Thursday, November 10, 2011

Groter as al ons woorde. Oor die Verborgenheid van God.


Dit gebeur met ons, stilweg, ongemerk, dat ons ons menslike vermoëns vergoddelik.

Maklik hok ons God byvoorbeeld in in die gedagtes wat ons oor God koester en in die woorde wat ons oor God sê.

Wanneer ons dit doen, veronderstel ons dat ons woorde oor God helder en duidelik vertel wie God is, wat God doen en wat die groot waarhede is waarin God vasgevang word.  Ons, mensekinders, kan God bekend maak…

Daar is nie fout met woorde oor God nie. Ons kan tog immers wel oor God praat. En dit is deur die woorde van die evangelie dat God mense aanraak en transformeer. Woorde oor God is goed.

Die verkondiging van die evangelie kan ‘n lewensbelangrike verskil in mense se lewens maak.

Tot op ‘n punt: Daar is grense. Altyd weer het mense gelowig geweet dat God steeds groter as ons woorde en ons taal is.

Deur die eeue het hulle gesien wat gebeur wanneer mense God in woorde wil vasvang: Trouens, steeds weer het woorde oor God die evangelie verdraai en God ‘n onreg aangedoen – soos Petrus se woorde van verraad, Thomas se woorde van ongeloof, Nikodemus se woorde van twyfel en Paulus se woorde van haat en vervolging. Om nie te vergeet van die Galasiërs se wettisisme en die Korintiërs se vrome geesdrywery nie – alles in die naam van die Evangelie.

Die ondenkbare vind soms plaas: Ons verklaar ons taal heilig: op die troon van aanbidding is daar ons netjies uitgewerkte teologieë, ons heiligverklaarde belydenisskrifte, ons suiwer kerkleer. Wie ons woorde het, dink ons, is by God. Die woorde wat ons so suiwer verkondig, is die weg en die waarheid….

Ons het God die gevangene van ons menslike spreke gemaak.

Hier word woorde lasterlik: Niemand moet ooit dink dat ons woorde God vasvang nie.

Deur die eeue heen het God telkens weer menslike spreke oor God tot niet gemaak. Die tempel is weg, die besnydenis het tot ‘n einde gekom. Die feeste van die ou bedeling vier ons lankal nie meer nie. Wat mense in lewensbelangrike rituele en strukture uitgewerk het, kon God in een kort oomblik in die geskiedenis tot niet maak. Al die groot woorde oor hierdie godsdienstige dinge het verstom.

God is groter. 

Hoe kon dit gebeur dat ons begin vergeet het dat God radikaal anders is as alles wat ons kan begryp en dink en sê? Hoe verskuild is dit dan – hierdie arrogansie van ons – dat ons die kreatuurlikheid van ons taal vergeet? Ook ons taal is deur God aan ons geskenk. Dit is deel van die skepping. En hoe kan die skepping ooit vir God vasvang? Oneindig groter, verby al die grepe van ons taal en denke, troon God uit, skuil God, leef God verborge.

Het ons die slothoofstukke uit die boek Job dan so gou vergeet – die hoofstukke waarin die Verborgenheid van God as die groot tema van die boek bely word? Job, immers, roep uit: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie…” (Job 42:3).

Die beste wat ons ooit van taal gemaak het is om dit te gebruik om oor God te praat. Maar ons taal is alleen mooi wanneer dit geknoop is met nederigheid, met insig in ons eie kreatuurlikheid. Altyd weer moet ons weet dat ons probeer om in ons woorde iets te sê oor die Verborgenheid wat anderkant ons woorde lê en groter is as die beste van ons taal.

Nederig moet ons aanvaar dat God van ons woorde kan wegstap of hulle tot die ashoop kan verdoem.

Dink maar aan die vrou in die amp, apartheid, hoede in die kerk, manelpakke waaroor daar destyds met soveel woedende woorde baklei is…

Wanneer Paulus diep nagedink het oor uitverkiesing van Israel in die diepsinnige Romeine 9-11, sluit hy af:

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Hoe lasterlik is, in die lig van hierdie Skrif-woord, die arrogante aanspraak op die onfeilbaarheid van ons God-taal. Elke geslag wat probeer het om ‘n greep op God te kry, moes met verslaentheid ontdek dat God, die Verborgene, nie opgesluit kan word in die stamelende klanke van ons wankelrige woorde nie.

Wanneer ‘n mens nie nederig oor taal is nie, is daar ander gevolge: In vergaderings, sinode’s, byeenkomste, in ons boeke, artikels en ook in alles wat ons oor God kwytraak, praat ons maklik oor God. Ons taal het God gedomestiseer, van God ‘n huishoudelike voorwerp gemaak waaroor ons beskik en wat ons kan hanteer. Ons woorde het God onskadelik gemaak. As ons oor God praat, wil ons God mooi en lieflik en gewild aanbied.

Ons het, ondenkbaar, van God ‘n aangename, lieflike troeteldier gemaak – met respek gesê. Slim, mooi woorde het ons genoeg om alles wat mooi is oor God kwyt te raak.

Eintlik is daar niks ondeurgrondeliks meer aan God nie. Niks gaan ons verstand meer te bowe nie. God is nie meer die radikale Ander Een, wat selfs ons taal tot niet kan maak nie. Die evangelie het ons onskadelik gemaak, ons woorde het die krag daarvan uitgehol.

Min het oorgebly van die onbegryplike verskriklikheid van die oneindige God wat alles uitdaag waarmee ons so verwoed besig is en van alles wat ons met soveel passie jaag.

God is nie meer ‘n bedreiging vir die kwaad in ons nie. As ons die dag kop neerlê, laat ons ‘n lewe van verskrikking agter ons: ons hatigheid, jaloesie, ydelheid, verwaandheid, onbarmhartigheid, oneerlikheid, manipulasie staan as monumente op ons lewenspad.

En met so ‘n geskiedenis agter ons, begin ons dan ook die ewigheid by God.

Daarom spog ons ook met ons wysheid: hierdie lewe is die einde van alles. Ons is tevrede as ons aan die einde van alles in vergetelheid verdwyn. Die dood, vertel ons, is daardie groot, oop leegte, die monsteragtige leegheid waarin ons aan die einde van ons lewe sal verdwyn.

Niks, dink ons eintlik, kan tog groter wees as ons taal, ons skepping, ons realiteit.

In werklikheid is dinge heel, heel anders: Deur die eeue heen het die wyses bely dat in die Verborgene word alle dinge geskape, opgeneem en gedurig gedra. Dit is die hart van geloof - hierdie Onpeilbare alternatief, die Ondeurgrondelike toekoms. Ons het geloof in God, die Een wat ons binne-neem in die ruimte, die plek, die veilige stad waar God Self die Lig is en sal wees – bely ons ook stamelend, soekend (Op.21). Dit is God, groter as ons taal, ons werklikheid, ons denke, wat ons tot die dood toe liefhet, van Wie ons alle dinge ontvang en aan Wie alle dinge sal toekom. Alles, alles en almal is in God en leef uit God.

Dit is die Verborge inhoud van ons taal wat terselfdertyd groter as ons taal is.

Arm is die een wat sy taal leer aanbid het.

Kan ‘n mens dit helderder bedink – hierdie groter, verborge Werklikheid?

Ja, ‘n mens kan tog miskien wel. Toe Jesus die storm op die see stil gemaak het, het die bang dissipels na die tyd gevra: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Hier het hulle ‘n ander kyk op Jesus gekry wat hulle nie in woorde kon uitdruk nie. Verwilderd bly hulle alleen met vrae oor. En in die tyd wat vir hulle oor was, sou hulle telkens weer verwilderd word deur wat God oor hulle pad sou bring.

Maar tog: Hulle “woorde-loosheid” oor Jesus word voorafgegaan deur Markus se beskrywing: “Hulle was met groot ontsag vervul” (Mk.4:41).  In hulle verwildering het hulle hul oopgestel vir die Verborgene.

In Hom, Jesus, merk ons dit: Hy is groter as alles wat na ons gedagtes moontlik is. Laat ons met eerbied oor hierdie werklikheid praat. Ons is in die teenwoordigheid van die Verborgene wat al ons denke en taal eksplodeer.

Dan eers besef die een wat die Evangelie van die Verborgene hoor met ‘n onpeilbare vreugde: Laat ons nie bang wees nie.

Aan Karl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive