Tuesday, November 15, 2011

Die vulgariteit van rykdom

In die vliegtuig, op pad na die konferensie, sit ek langs 'n vakbond-bestuurder. Hy is, vertel hy my, vele tye in die jaar maklik vier dae in die week aan die reis tussen al die sentra in ons land om na vakbondsake om te sien.

Hy vertel hoe verborge die armoede van werkers vir die bestuurslede van maatskappye is. Die bestuur is ongelukkig wanneer vakbonde looneise indien wat meer is as die inflasiekoers. Hulle besef nie dat 10 persent vir 'n werker wat R1000 verdien uitwerk op 'n fraksie van die verhoging wat beterbetaalde personeel met salarisse van bv. R20 000 verdien. R100 teenoor R2000.

Stap nou met hierdie twee mense na 'n winkel - die een met R100 en die ander met R2000 - en kyk hoe leef hulle...

Ek sit en dink aan die skandalige berig in die Sondagkoerant van Afrkaanse besigheidsmense wat vele pensioenarisse van hul aftreegeld beroof het waarmee hulle onder andere 'n seiljag van honderde miljoene gekoop het. Dit is verby enige vorm van vulgariteit.

Rahner, lees ek, het vir 'n baie vroom student wat meer sekerheid oor sy geloof wou kry en wat vir hom gaan vra het watter teologiese werke hy daarvoor kan lees, vertel: "Gaan werk onder die armes en jy sal spoedig jou geloofsekerheid terugkry."

Dit is 'n verhaal wat eintlik nie nuut is nie. Dink maar aan die ontmoeting van Christus met die Ryk Jongman.

Die armes, besef 'n mens, sien ons nie meer nie. Ons loop verby hulle met ons oogklappe op. Ons werkers sien ons agter die masjiene, die besems, die ploeg. Maar ons sien hulle nie wanneer hulle kos koop met 'n plat beursie, klere aanskaf van 'n derdehandse verkoper of wanneer hulle nie skoolgeld vir hul kinders of hospitaalgeld vir hul familie kan bekostig nie.

Dit is die gelaat tot gelaat-onmoeting waarvan Levinas so veel gemaak het, wat ons transformeer sodat ons meer kan gee, nog meer kan deel met hulle wat nie het nie.

Maar, aan die ander kant, skryf iemand, is daar 'n nog groter uitdaging. Ons is flambojant oor ons eie welvaart. Ontwerpershorlosies, motors, klere, seiljagte en vele ander luukses is ons hartsbeerte. Ons begeer dit. Dit is nog verdere oogklappe wat ons sig op die Ander verberg. Die luukses staan tussen ons en die gelaat van hulle wat min het.

'n Mens word tot stilstand geruk wanneer jy hoor van die miljoene wat 'n skelm belegger op 'n seiljag spandeer met swaarverdiende geld. Miskien is hulle maar net 'n ekstreme voorbeeld van 'n hebsug wat net so donker en verdorwe ons eie lewens verduister.

Waarom sit en mymer ek oor die ander opmerking van Christus: oor die ryke wat makliker deur die oog van 'n naald sal kom as.....?

Hoekom kry 'n mens jou geloofsekerheid terug as jy deel word van die armes?

Hoe vry kan 'n mens tog word as 'n mens alleen maar verknog is aan God - weg van al die vulgariteite van uiterlike, materiele dinge.

Valse sekerhede ontneem ons van die werklike sekerheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive