Showing posts with label Onderskeiding. Show all posts
Showing posts with label Onderskeiding. Show all posts

Friday, June 27, 2014

Sport, teologie en die kerk: oor onderskeiding van gawes.

Ek onthou die student in my klas as 'n sportman in die ware sin van die woord: hy het op nasionale vlak deelgeneem, met al die voorbereiding, harde werk en toewyding wat met so ‘n prestasie verbind word.

Daar was by hom ‘n afkerigheid aan sy studie wat my dadelik opgeval het, byna asof hy bloot net bygebly het sonder om werklik ywerig te voel oor wat hy in sy teologiese studies bygewerk het. 

En tog was hy ‘n teologiese student, het ek gedink, wat ‘n roeping gehad het en dus ernstig daaroor gevoel het.

En, het ek bygedink, watter geleentheid is daar nie vir die kerk as so ‘n jongman in die bediening beland en net ‘n normale, goeie simbool vir ander mense kan word: dat geloof en sport nie net saamgaan nie, maar dat geloof in sport ‘n mens tot hoogtes kan inspireer, vir jou nederig, normaal en betrokken kan maak. 

En, het ek besef, die goeie sportman is gewoonlik ‘n gedissiplineerde mens wat hard werk – ‘n skaars objek waarvan die kerk nie genoeg kan kry nie.

Ek het besef dat hy opoffering moet maak wat sy studie in gedrag sou bring, dat hy tye sou moes wegwees wat hy dalk werk moet inhaal of nie ‘n toets kan skryf nie.

Elke keer weer het ons twee bymekaar gekom en ‘n oplossing bedink. Hy sou nie anders as ander studente behandel word nie. Hy sou nie ligter beoordeel word nie. Hy sou dieselfde werk afhandel en hy sou alle inligting oor die kursus moet bywerk – op sy eie of in raadpleging met my.

Mettertyd het ons ‘n verstandhouding ontwikkel waardeur hy sy sportideale saam met sy akademiese doelwitte kon paar en uitwerk. Hy het besef dat hy nie gunste ontvang nie en hy kon respek vir sy kursus behou. 

Hy het uiteindelik knap gepresteer. Ek kon later sien dat hy ook in die akademiese werk meer as net plig raaksien.

Lank daarna het hy met my kom praat en vertel hoedat daar by hom spanning geskep is tussen sy sport en akademie. Vir sportmense was sy sport belangrik, terwyl akademici nie altyd erkenning gegee het aan die groot eise wat sy sportbedrywighede aan hom gestel het nie. Hy het hom vasgevang gevoel deur die afstandelike, ongeïnteresseerde eise en suspisies wat hy van albei kante ervaar het. 

***

Hoe oordeel ‘n mens oor so 'n saak wat eintlik ‘n tydlose verskynsel is? Baie sportmense staan onder druk van kerklike kant om nie hul sport eerste te stel nie. Hulle word dan met ‘n skuldgevoel oorlaai.

Hierdie debat het nou in Amerika ook weer opgevlam toe ‘n Mormoonse kerklidmaat ‘n baie belangrike sportposisie berei het en dus nie die Mormoonse sendingwerk vir twee jaar lank wou doen nie. Dit is boeiend om die reaksies van mense op die jongman se besluit te lees.

Met die lees van die artikel het ek onwillekeurig teruggedink aan my oud-student, die knap atleet, maar ook die gevoelige jongman. 

En aan watter wonderlike gawe die kerk ontvang wanneer so iemand die bediening wil ingaan. 

Die kerk moet die geestelike gawe van onderskeiding met groot versigtigheid soek in sulke uitsonderlike gevalle: hoe om te maak dat die persoon nie net deur sy sport ‘n gawe vir die kerk word nie, maar ook deur sy geestelike toerusting in sy teologiese studies bybly. 

Want sport gaan nie die gemeente voed nie, terwyl die preek op ‘n Sondagoggend of die besoek aan jong lidmate van ‘n bekende sportman soveel waardevoller is as daardie sportster-predikant met geestelike insig en bekwaamheid die geestelike weg met sy lidmate kan loop. Hy gaan sy teologie, goeie teologie nodig hê, en moet dit nie vrygeskeld word nie. 

Dit vra egter onderskeiding van die kerk, wat sal beteken dat niemand met ‘n  skuldgevoel belaai sal word nie, dat die kerk geseën word met ‘n begaafde bediening en dat die sportwêreld ook ‘n slag ervaar hoe ‘n gelowige mens sy sport uitleef.

Hier is die berig:



Friday, November 25, 2011

Wanneer onderskeiding lewensbelangrik is…

Die kollega wat my op die lughawe hier in Malta vanmiddag oplaai is ook ‘n spesialis in Spiritualiteit en terselfdertyd aktief in die bediening. Ons is besig om ons konferensie oor “onderskeiding” in Mei volgende jaar te organiseer.

Terwyl hy en ek oor die eiland na die vergader- en blyplekke vir ons beplande konferensie ry, praat ons oor ‘n klomp sake. Onder andere raak ons ook aan die sosiale situasie op die eiland. Hy vertel my van die groot opspraak wat daar in Malta was toe die regering wetgewing ingedien het om egskeidings te wettig. Sommige geestelikes was heftig daarteen gekant en het lidmate van die kerk met die verdoemenis en hel gedreig as hulle vir die wetgewing sou stem.

Dit is toe dat hy ‘n artikel daaroor skryf wat in die plaaslike media verskyn en groot opspraak verwek. Hy is na die publikasie daarvan oorval deur allerhande reaksies – van teenstanders wat hom verkwalik tot voorstanders wat hom geluk wens.

Maar eers dit: Ek is op die oomblik besig om juis ‘n bietjie te skryf oor onderskeiding. Gister se blog het oor die plek van die gewete in onderskeiding gegaan. Deel van onderskeiding is om gereeld en versigtig ‘n mens se gewete te ondersoek. Daarmee bedink ‘n mens op ‘n kritiese, onderskeidende manier die dinge wat elke dag in ‘n mens se lewe plaasvind wat ‘n mens van God skei. Dit is belangrik om ‘n mens se gewete so te ondersoek, op die belangrike voorwaarde dat ‘n mens nie vasval in ‘n obsessiewe, negatiewe sondebesef nie.

Dit net kortliks om te verduidelik waarom ek oor die res van ons gesprek, terwyl ons in reenweer oor pragtige eiland ry, verwonderd is. Dat juis in die tyd van my nadenke hierdie tema so prominent in my gesprekke hier op Malta na vore kom!

My kollega vertel my dat hy die verdoemende oordeel van sy mede-geestelikes teen lidmate wat vir ‘n egskeiding-wetgewing sou stem, verwerp omdat hy vas glo dat ‘n mens niemand in sy of haar gewete moet bind nie.

Soms, vertel hy, kom daar in ‘n mens se situasie en in jou geestelike reis ‘n tyd dat jy deur jou gewete gedwing word om ‘n besluit te neem wat teen alle gevestigde norme, strukture en magte ingaan. Dit is dan vir jou ‘n gewetenssaak wat jy op ‘n baie persoonlike vlak voor God vir jou uitgemaak het. Dit gebeur nie ligtelik nie, veral omdat jou besluit teen alle bestaande wysheid ingaan. Die besluit word na hewige worsteling en na ‘n proses van deeglike onderskeiding geneem. Dit is jou besluit wat jy alleen voor God neem en niemand het die reg om jou daaroor te veroordeel nie.

Hierdie gewetensbesluit hang saam met ‘n grondmotief in die geestelike lewe. Elke mens het die vryheid om te besluit en moet die vryheid gegun word om besluite te neem wat nie noodwendig met die kerklike leer en dogma klop nie.

My kollega vertel: Dit is niks nuuts wat hy oor die kwessie skryf nie. So het die kerk oor alle eeue gedink en hy sluit bloot net daarby aan. Die mens is in sy gewete voor God gebind om in vryheid te doen wat hy of sy glo reg is. Wat hy sê is ook nie vreemd nie, want dit is byvoorbeeld ‘n saak wat sterk deur die huidige pous verdedig is.

Ek word deur ons gesprek skielik weer bewus van die deurslaggewende rol van die gewete in die geestelike reis van die gelowige mens. Gedurigdeur moet ‘n mens jouself afvra of jy dinge kan doen wat in spanning met jou gewete staan. En die manier waarop ‘n mens jou gewete ondersoek is om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is, tussen wat God wil en wat teen God se wil is.

My gesprek met my kollega laat my iets beleef van my nadenke oor spiritualiteit en onderskeiding. Die ondersoek van ‘n mens se gewete kan baie belangrike gevolge hê. Onderskeiding kan ‘n mens bring tot op daardie punt dat ‘n mens teen alle wysheid in, teen al die gevestigde opinie’s en gewoontes, jou eie kop moet volg.

Dink maar hoe duidelik die kerkgeskiedenis dit uitwys: Franciskus van Assissi, Jan van die Kruis, Luther, en menige ander het ‘n punt in hul lewe bereik waar hulle met groot waagmoed die bestaande orde uitgedaag het.

Imitatio Christi….

Dit is dus te verstaan dat die geestelike leiers van alle tye beklemtoon het dat onderskeiding ‘n geestelike praktyk is wat ‘n mens gereeld, daagliks en met groot toewyding moet toepas deur ‘n mens se gewete te ondersoek.   

Wednesday, April 21, 2010

Die mede-reisiger in die soeke na God se wil

Onderskeiding noem hulle dit in spiritualiteit – of, op sy Engels, “discernment.”

Dit is die vraag en soeke na God se wil vir jou lewe.

Dit is al ‘n groot stap wat ‘n mens neem wanneer mens hierdie vraag stel. Mense praat nie eintlik meer só nie – “as God wil nie,” of, “so die Here wil” nie.

Dit is outyds, dink ons. Deesdae is ons mondige mense. Ons kyk ‘n situasie goed deur, maak ‘n lysie van voor- en nadele en maak dan nugter en versigtig met ons hele verstand die besluit wat die beste vir onsself is.

Daar is eintlik niks outyds daaraan om maar bietjie terughoudend te wees oor ons vermoë om alles uit te pluis.

Ons het eerder iets kosbaars verloor in ons haastigheid om óns besluite te neem: Om eerder soekend, en veral biddend te vra na hoe kyk God na my lewe en waarheen wil God my neem, is om ‘n buitengewone waagstuk aan te gaan. Ons gee te kenne dat ons nie weet nie. Of ons gee te kenne dat ons nie alleen besluite kan neem nie. Ons is afhanklik van die Ander om te weet watter rigting om in te slaan. Méér nog: ons gee ons eie belang prys. Ons stel ons oop om geneem te word waar ons nodig is, eerder om te besluit om daarheen te gaan soos ons nodig dink.

Jesus het biddende gevra na God se wil vir sy lewe – tot bloedsweet toe.

Natuurlik sluit dit nie die verstand uit nie. God vra nie van ons om dom dinge te doen nie. Maar hoogs verstandige besluite kan soms ook dom besluite wees. En besluite wat ons laat prysgee en opoffer, kan ons lewens ryk maak.

Hoe bepaal ‘n mens God se wil vir jou lewe?

Daar is nie ‘n reseppie nie.

Maar soms gebeur dit dat God dinge in jou lewe van jou wegneem. Kosbare dinge. Dinge wat jy altyd gedink het aan jou lewe sin en betekenis gee. In die proses neem God ook jou sekerhede van jou weg. Ewe skielik word dit onder jou uitgeruk – alles waarop jy vir soveel tye gesteun het.

Of: Dikwels laat God jou ‘n dapper besluit neem en jy skrik eintlik terug oor wat jy gedoen het.

Die tye kan dan donker wees. En angswekkend.

Maar dan gaan ander deure oop. Of, as jy die dapper besluit geneem het, en so bietjie terugskrik daarvan, stuur God iemand om daardie waagstuk te bevestig.Dan waag jy opnuut weer 'n bietjie meer, omdat jy agterkom dat die onbekende pad wat jy loop ryk is aan ervaring en inhoud.

Om dan God se wil te leef, lei 'n mens tot die besef: God is getrou. Verby al ‘n mens se vrese om. God bevestig vir hulle wat God liefhet op baie maniere wanneer hulle die regte pad loop.

Aldus sit ek onlangs in ‘n gesprek met iemand. Hy vra my uit oor baie dinge. Hy is ‘n wyse mens, wat self moeilike paaie geloop het. Hy dra swaar laste op hom. Ek staan, deur ons gesprek, verbaas oor sy geestelike volwassenheid.

Hy begin dieper vra - spontaan, asof dit maar net sommer moet gebeur. En hy luister nuuskierig na my lewenservaringe. Hy doen dit baie fyn, besef ek stadigaan. Ek sit, stilweg, verbaas oor hierdie onverwagte wending in ons gesprek. Dit kom ongevraag oor my pad. Oor dinge wat ek, dink ek, al bietjie weggebêre en van vergeet het. Maar wat hulle desondanks dikwels op onverwagte oomblikke weer aan my opdring.

Wat is hier aan die gebeur, dink ek? Hoe sien ek hier, in hierdie oomblikke, iets raak van wat God wil doen in my lewe? En ek besef, dink ek, dat dit dalk ‘n manier is om closure, afronding te kry. Om die onrustigheid van die tyd te ontgroei. Vele gedagtes maal in my as ek met hom praat.

Ons gesprek loop aan. My gespreksgenoot, uit sy eie moeilike geestelike reis, verstaan die pragmatiek van my woorde. Hy herken agter my woorde, versweë, het ek gedink, die verborge, onuitgespoke woorde.

Hy hoor die “waarom”-vraag klink in wat ek bietjie argeloos vir hom aan die vertel is.

Teen die vierde vraag kom ek agter waarheen lei sy vrae. Hy, mistagogies, reis my geloofsweg saam met my oor. Hy verstaan. En hy wil met my oor sy verstaan praat.

“En,” sê-vra hy oplaas as ek vir hom klaar lig-weg die draaie in my lewensreis moet vertel as antwoord op sy vrae, “as dit nie met jou gebeur het nie, dan was jy nie vandag hier nie?” Dit is ‘n vraag. Byna huiwerend gestel.

Hy onderskei God se wil vir my lewe. Hy is op hierdie oomblik in hierdie gesprek my mistagoog. Spontaan hoor hy en gee hy. En hy laat my met nuwe oë kyk na die “hier” van my lewe. Die plek waar ek nou is.Die plek wat God vir my wil gee.

Ek verstaan wat hy vir my wil sê. Ek waardeer dit. God bring ‘n mens met ‘n rowwe ompad op 'n plek waar jy nooit gedink het jy sal wees nie. En hulle wat weet, hulle wat kan onderskei, besef onmiddelik dat só ‘n reis moet die Ander nie alleen loop nie. Hulle wéét: die mistagoog is nie net die een wat God se wil help onderskei nie. Die egte mistagoog is eerder die een wat saam tas en soek – die een wat help uitwys. Sommige noem 'n mistagoog 'n geestelike begeleier - 'n eeu-oue benaming in die spiritualiteit. Maar deesdae weet ons: Hy is eerder die mede-reisiger. Liewers nie "begelei" nie - dis veel meer as dit. Hy is veel meer die een wat met sy pyn jou pyn herken – en wat dan salwend sien hoe die pyn heling moet vind.

Telkens is daar dus ‘n “predikant,” ‘n rigtingaanwyser langs die lewenspad wat eintlik God se vinger is om vir jou die rigting aan te wys. “Hierlangs,” sê die vinger. En teen wil en dank loop ‘n mens in die rigting.

En, wat sal ‘n mens dan tog nou meer hieroor kan sê? Hierdie pad, soms jou kruisweg, is immers God se pad – deur pyn en stroping heen. En jy weet jy sal hom geduldig loop. Want jy onderskei duidelik hierdie reis as die “regte” een wat jy op die regte “plek”, die “hier” uitgebring het. En jy het dikwels iemand baie naby aan jou, deur God gestuur, wat by jou is om jou dit te laat besef. Hy of sy, hierdie mede-reisiger, is soos die sakrament – die beliggaming van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Dit is meer as vriendskap. Dit is meer as berading. Dit is meer as begeleiding. Hierdie mense naby aan jou tydens jou reis, tastend in die donker, verwond deur jou verliese.

Hulle is die mede-reisigers. Die mistagoë.

Blog Archive