Sondagmiddag woon ek by die konferensie die bespreking by van Belden Lane se nuwe boek oor Calvinistiese spiritualiteit. Die titel is Ravished by Beauty. The Surprising Legacy of Reformed Spirituality.
Dit titel is veelseggend: Calvinistiese spiritualiteit gaan volgens die boek oor vervoering met skoonheid. En: dit is nogal ‘n ongewone perspektief waaroor mense verras sal wees.
Lane is ‘n ou bekende op hierdie terrein van Gerefomeerde Spiritualiteit en het al vele publikasies daaroor die lig laat skyn. Hy weet waarvan hy praat. Ek het reeds lank terug van sy artikels oor die onderwerp gelees. Hy ken die Hervormer en hy ken sy spiritualiteit. Hy is een van die mees gevestigde spesialiste oor die spiritualiteit van die gereformeerde wêreld.
Die groot saal sit vol met mense wat na die bespreking wil luister. Die paneel van vier sprekers, almal bekendes in eie reg, bied elkeen ‘n interessante respons aan. Ek is nogal verras oor die groot belangstelling.
Wat Lane so ‘n interessante figuur maak is dat hy as Gereformeerde denker en as deeglike kenner van Calvyn, (duidelik met die brein en die hart), ‘n dosent aan ‘n katolieke instelling is. Hy verwys uitdruklik in sy eie reaksie op die vier besprekings van sy boek wanneer hy vertel dat hy veel van sy geestelike groei en van sy belangstelling in die spiritualiteit te danke het aan hierdie blootstelling aan en betrokkenheid by ‘n Rooms-katolieke instelling (St. Louis University).
(Die omgekeerde gebeur nogal ook. Daar is voorbeelde van Rooms-Katolieke wat by Gereformeerde instellings spiritualiteit doseer – soos bv. Elizabeth Lietaert by die Presbeteriaanse seminarie in San Francisco. Sy speel ‘n prominente rol in die Vereniging van Christelike Spiritualiteit wat hierdie byeenkomste reel).
Ek merk ‘n deeglike apologetiese sub-teks aan Lane se werk. Hy beveg die stereotipiese opvatting dat Calvinistiese suurpruime is wat met knyp-lippe en –knieë die lewe vanuit ‘n swart bui sit en betreur. Daarom beklemtoon hy dat Calvyn sy wyntjie geniet het en beklemtoon hy met watter passie Calviniste altyd weer besef het hoe die natuur die lof van God besing.
Maar Lane is duidelik ingestel op ‘n belangrike fokuspunt in die kontemporêre Amerikaanse wêreld. Eintlik gaan die boek oor eko-spiritualiteit – en etlike van die sprekers verwys in hul reaksie op Lane na sy fokus op ekologie. Dit is duidelik dat ekologie tans in die hart van die belangstelling van die Amerikaanse godsdienstige wêreld staan.
Maar wat my tref is hoe Lane sy boek vanuit ‘n persoonlike hoek benader – asof hy daardeur die motief van self-implikasie, so eie aan spiritualiteit, ekspisiet wil verwerk.. Hy vertel van al die afsonderingsgeleenthede wat hy oor die jare begelei het toe hy mense in die “wilde” omgewing van sy tuiste uitgeneem het om na te dink oor hul geestelike reis. Die gesprek is deurtrek met staaltjies oor die skoonheid van die natuur en die ervaring van mense wat in die woeste natuur te doene kry met wilde diere. In hierdie ervaring vind ‘n mens ‘n diepe begeerte na God en na die wildheid van die lewe. Die mens het ‘n sterk verlange om in die skoonheid van die natuur die heerlikheid van God se genade te vier. Lane deel hierdie vreugde in die natuur. Dit is sy ervarings oor jare heen wat hy in hierdie boek met ander deel.
Ek sit en dink hoe sterk hy twee keer beklemtoon: God is die heerlike God, wat in volle skoonheid in die natuur herken kan word. Maar steeds weer, voeg hy beslis by, moet ‘n mens in gedagte hou hou God in die kruis die vernedering en laagheid opneem. Daarom moet ‘n mens nie die wilde vreugde in die natuur beklemtoon ten koste van God se self-gawe in die dood nie.
Die “wildheid” van die natuur word nietemin by hom ‘n simbool van die “wildheid” van God. In plaas van ‘n suurpruim Calvinisme teken Lane ‘n prentjie van ‘n spiritualiteit wat soek om God te verheerlik weens en in die wilde skoonheid van die natuur. Hierdie begeerte is kenmerkend van Calvinisme, stel hy – maar altyd weer moet ook hierdie begeerte getem word sodat die nie omslaan in ongesonde drange en luste nie. Deur hierdie begeerte resoneer die geestelike mens dus met die natuur van God, maar onthou ‘n mens ook die kruis as die skadukant.
Lane, volgens een van die sprekers, ‘n befaamde prediker, skryf nie net ‘n teoretiese boek oor Calvinistiese spiritualiteit nie. Hy wissel elke hoofstuk, vol teorie, af met gedigte, vertelings of persoonlike anekdotes. Later in die bespreking word hy nog uitdrukliker ook waar hy as person in al die werk oor spiritualiteit staan. Deesdae, sê hy, is daar in hom ‘n behoefte om veel meer gedigte te lees as ooit voorheen. Hy begin al hoe meer besef hoe belangrike digters op ‘n indrukwekkende manier oor God praat – soveel so dat dit vir hom soveel net soveel leer as indrukwekkende teologiese tekste.
Toe ek die boek na die tyd wil koop, is dit uitverkoop. Jammer. Ek het veel uit die bespreking geleer, maar ek sou nog graag verder wou lees. Ek bly sit met ‘n paar goeie gevoelens. Dit is duidelik dat ons op nuwe maniere na Calvyn kan kyk. Dit was goed om te sien hoe indringend en diep mense uit die Calvinistiese tradisie met soveel nuanses oor Calvyn kan praat. Meer nog – ek hou daarvan dat die Calvinisme op hierdie manier van Lane met lewensdrif en lewensveugde verbind word. Maar veral boeiend is vir my om te sien en te luister hoe vele nie-Calviniste opdaag om te hoor hoe daar oor Calvinistiese spiritualiteit besin word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.