Terwyl hy en ek oor die eiland na die vergader- en blyplekke vir ons beplande konferensie ry, praat ons oor ‘n klomp sake. Onder andere raak ons ook aan die sosiale situasie op die eiland. Hy vertel my van die groot opspraak wat daar in Malta was toe die regering wetgewing ingedien het om egskeidings te wettig. Sommige geestelikes was heftig daarteen gekant en het lidmate van die kerk met die verdoemenis en hel gedreig as hulle vir die wetgewing sou stem.
Dit is toe dat hy ‘n artikel daaroor skryf wat in die plaaslike media verskyn en groot opspraak verwek. Hy is na die publikasie daarvan oorval deur allerhande reaksies – van teenstanders wat hom verkwalik tot voorstanders wat hom geluk wens.
Maar eers dit: Ek is op die oomblik besig om juis ‘n bietjie te skryf oor onderskeiding. Gister se blog het oor die plek van die gewete in onderskeiding gegaan. Deel van onderskeiding is om gereeld en versigtig ‘n mens se gewete te ondersoek. Daarmee bedink ‘n mens op ‘n kritiese, onderskeidende manier die dinge wat elke dag in ‘n mens se lewe plaasvind wat ‘n mens van God skei. Dit is belangrik om ‘n mens se gewete so te ondersoek, op die belangrike voorwaarde dat ‘n mens nie vasval in ‘n obsessiewe, negatiewe sondebesef nie.
Dit net kortliks om te verduidelik waarom ek oor die res van ons gesprek, terwyl ons in reenweer oor pragtige eiland ry, verwonderd is. Dat juis in die tyd van my nadenke hierdie tema so prominent in my gesprekke hier op Malta na vore kom!
My kollega vertel my dat hy die verdoemende oordeel van sy mede-geestelikes teen lidmate wat vir ‘n egskeiding-wetgewing sou stem, verwerp omdat hy vas glo dat ‘n mens niemand in sy of haar gewete moet bind nie.
Soms, vertel hy, kom daar in ‘n mens se situasie en in jou geestelike reis ‘n tyd dat jy deur jou gewete gedwing word om ‘n besluit te neem wat teen alle gevestigde norme, strukture en magte ingaan. Dit is dan vir jou ‘n gewetenssaak wat jy op ‘n baie persoonlike vlak voor God vir jou uitgemaak het. Dit gebeur nie ligtelik nie, veral omdat jou besluit teen alle bestaande wysheid ingaan. Die besluit word na hewige worsteling en na ‘n proses van deeglike onderskeiding geneem. Dit is jou besluit wat jy alleen voor God neem en niemand het die reg om jou daaroor te veroordeel nie.
Hierdie gewetensbesluit hang saam met ‘n grondmotief in die geestelike lewe. Elke mens het die vryheid om te besluit en moet die vryheid gegun word om besluite te neem wat nie noodwendig met die kerklike leer en dogma klop nie.
My kollega vertel: Dit is niks nuuts wat hy oor die kwessie skryf nie. So het die kerk oor alle eeue gedink en hy sluit bloot net daarby aan. Die mens is in sy gewete voor God gebind om in vryheid te doen wat hy of sy glo reg is. Wat hy sê is ook nie vreemd nie, want dit is byvoorbeeld ‘n saak wat sterk deur die huidige pous verdedig is.
Ek word deur ons gesprek skielik weer bewus van die deurslaggewende rol van die gewete in die geestelike reis van die gelowige mens. Gedurigdeur moet ‘n mens jouself afvra of jy dinge kan doen wat in spanning met jou gewete staan. En die manier waarop ‘n mens jou gewete ondersoek is om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is, tussen wat God wil en wat teen God se wil is.
My gesprek met my kollega laat my iets beleef van my nadenke oor spiritualiteit en onderskeiding. Die ondersoek van ‘n mens se gewete kan baie belangrike gevolge hê. Onderskeiding kan ‘n mens bring tot op daardie punt dat ‘n mens teen alle wysheid in, teen al die gevestigde opinie’s en gewoontes, jou eie kop moet volg.
Dink maar hoe duidelik die kerkgeskiedenis dit uitwys: Franciskus van Assissi, Jan van die Kruis, Luther, en menige ander het ‘n punt in hul lewe bereik waar hulle met groot waagmoed die bestaande orde uitgedaag het.
Imitatio Christi….
Dit is dus te verstaan dat die geestelike leiers van alle tye beklemtoon het dat onderskeiding ‘n geestelike praktyk is wat ‘n mens gereeld, daagliks en met groot toewyding moet toepas deur ‘n mens se gewete te ondersoek.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.