My kollega in Malta laai my by die lughawe af na die oggend se vergadering met die Raad van sy Instituut vir Spiritualieit. Ons het met die Raad ons komende simposium suksesvol beplan en in ‘n lang sessie vrugbare samesprekings oor toekomstige samewerking gehad.
Ons is albei dankbaar en tevrede oor die goedheid van die oggend en die geestelike band wat deur ons gemeenskaplike belangstelling en saam-wees oor twee dae opgebou is.
En, om alles te kroon, gebeur dit by hulle gemeenskap se eeu-oue tuiste in Mdina – een van die mooiste stede in Europa. Hier, in die geskiedkundige ruimte, sal ook ons simposium volgende jaar gehou word.
Ons twee spandeer by die lughawe nog ‘n laaste uurtjie oor ‘n koppie tee vir ‘n finale gesels – ons weet die tyd was eintlk te min vir alles wat ons gemeenskaplik deel en waaroor ons nog dae lank sou kon praat. Ons deel nog ‘n paar laaste gedagtes en wenke met mekaar.
Ek is beïndruk deur sy akademiese werk by die universiteit. Dit is kwaliteitswerk, maar ook innoverend. Ek vind aanklank by sy kreatiewe omgang met spiritualiteit. Een van sy student, vertel hy byvoorbeeld vir my, het ‘n stuk navorsing ingehandig oor die verhouding tussen die fliek, Twilight, die bekende werk oor “goeie” vampiere en – van alle mense – Jan van die Kruis.
Maar hy het die stuk nie goed gevind nie, hoewel hy gedink het die student se intuïsie is reg en dat ‘n mens die twee wel met mekaar sou kon vergelyk. Die student wou in sy navorsing aantoon dat die vampier in die reeks die soort geestelike groei toon wat Jan van die Kruis in sy werke beskryf deurdat hy lief raak vir ‘n meisie en haar ‘n vampier maak om vir ewig by haar te kan wees.
Maar my kollega vind die toepassing te maklik en ongeloofwaardig. Hy wou eerder gehad het dat die student die vampier korrek verstaan as die argetipe van die oer-kwaad – die bose wat in die “twilight” leef en nooit tot rus kom nie omdat die vampier ‘n bloedvergieter is en gelaai is met skuld-besef. En as rustelose vernietiger van die lewe, staan die vampier as argetipe juis teenoor enige vorm van geestelike groei. Die vergelyking met Jan van die Kruis is dus nie korresponderend nie, maar antiteties.
Ek luister met belangstelling, veral omdat my kollega ‘n voorstander is daarvan om sensitief te wees vir hoe in ons nuwe tyd spiritualiteit op ‘n nuwe manier beleef word. Elke nuwe era het ‘n nuwe vormgewing van spiritualiteit, argumenteer hy. In ons tyd baat dit dus om te luister hoe jongmense hul intuïtiewe spiritualiteit vorm gee, want dit vertel ‘n mens hoe mense in ons td hul geestelike reis uitbeeld en ervaar.
Dit lyk my belangrik. En, in tye waar daar so vinnig nuwe breuke en omslae kom, moet ons uitkyk op nuwe vorme van spiritualiteit gedurig getoets word.
Ek sien uit om in die toekoms met hom saam te werk oor hierdie wyse van nadenke oor kontemporêre spiritualiteit.
Maar nadat my vliegtuig die pad begin terugvat, bly ook ander aspekte van ons gesprekke nog by my draal. Ek het veel plesier gehad aan twee verhale wat hy my vertel oor die huidige pous. Hy het die pous twee keer op ‘n ongewone manier ontmoet. Toe hy in Rome op ‘n keer was, het die pous, toe nog ‘n kardinaal, bekend geraak as iemand wat heel erg oor katte was. Hy het die katte in die omgewing waar hy gebly het, gereeld kos gegee. Op ‘n keer het hy die pous gesien op pad na die Vatikaan toe, maar terwyl hy deur die straat loop het ‘n klomp katte agter hom aangetou. Hulle het kennelik geweet watter kant hulle broot gebotter was….
En ‘n ander keer, vertel hy my, het die pous, die ernstige teoloog en skrywer, toe hy al pous was, boeke nodig gehad. Hy het blykbaar summier die pad uit sy kantoor en blyplek in die Vatikaan gevat om boeke te gaan haal. In die proses het hy vergeet dat hy pous was. Hoogs ingedagte het hy die pad gevat, straat=af, met net die een ding in gedagte. Blykbaar was daar toe net chaos op straat. Orals het mense verstom om hom begin saamdrom, want sonder enige bewaking en begeleiding kom een van die bekendste mense op die planeet rustig die straat afgestap, onbewus van wat hy eintlik aan die doen was.
Twee mooi anekdote’s, dog ek, wat met smaak en groot humor vertel word. Maar iewers belig dit vir my kante van die pous, wat ek steeds onthou as Kardinaal Ratzinger, waarvan ek nie bewus is nie. Dit boei my dat my kollega, iemand met ‘n oop gemoed, met my inligting deel wat volgens hom daarop wys dat die huidige pous nie die geslote mens is soos wat baie dink nie.
Laat môre-aand is ek tuis, in ons hoogsomer-plekkie – bly om terug te wees waar die huis is. Maar vol ryk gedagtes. Malta was ‘n passende afronding van ‘n vol 10 dae. Tien dae, maar dit is asof ek tien jaar se gedagtes in my ronddra.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.