Friday, April 16, 2010

Wanneer 'n mens God beweeg tot verandering...


Hoyland: die Siro-Fenisiese vrou.

By ons kontak-sessie luister ek geboeid na Kees Waaijman se spirituele lees van Bybelse tekste. Ons bespreek sy hoogs informatiewe boek, geskryf in gelaaide taal wat vra om versigtig gelees en verstaan te word.

Op ‘n stadium praat hy oor Jesus se ontmoeting met die Siro-Fenisiese vrou. Die vrou, vertel hy, was in alle opsigte aan die verloorkant: as heiden was sy afgesny van kontak met Jode. As vrou was sy ook iemand wat nie op een vlak met mans gereken is nie. En omdat haar kind besete was, was sy sekerlik ook nog verder onder verdenking en iemand wat vermy moes geword het. En, nog meer – sy dring haar op aan Jesus terwyl hy iewers wou gaan skuil waar niemand hom pla nie (Markus 7:24).

Hoeveel slegter kan iemand dan daaraan toe wees voor God? Wat is haar kanse tog!

En haar kanse lyk inderdaad nie goed nie. In Matteus reageer Jesus geheel en al nie op haar versoek dat Hy Hom ontferm oor haar dogter wat erg besete is nie: ‘n Mens huiwer voor die harde uitspraak: “Maar Hy het haar niks geantwoord nie” (vers 23).

Hoe sterker kan sy afgewys word?

Nog sterker – want as die dissipels vir Jesus kom sê om die skreeuende vrou weg te stuur, sê Jesus: “Ek is net na die verlore skape van Israel toe gestuur” (vers 24). Dit lyk asof Jesus nie eers met haar praat nie en dit vir die dissipels sê – so asof hy haar nog steeds bly ignoreer. Want daar staan: Die vrou “kom” immers dan en praat weer met Jesus.So asof sy op 'n afstand moes hoor hoe Hy en die dissipels oor haar gepraat het.

In haar verhouding met God is hierdie vrou totaal aan die verloorkant. Sy is in die slegste moontlike posisie teenoor Jesus. Hy is die Sterke, in staat om haar kind te genees, maar sy het geen houvas op hom nie. Alles wat sy is, tel teen haar. Ons sien hier een van die weinige gevalle in die Bybel waarin die mens na God uitreik, maar onmiddellik aan die verloorkant is. Dit is nie eers ‘n posisionele onderskeid nie – dit is ‘n verhouding van konflik.

En in hierdie verhaal, sê Waaijman, sien ons hoe Jesus sy visie op Israel alleen stel. Dit is waarvoor Hy gestuur is. En hieraan is Hy totaal toegewy.

Maar Markus het ‘n groot storie om te vertel. Hy skryf dat hierdie vrou voor Jesus gaan kniel. Dit is ‘n gelaaide simboliese daad van aanbidding. Oratief, in aanbidding, roep sy uit: “Here, help my!” Dit is haar smeekgebed, haar biddende verlange om God se helende teenwoordigheid in haar lewe. Sy, die heiden, die vrou, die onreine, herken Hom as die “Here” en bely eerbiedig haar geloof in Sy wonderwerkende krag.

En nog bly Jesus afwysend – al buig hierdie vrou voor Hom. Nou swyg Hy nie meer nie. Hy wys haar uitdruklik af wanneer Hy vir haar vertel Hy het nie heidene kom verlos nie. By implikasie vergelyk hy haar en haar dogter met diere wat vir Jode onrein was. Hy assosieer hulle met honde. Sy word daarmee in ‘n nog slegter posisie as voorheen gestel.

En die vrou? Sy is desperaat – so desperaat dat sy gewillig is om met ‘n hond vergelyk te word. Hondjies, sê sy, kry tog ook iets te ete – al is dit maar net krummels.

En Jesus? Hy herken uiteindelik dan vir haar en haar nood. Omdat Hy die Here is, kan Hy toegee en van die vrou leer. Dit is die oomblik dat sy eintlike roeping opnuut weer na vore kom – nie die volk Israel nie, maar mense in nood is die hoorders van die Evangelie-boodskap.

Daarmee beweeg hierdie vrou God om na haar te luister. Sy versit berge. Sy doen die onmoontlike.

Kort voordat Waaijman hierdie gedagtes in ons wakker maak, het ons gepraat oor oratiwiteit. Daar is, skryf hy in sy boek, vier vorme van oratiwiteit, van die biddende reaksie op God: mense nader eerstens tot God in gebed, hulle stel hulle tweedens oop vir God in die gebed en hulle getuig derdens in hulle gebed openlik van God. Dan “beweeg hulle God” vierdens in hul biddende reaksie sodat God tot hulle sal keer.

Hiervan hou iemand in ons groep nie baie nie. Die persoon maak dadelik kapsie: Hoe kan ons dan vir God “beweeg”? Lyk dit dan nie al te veel of ons dan dink dat ons God beheer en ‘n houvas op God het nie?

En tog – hier in die Nuwe Testament het ons dit in al sy naaktheid. Die vrou roep uit tot Jesus en beweeg Jesus tot ontferming.

Ek dink onwillekeurig, terwyl Waaijman praat, aan Hebreërs 5:8: “ Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.”

Hierdie vrou met haar onrein kind was nie ‘n slagoffer van haar omstandighede nie. Sy het haar nie laat onderkry deur die ongelyke posisie wat sy beklee het in haar verhouding met Jesus nie. Hier, trouens, het ons die merkwaardige insig dat transformasie nie net van een kant af kom nie. Ons dink altyd dat as God ons aanraak, is dit ons wat radikaal vernuwe word.

Maar hier het ons die roerende voorbeeld van hoe’n ongerekende, uitgestote vrou die hart van die Seun van God aangeraak het en Hom getransformeer het om vir haar genade te bewys.

Ons leef met God in ‘n verhouding. Dit is ‘n verhouding wat twee kante het – ‘n Goddelike kant wat krag uitstraal en nuwe lewe bring. Maar daar is ook ‘n menslike kant – ‘n kant wat krag uitstraal en nuwe lewe bring! Ons, die geringes, die ongerekendes, die minste onder die minderes, word in die beeld van God geskape!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive