Tuesday, November 29, 2011

Die mistiek van ons tyd


Terug by die huis en na ‘n stewige nagrus (die terugreis was elf uitgerekte ure lank), staan ek in ons dorpie op onder ‘n blou hemel en ‘n geel, warm son wat alles om my in somer se vrolike lig laat baai en wat in my kom lê soos 'n eerste, egte liefde.

Op ons balkon, staan ek minute lank en indrink aan die geil groen van die eikebome. Ek verstaan waarom groen in sommige godsdienste die kleur van die goddelike is as ek hulle sien. Ek bekyk hongerig die Pieke, dan die berg van Predikant Simon, die herder en leraar van my voorvaderlike Hugenote en soek daarna weer die kop aan die oorkant van ons nommer eerste rivier gretig op. Hy staan nog daar – klein meneer tussen al die groot ooms wat om hom die lug inpeil. Vanaand, as die son ondergaan, sal hy bo hulle, die groot menere, uitstyg wanneer hy in ryk, onoortreflike kleure sy aandgewade gaan aanpas. 

Ek is tevrede. Alles is nog netjies in hulle plek.

Middag draf ek my ou, bekende drafroete, op teen die bergpad, terwyl ek my verloor in die mistiekheid van die vallei soos dit tydloos lê en wag om bekyk te word en geniet te word. Elke draai in die pad is ‘n tuiskoms, elke fynbos langs die roete ‘n ou kennis.

Dit was ‘n lang 14 dae sedert ek dit die vorige keer kon draf. Ons herontmoeting is soet, die dag is mooi, my vrede lê diep. Ek is in dankbaarheid naby aan God.

Die hele dag deur bly ek kou aan ‘n belangrike gesprekspunt tydens die byeenkoms in San Francisco. Mistiek, het verskeie sprekers beklemtoon, is lank nie meer bloot te assosieer met die ekstase of die persoonlike ervaring van individue nie. Dit is ook nie meer iets wat in afsondering in die woestyne of in kloosters na mense kom nie. Die mistiek van ons tyd, vertel die groot spiritualiteitsdenkers van ons eeu, is dieper, mooier, konfronterender. Dit is die mistiek van die alledaagse. Om God rondom jou te ervaar, om die Verborgene ‘n aanraking ver te ontmoet.

In ons tyd sal mistici die eenheid met God in die mees gewone en alledaagse dinge ondervind. God,  besef ek tydens die gesprekke, het eintlik baie nader aan ons gekom as ooit tevore. Naby, na aan God, digby die Verborgene, die Diepste van alle dinge, kom ‘n mens by jou opstaan en jou rondgaan, wanneer jy om jou kyk en wanneer jy alles wat in geloof vir jou kosbaar is, met ‘n gevoel van herkenning en ontmoeting rondom jou kan ervaar. Die aanraking van God in die liturgie, die lees van die Woord, die bediening van die sakramente, die studie van die Bybel, kom op ‘n ander manier tot jou wanneer ‘n mens, attent, aandag-skenkend, met ‘n verhoogde bewussyn, met opgeskerpte sintuie, ook om jou die werking van God herken.

Geloof, dink ek dikwels die afgelope tyd, maak ‘n mens bewus van hoe God orals naby aan ‘n mens is. Vandaar die geestelike fokus op die ekologie, op die liggaamlike, op die teenwoordigheid van God hier en nou. Lankal nie meer bloot verstandelik nie, is geloof die transformatiewe reis met God langs die waters waar rus is.

Geloof laat 'n mens die skepping anders ervaar, anders sien en steeds weer elke dag nuut bekyk. 

Ek gaan gooi petrol in by die garage hier onder in die straat waar ek ‘n ou kliënt is. Die petroljoggie, onbekend aan my, groet vriendelik en wil weet hoe gaan dit met my. Hy bedien my met meer as rojale vriendelikheid. Die vrou agter die toonbank lag vrolik toe ek vir haar sê sy lyk nes Patricia de Lille se suster en sy moet vir haar suster vra of sy nie vir my ‘n werkie in die parlement kan kry nie.  Baie mense het al vir haar gesê sy lyk na Patricia, antwoord sy – haastig om my gespottery oor te vat. Sy weet darem nie of ek in die parlement moet gaan werk nie, ek lyk dan glad nie skelm nie…. Die vriendelikheid van die ander een, onbekend aan my, vervul my verder met geneentheid op hierdie goeie dag.

Ek stap na my motor nadat ek vir die petrol betaal het. Oorkant die straat staan drie klopse in hul tooisels, besig om vir die kafee-gaste te sing vir ‘n bietjie geldjies. Hulle klere het die beste dae agter die rug, maar die oop-en-toe sang is ewig nuut, eg Kaaps, vol musiek en laat die somer-ligtheid nog dieper in my hart wegsink.

Ek is tuis, dink ek, as ek na hulle gesing luister.

My hart bly hier, weet ek. En dit is meer as ‘n fisieke tuiste. Dit is ‘n plek van tevredenheid, van vredigheid, van innerlike behoort. Hier, na al die kilometers van rondry oor drie kontinente heen, voel ek naaste aan God. Ek is verbind met die aarde waar ek ‘n plekkie gekry het om my kop neer te lê. God se nabye goedheid, voel ek op die sag-blye someroggend, woon ook in die berge en in die dale, in ons plekkie en ook naby aan en in my.

Oweral is God. 

Dit is betowerend – hierdie alomteenwoordigheid van die ewige Skoonheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive