ons kies om goed te doen en is dit dikwels tot ons heimlike trots dat ons so vroom is.

Maar God keer hierdie waardes om wanneer ons tot die goddelike diens geroep word: ons is by mense omdat ons in God se naam na hulle uitgestuur word. Ons moet eenvoudig na ander uitreik. O
ns houding teenoor ander word beslissend bepaal bloot deur die feit dat God hulle uitkies as mense na wie ons gestuur word.


Hoe anders is dinge tog wanneer God keuses maak.



En dit bring mee dat ons onsself moet gee ongeag wie die mense is en ongeag hulle reaksie en houding teenoor ons. En dan is ek nie die “goeie” ou wat uitreik na hulle daar “onder” nie. Ek raak betrokke in ‘n verhouding met ander omdat ek ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle het.



Dit alles klink swaar en donker. Dit lyk na “plig” en “harde werk.” En as dit swaar is om uit te reik na mense buite ons veilige vriendekring, is die werk sekerlik nie maklik nie. Tog kom die opdrag van God. Ons diens aan mense is nie van ons maaksel nie, maar moet ons terugvoer op God se wil. Dit is werk wat deur God bekragtig word: Soos Rahner verder opmerk, God gee ons “heilige” krag om hierdie werk te doen.


Ons word ook aangevuur wanneer ons besef wie die mense is na wie ons uitreik. God help ons om in te sien dat hierdie mense God se skepsels is. Hulle is nie sendingobjekte nie. Ons deel met hulle kindskap van God, 'n gemeenskaplike mensheid.



Wat egter swaar in ons eie gemoed werk, kan dikwels omkeer in 'n verrykende ervaring. Hoe dikwels het ek die vrug van hierdie uitreiking na ander ervaar – selfs wanneer ‘n mens aan ‘n deur klop aan die einde van ‘n dag wanneer mense liewer rustig wil eet en hul sepie wil kyk. En as ek, baie outyds, saam ‘n Bybelteks gedeel het en ‘n gebed gedoen het, was daar meestal net toegeneentheid, dankbaarheid, vriendelikheid en waardering. Dit het my dikwels verbaas hoedat die oorsteek van grense, die gehoorsaamheid aan God se bevel tot uitreiking my verryk het. Dit is die harde werk wat uiteindelik vrug dra en seeninge inbring.




Trouens, ek is vas oortuig dat ‘n bediening ryklik geseën word wanneer die leiers in die gemeente in ‘n gees van diens getrou uitreik na ander. Dit is nie om dowe neute dat opnames bewys het dat goeie prediking en getroue huisbesoek die sleutel tot gemeentegroei is nie.


Weer eens, egter: ons gee om vir ander nie omdat ons vol kerke wil sien nie. Ons gee om vir ander en reik na hulle uit omdat God dit van ons vra.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive