Dit is die vraag en soeke na God se wil vir jou lewe.
Dit is al ‘n groot stap wat ‘n mens neem wanneer mens hierdie vraag stel. Mense praat nie eintlik meer só nie – “as God wil nie,” of, “so die Here wil” nie.
Dit is outyds, dink ons. Deesdae is ons mondige mense. Ons kyk ‘n situasie goed deur, maak ‘n lysie van voor- en nadele en maak dan nugter en versigtig met ons hele verstand die besluit wat die beste vir onsself is.
Daar is eintlik niks outyds daaraan om maar bietjie terughoudend te wees oor ons vermoë om alles uit te pluis.
Ons het eerder iets kosbaars verloor in ons haastigheid om óns besluite te neem: Om eerder soekend, en veral biddend te vra na hoe kyk God na my lewe en waarheen wil God my neem, is om ‘n buitengewone waagstuk aan te gaan. Ons gee te kenne dat ons nie weet nie. Of ons gee te kenne dat ons nie alleen besluite kan neem nie. Ons is afhanklik van die Ander om te weet watter rigting om in te slaan. Méér nog: ons gee ons eie belang prys. Ons stel ons oop om geneem te word waar ons nodig is, eerder om te besluit om daarheen te gaan soos ons nodig dink.
Jesus het biddende gevra na God se wil vir sy lewe – tot bloedsweet toe.
Natuurlik sluit dit nie die verstand uit nie. God vra nie van ons om dom dinge te doen nie. Maar hoogs verstandige besluite kan soms ook dom besluite wees. En besluite wat ons laat prysgee en opoffer, kan ons lewens ryk maak.
Hoe bepaal ‘n mens God se wil vir jou lewe?
Daar is nie ‘n reseppie nie.
Maar soms gebeur dit dat God dinge in jou lewe van jou wegneem. Kosbare dinge. Dinge wat jy altyd gedink het aan jou lewe sin en betekenis gee. In die proses neem God ook jou sekerhede van jou weg. Ewe skielik word dit onder jou uitgeruk – alles waarop jy vir soveel tye gesteun het.
Of: Dikwels laat God jou ‘n dapper besluit neem en jy skrik eintlik terug oor wat jy gedoen het.
Die tye kan dan donker wees. En angswekkend.
Maar dan gaan ander deure oop. Of, as jy die dapper besluit geneem het, en so bietjie terugskrik daarvan, stuur God iemand om daardie waagstuk te bevestig.Dan waag jy opnuut weer 'n bietjie meer, omdat jy agterkom dat die onbekende pad wat jy loop ryk is aan ervaring en inhoud.
Om dan God se wil te leef, lei 'n mens tot die besef: God is getrou. Verby al ‘n mens se vrese om. God bevestig vir hulle wat God liefhet op baie maniere wanneer hulle die regte pad loop.
Aldus sit ek onlangs in ‘n gesprek met iemand. Hy vra my uit oor baie dinge. Hy is ‘n wyse mens, wat self moeilike paaie geloop het. Hy dra swaar laste op hom. Ek staan, deur ons gesprek, verbaas oor sy geestelike volwassenheid.
Hy begin dieper vra - spontaan, asof dit maar net sommer moet gebeur. En hy luister nuuskierig na my lewenservaringe. Hy doen dit baie fyn, besef ek stadigaan. Ek sit, stilweg, verbaas oor hierdie onverwagte wending in ons gesprek. Dit kom ongevraag oor my pad. Oor dinge wat ek, dink ek, al bietjie weggebêre en van vergeet het. Maar wat hulle desondanks dikwels op onverwagte oomblikke weer aan my opdring.
Wat is hier aan die gebeur, dink ek? Hoe sien ek hier, in hierdie oomblikke, iets raak van wat God wil doen in my lewe? En ek besef, dink ek, dat dit dalk ‘n manier is om closure, afronding te kry. Om die onrustigheid van die tyd te ontgroei. Vele gedagtes maal in my as ek met hom praat.
Ons gesprek loop aan. My gespreksgenoot, uit sy eie moeilike geestelike reis, verstaan die pragmatiek van my woorde. Hy herken agter my woorde, versweë, het ek gedink, die verborge, onuitgespoke woorde.
Hy hoor die “waarom”-vraag klink in wat ek bietjie argeloos vir hom aan die vertel is.
Teen die vierde vraag kom ek agter waarheen lei sy vrae. Hy, mistagogies, reis my geloofsweg saam met my oor. Hy verstaan. En hy wil met my oor sy verstaan praat.
“En,” sê-vra hy oplaas as ek vir hom klaar lig-weg die draaie in my lewensreis moet vertel as antwoord op sy vrae, “as dit nie met jou gebeur het nie, dan was jy nie vandag hier nie?” Dit is ‘n vraag. Byna huiwerend gestel.
Hy onderskei God se wil vir my lewe. Hy is op hierdie oomblik in hierdie gesprek my mistagoog. Spontaan hoor hy en gee hy. En hy laat my met nuwe oë kyk na die “hier” van my lewe. Die plek waar ek nou is.Die plek wat God vir my wil gee.
Ek verstaan wat hy vir my wil sê. Ek waardeer dit. God bring ‘n mens met ‘n rowwe ompad op 'n plek waar jy nooit gedink het jy sal wees nie. En hulle wat weet, hulle wat kan onderskei, besef onmiddelik dat só ‘n reis moet die Ander nie alleen loop nie. Hulle wéét: die mistagoog is nie net die een wat God se wil help onderskei nie. Die egte mistagoog is eerder die een wat saam tas en soek – die een wat help uitwys. Sommige noem 'n mistagoog 'n geestelike begeleier - 'n eeu-oue benaming in die spiritualiteit. Maar deesdae weet ons: Hy is eerder die mede-reisiger. Liewers nie "begelei" nie - dis veel meer as dit. Hy is veel meer die een wat met sy pyn jou pyn herken – en wat dan salwend sien hoe die pyn heling moet vind.
Telkens is daar dus ‘n “predikant,” ‘n rigtingaanwyser langs die lewenspad wat eintlik God se vinger is om vir jou die rigting aan te wys. “Hierlangs,” sê die vinger. En teen wil en dank loop ‘n mens in die rigting.
En, wat sal ‘n mens dan tog nou meer hieroor kan sê? Hierdie pad, soms jou kruisweg, is immers God se pad – deur pyn en stroping heen. En jy weet jy sal hom geduldig loop. Want jy onderskei duidelik hierdie reis as die “regte” een wat jy op die regte “plek”, die “hier” uitgebring het. En jy het dikwels iemand baie naby aan jou, deur God gestuur, wat by jou is om jou dit te laat besef. Hy of sy, hierdie mede-reisiger, is soos die sakrament – die beliggaming van God se teenwoordigheid in jou lewe.
Dit is meer as vriendskap. Dit is meer as berading. Dit is meer as begeleiding. Hierdie mense naby aan jou tydens jou reis, tastend in die donker, verwond deur jou verliese.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.