Die een wat by die Allerhoogste skuiling vind, en die beskerming van die Almagtige geniet, sê vir die Here, “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”
En dan volg daar in die volgende verse uitsprake wat vertel van ‘n mens se totale geborgenheid in God. Die Here beskut ‘n mens, jy hoef nie te vrees vir die nag-gevaar nie en ‘n mens kan weet dat ander gevare jou nie sal oorval nie. God sal selfs engele gee om ‘n mens op die hande te dra sodat jou voet nie ‘n klip sal stamp nie.
Dit is alles wonderlike uitsprake oor God. Hier word vertel wat God alles vir die mens doen en hoe God die mens veilig hou.
Onder al hierdie gerusstellende uitsprake staan daar een sin uit. In vers 2 sê die digter vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”
Hier word nie oor God gepraat nie, maar met God. Wat waar is van God, sê die Psalmis nou vir God.
Dit is tog werklik opvallend. Dit is die enigste vers in die Psalem waarin die Psalmis direk met God en nie oor God praat nie.
‘n Gelowige mens, wat by God skuil en deur God beskerm word, ervaar dit nie maar net nie. Die skuiling van God word deur die mens toege-eien en verinnerlik. Dit gebeur in die oratiewe: alles wat die mens weet oor God, word nou in gebed uitgespreek. En as ‘n mens iets bid, leef dit in jou hart, is dit deel van jou diepste binneste, is dit wat jy bid vir jou ‘n werklikheid. Dit is werklik deel van jou lewe.
‘n Mens kan baie weet oor die goedheid van God. Maar dan kan jy nog angstig wees. Dit is eers wanneer die goedheid van God met jou mond bely word en in jou hart afsak dat jy werklik die vrede van vertroue leer.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.