Saturday, November 12, 2011

Gebed en mantra’s (2)



Verrinneweerd, maar wagtend en gereed vir die Gas....


Gister het ek bietjie besin oor mantra’s wat ‘n mens op die eerste oogopslag kan herinner aan so iets soos die Jesus-gebed. Die Jesus-gebed is ‘n ou Christelike tradisie wat daarop neerkom dat ‘n mens ‘n frase soos Kyrie Eleison (Here, ontferm U oor my) aanmekaar herhaal sodat ‘n mens vanuit ‘n gebedshouding leef.

Mantra’s is vandag besonder gewild by baie Westerlinge as ‘n poging om innerlike vrede te midde van hul stormagtige en gejaagde bestaan te vind. ‘n Mantra is ‘n frase of woord wat met intense konsentrasie herhaal word en wat ‘n mens se innerlike op verskeie maniere staal en stut.

Wanneer ‘n mens na die Bybel kyk, kry ‘n mens soms gedeeltes wat aan mantra’s herinner. Daar is byvoorbeeld byna mantra-agtige Psalms. Dink maar aan Psalm 136 met sy herhaling (26 keer) van die frase: “aan sy liefde is daar geen einde nie” aan die einde van elke sin.

Die herhaling van die frase bewerk ‘n wonderlike en intense fokus op die Goddelike uitreiking in liefde na die mens. Wie aanmekaar op hierdie manier oor die liefde sing, kan ingetrek word in ‘n atmosfeer van geborgenheid. Dit is asof ‘n mens daarmee wil uitdruk dat jy nie genoeg daarvan kry dat God liefde is en dat ‘n mens gedurig in die bewussyn van hierdie liefde wil bly leef. ‘n Mens word deel van ‘n liefdesruimte wat soveel groter as ‘n mens is en wat ‘n mens se lewe vul met ‘n eindelose rykdom.

Hierdie Psalm wys egter op fundamentele verskille tussen Christelike gebed en Boeddhistiese mantra’s. Dit is, trouens, ‘n wesenlike verskil tussen mantra’s en Christelike gebed.

In die fokus van hierdie Psalm en in Christelike gebede lê die genade en die liefde wat van buite na die mens kom. God skenk die liefde. Anders as in ‘n mantra, reik die mens nie uit na God om hierdie liefde te bewerk nie en om daarby uit te kom nie. Deur die herhaling van die liefdesuiting in Psalm 136 besing die Psalmis juis hierdie liefde wat God sonder enige inisiatief van die mens se kant af uitgedeel en geskenk het.

Hiermee saam hang ‘n verdere insig: Die Christelike gebed is ‘n reaksie van die mens op die intimiteit wat gevind word in God se teenwoordigheid in mense se lewens. God self, bely die Christendom, is as “Persoon” by mense en kom ongevraagd om die mens in liefde aan te raak. God bly die een wat uitreik en handel. In Psalm 136 word byvoorbeeld ‘n klomp dinge opgenoem wat God gedoen het. Liefde het dus allereers te doen met ‘n verhouding tussen die persoon van God en die mens as persoon. Wat die mens ervaar is hoe Iemand hom of haar in ‘n intieme eenheid opsoek en Sy eie maak. God is nie een of ander onpersoonlike mag wat ‘n mens deurtrek en besiel nie. Steeds weer bly die bidder bewus van alles wat God altyd doen om vir mense die heil te skenk. Juis daarom kan die mens met God praat, by God in stilte wees en reken op God se intieme nabyheid. En juis daarom is dit ‘n liefdesverhouding.

‘n Verdere moment help ook om die verskil van gebed en mantra’s te verduidelik. Telkens weer word gebed binne ‘n Christelike konteks gedra deur die bewussyn van hoe afhanklik ‘n mens in sy of haar swakheid van die Goddelike bemoeienis is omdat ‘n mens self nie altyd orent kan bly nie. Die ondertoon is dat ‘n mens feilbaar voel en slegs in die teenwoordigheid van die Ewige Liefde krag ontvang en uitleef. Die belangrike is nou dat die menslike moment, die menslike swakheid nie in gebed ontsnap of agtergelaat word nie, maar die mens word in sy of haar swakheid word getransformeer en geheilig. In hierdie proses ontdek die mens ook al hoe sterker dat eenheid met God vra afstand van die kwaad. ‘n Mens word in swakheid gesteun om met nuwe momentum ‘n lewe vol sin en betekenis, sonder die kwaad, te voer. Dit sluit ook die liggaam in – met al die emosies, gevoelens, passies en innerlikhede wat deur of in die liggaam beleef word.

In die Christelike gebed verdwyn die bidder nie van die toneel af om opgeneem te word in die Oneindige nie en in totale niksheid weg te sink nie. Dit is wel waar dat die bidder “minder” word en God meer. Of dat die bidder nie meer leef nie, maar Christus in hom of haar. Dit beteken egter nie ‘n wegraak of verdwyn van die mens nie.

Uiteindelik is ‘n mens deur gebed aktief in die wêreld betrokke. Trouens, die bidder soek om vanuit sy of haar swakheid getransformeer te word tot aktiewe meelewing met ander en tot transformasie van die skepping van God. Deur een te word met die liefde van God, word die bidder ‘n agent vir verandering. Dit beteken ‘n stryd teen kwaad en ongeregtigheid, insette tot ‘n gemeenskap van liefde en bewaring van God se skepping.

Tog kan ‘n mens van die Boeddhisme bewonder dat dit die aandag vestig op verinnerliking en konsentrasie. Gebed is nie maar net ‘n gepraat met God nie. Dit is ‘n intieme beskikbaarstelling met alles wat in die mens is vir God om in die mens te werk. Daarmee word die hart van die mens met mag en mening, met ‘n innerlike verlange en konsentrasie oopgestel as woonplek vir God van waaruit alles wat ‘n mens dink en doen in die teken van die liefde te staan kom. 

Verder is die een wat bid nie bloot die passiewe ontvanger nie. Hy of sy soek aktief om vir die onverwagte koms van God gereed te wees. En van die mantra’s kan ‘n mens ook leer dat ons verlangende taal in ons ‘n verlangende, afwagtende lewenshouding skep wat ‘n oop ruimte word vir die koms van God. Wat tel is nie die oor en oor herhaling van woorde nie, maar wat tel is hoe die herhaling van woorde ons hart fokus op God, die bron van die liefde.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive