Dikwels merk ons dit op: hoe iemand se lewe doodeenvoudig prakties vertel dat hulle in iets belangriks glo. Hulle maak deur hul lewens stilweg wáár wat in hul gedagtes leef. Hulle hoef nie veel te praat nie. Soms kan hulle selfs heeltemal stil wees oor wat hulle glo.
En dan word dít waarin hulle glo, vir ander ook imponerend, en, by implikasie, vir ander mense waar. Of ‘n mens wil weet wat is dat wat iemand só spesiaal laat leef? Wat skuil agter hierdie mense se stilte?
Ons weet dit te goed, veral van die Bybel: Hoe wáár die Bybel vir gelowiges is, sal ‘ n mens dus uit hul lewens eerder as uit hul monde aflei. Dus interpreteer ons die Bybel met die wete dat ons dit stilweg moet uitleef voordat ons mooi Bybelbroodjies wil bak en aan ander wil voorsit.
Mense wat die Bybel geestelik lees, besef dus hul lewens moet heel eers in lyn wees met die Bybelse boodskap.Bring die woorde dus tot stilte. Laat die lewe praat.
In die stilte ervaar ons
Maar ‘n mens kan nog dieper gaan.
Mense wat die Bybel as geloofsboek optel en oopmaak, het egter voorts meer as net ‘n mooi lewe. Hulle leef verder ook in ‘n houding van afwagting en stilte. Hulle besef dat ‘n mens dikwels die meeste ervaar en beleef wanneer alles om jou stil is.
Mense wat die Bybel geestelik wil lees, weet hulle word deel van 'n voortgaande proses waarin hulle in stilte die volle impak van die teks moet afwag.
Geloof is immers die stille verwondering dat ons, ondanks onreinheid, getransformeer word om in die teenwoordigheid van God te kan woon. Maar dikwels raas dit so om ons (en uit ons monde) dat ons hierdie verwondering nie beleef en ervaar nie.Ons het net 'n Bybelboek voor ons en dit raak ons hart nie aan nie.
‘n Mens raak stil voor die teks wat vir jou die waarheid vertel. En wat jou die waarheid steeds dag na dag in afwagtende stilte laat uitleef. Want jy staan verwonderd voor die feit dat hierdie teks jou meevoer tot ‘n lewe van voortgaande heiligmaking in gehoorsaamheid aan God se wil. “Ek is onrein” roep Jesaja uit as God tot hom spreek (Jes.6) – waarop God hom dan deur vuur reinig. Voordat ‘n mens met ander kan praat oor God, moet God deel wees van ‘n mens se bestaan en moet 'n mens ingestel wees om God se teenwoordigheid in reinheid te ontvang. ‘n Mens kan die Bybel van hoek tot kant deurwerk. Sonder geestelike reinheid wat in stilte afgewag word, kan ‘n mens die Bybel nie begryp nie. Maar: Hoe meer ‘n mens egter die Bybel lees en hoe dieper ‘n mens soek na geestelike reinheid sodat die waarheid van die Skrif in ‘n mens se lewe kan wortel skiet, hoe meer begryp ‘n mens dat jy meer en meer stilte nodig het. Jy weet te goed uit die onreinheid wat steeds in jou lewe is: Jy moet jou woorde terughou, nie te vinnig praat nie, nie te maklik antwoorde soek nie, sê Cassianus, sodat die woorde van God, van die teks in jou kan indring. Dit is waarom die mistici van alle tye gedurig met die Bybel omgegaan het. Dit is waarom Thomas a Kempis se Navolging van Christus vir ons ‘n kykie gee in iemand wat steeds weer deurdrenk was met Bybelse taal wat in hom ingedring en ‘n lewe van sy eie gevolg het. Thomas het eintlik die Bybel bloot nageleef. ‘n Mens wat die Bybel geestelik wil lees, moet stil raak en stil bly om te hoor wat die Gees sê. Mense wat geestelik onrein is, wat geestelike babbelbekke is, kan nie die Gees hoor praat nie.
Wat beteken dit alles prakties - hierdie afwagting in stilte? Prakties beteken dit dat 'n mens weet hoe afhanklik 'n mens is van daardie een, lewegewende oomblik wat 'n mens beleef wanneer God skielik die woorde van die lewe in 'n mens laat wakker word en insink. En hoe merkwaardig onverwags kom die aanraking van God nie tot ons in die stilste van oomblikke nie. Dikwels, in die nag, of langs die see, alleen, of in die berge op ‘n wandeling, tydens 'n sonsopkoms, 'n oomblik op jou eie, in stilte, word dinge van God skielik deel van jou lewe. Niemand preek vir jou nie. Of gee vir jou ‘n lesing nie. Maar dinge wat jy van God kon beleef het, word deel van jou binneste en dring tot jou bewussyn deur. En bring jou tot ‘n volwasser lewe.
Dit alles kom neer daarop dat ‘n mens gedurig bewus is dat jy in die teenwoordigheid van God, die Verborgene, leef. Nie te veel woorde wanneer jy met God praat nie, waarsku Jesus sy volgelinge. God weet immers al wat in jou hart leef lank voor jy begin babbel het. Dus: nie soos die Fariseërs nie. Hulle is meer in hul eie vroomheid as in God geïnteresseerd. As ‘n mens by God is, pas dit ‘n mens om baie redes om stil te wees.
Cassianus vergelyk die geestelike lees van die Bybel met wyn in ‘n wynvat. As die wyn in ‘n verkeerde wynvat beland, is dit spoedig bederf. As die Bybelwoorde in ‘n onrustige, praterige hart gaan lê, word hulle doodgesmoor.
En woorde – hulle sal vergaan. Skryf Paulus. Al ons menslike slimmighede sal tot niet wees. Net God se liefdevolle uitreiking is onbederfbaar. Daarom wat ons in stilte op God se liefde.
Mense wat die Bybel geestelik lees, besef dat die trefkrag daarvan dikwels eers in stilte en afsondering ten volle tot ‘n mens deurdring.
Deur stilte leer ander
Iemand wat deurdring word met die Bybelse taal, in wie se lewe die Gees ingedring het, kom woon het en wat hierdie inwoning uitleef in waarheid en lewe, word die uitmuntende leraar. Maar die groot leraar is dikwels die stil een. Die wyse mens is die een wat deur sy stilte kan leer, deur sy terughoudendheid, sy besef van voorlopigheid. Die wyse mens leer dat God groter as woorde is, dat woorde nooit kan vertel wie God is nie, dat dit wys is om in stilte net by God te wees. Die wyse mens is die een wat ander mistagogies begelei om voor God in stilte te woon.
Stilte is die ruimte waar God woon.
Mense wat die Bybel geestelik lees, weet dat ‘n mens nie sommer net die boodskap maklik in baie woorde kan opdis nie. Die goeie leraar, die egte mistagoog, is die een wat eerder swyg as te maklik antwoorde uitryg. Die leraar weet – dit pas ‘n mens om stil voor God te wees....
En al hierdie woorde dan? Om só ‘n blog te skryf oor stilte?
Dit is nogal harde werk om stil te word, om al ons gepratery af te leer! Om geestelik wys te word om in stilte te woon. Om die Gees deur die Bybel in ‘n mens se lewe te ervaar, verby alle woorde heen.
(n.a.v Welzen se “The Word that moves.”)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.