Wednesday, April 28, 2010

Verlangend om by die Heilige te kan skuil



Net Chagall kan die brandende braambos so uitbeeld. Rooi liefdesbloeisels.


Ek word al meer weggevoer deur die gedagte dat spiritualiteit gaan om ‘n verhouding wat God met die mens aanknoop wat die mens voortdurend nader aan God bring.

Ons sê spiritualiteit gaan om transformasie – of omvorming. Dit beteken dat ons verby ons huidige bestaansvorm verander word sodat ons al hoe meer God se beeld vertoon. Ons neem die vorm van God aan – en word daardeur al hoe intiemer en liefdevoller deur God nader getrek. Een van die soorte van transformasie, soos Waaijman die beskryf, is juis ‘n transformasie in heerlikheid: Daardie groot, finale transformasie wat vorentoe ten volle met ons sal plaasvind wanneer ons uiteindelik in God se heerlikheid opgeneem sal word. Uiteindelik. Dan sal ons hartsverlange hartsaanskouing word.

Hoe ingrypend hierdie groeiende eenwording met God is, word duidelik wanneer ons dink aan God as die heilige en aan ons heiligmaking.

Heiligmaking, het ons gesien, word dikwels verbind met die gedagte dat die mens ontslae raak van sekere sondes en dus ‘n moreel skoon lewe lei. Ons dink daarom aan “heiliges” as mense wat ‘n besonder vroom lewe lei. En meestal is ons naby daaraan om hierdie soort van heiligheid te bedink as skynheiligheid.

Heiligmaking is deesdae nie ‘n in-ding nie. Trouens, dit kan vir baie ‘n lastige iets wees en raak. Ons dink aan heiligmaking as iets wat ‘n mens doen met traagheid en met allerhande opofferinge.

Maar in die Bybel is die mens se heiligmaking lank nie in die fokus nie. Wanneer ‘n mens oor heiligheid praat, is nie die mens nie, maar God onmiddellik in die middelpunt.

Heiligmaking is iets wat in die lewe van mense gebeur omdat God met hulle in ‘n verhouding tree. En dit is iets ontsagliks: Wanneer God ‘n mens nader roep, is dit tyd om jou skoene uit te trek – soos Moses voor die brandende braambos (Ex.3:5).

Daar is dus iets ontsagwekkends aan God se teenwoordigheid. Moses het sy gesig toegemaak omdat hy bang was vir wat met hom gebeur het as God in sy lewe inkom (Ex.3:5-6). Omdat God op die berg Sinai in heiigheid woon, moet Moses ‘n grens om die berg trek (Ex.19:10-24). Jesaja is so oorweldig deur God se heiligheid as die Here hom tot profeet roep, dat hy sê: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is.” Hy word eers gereinig van sy sonde as ‘n seraf sy mond aanraak met ‘n gloeiende kool van die altaar.

God is dus die heilige by uitnemendheid voor wie die skepping in ontsag staan.

Maar as iets ontsagwekkends is, is dit nog lank nie angswekkend nie. Trouens, daar is iets boeiends en aantreklik aan ontsag. As die mens heiligmaking nastreef en heiligmaking geskenk word, word die mens uiteindelik soos God wat self die Heilige is. In jou lewe kom daar iets merkwaardig “anders” aan die gang. ‘n Mens begin op ‘n ander, diep bevredigende en belonende manier lewe.

Hieligheid is juis om “anders”, “afgesonder” te wees.

Sekere die mees opvallende boek in die Nuwe Testament as dit kom by heiligheid, is Openbaring. In hierdie boek is God by uitstek die Heilige, die waaragtige (3:7; 6:10) wat, soos in Jesaja 6 drie maal as heilig besing word (4:8). God alleen is heilig (15:4). Maria sing selfs oor God: “Heilig is Sy Naam” (Lk.1:49). Daarmee word die skoonheid en suiwerheid van God besing.

Om by die Heilige te wees, is om in suiwerheid, in reinheid, in helder lig te woon.

By die boom van die lewe wat heel jaar soet, sappige vrugte dra. Weg van die moordenaars, die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen (Open.22:15!).

Trouens, die bekendste woord oor heiligmaking kom uit 1 Petrus 1:16 waar die lesers opgeroep word om heilig te wees omdat God heilig is – en daarmee die bekende Levitikus 11:44 oorneem. “Net soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig wees.”

Met hierdie uitsprake word die Ou Testament se beskrywing van God as die Heilige oorgeneem. God die Heilige woon in die heiligdom – en dit oorheers die Ou Testament as boek van die tempel. Jesaja praat 25 keer van God as die Heilige van Israel. En die trishagion, die drie maal herhaalde uitroep oor God as heilig wat in Openbaring voorkom (4:8), kom juis uit Jesaja 6:3. Pragtige verse beskryf God se heiligheid as die profeet sê dat die Here vra: “Met wie kan julle My dan vergelyk? wie is soos Ek? vra die Heilige.”

Maar daar is meer as net iets ontsagliks aan God se heiligheid. Dit is boeiend om te sien hoe reik God juis in God se heiligheid uit na die mens. Die heiligheid van God is vir gelowiges in die Bybel ‘n sterk vertroostende boodskap. God wil heiligheid deel. Dit is nie iets wat God alleen besit nie. En God wil dit graag, ten alle koste deel. Een van die mooiste tekste in die Bybel is Hosea 11:8-9 waar God se intieme verhouding met Israel uitgespel word:

“Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ‘n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.”

Die Heilige is “by” die gelowige. Daar is ‘n noue, intieme band tussen God en die mens.

In sy heiligheid is God die God van liefde!

Dit is vir my asof God na die mens uitreik juis omdat God so heilig is en omdat God weet dat ons egte vrede sal vind alleen wanneer ons in God se heiligheid ingroei en skuil. Dit is vir my asof God uitreik omdat God weet dat ons nooit innerlik tot rus sal kom nie, behalwe as ons in God se suiwerheid en reinheid woon.

Nog mooier is Jesaja 57:15:

“So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. Ek reken nie vir altyd sondes toe nie, Ek bly nie vir altyd toornig nie....”

Juis as die Heilige is God ook die liefdevolle. Juis as die verhewene is God ook die verdrukte en nederige!

Hoe kan ons dan ooit vir ‘n oomblik droom om heiligmaking as ‘n plig, as ons sware taak en as ons dure verantwoordelikheid te sien?

As ‘n mens die dag met iemand trou en jy sien jou bruid of jou bruidegom, voel dit vir jou op daardie oomblik, in die roes van soveel skoonheid en liefde, asof jy jou hele lewe lank aan daardie een getrou sal bly. In die teenwoordigheid van die een vir wie jy lief is, volg heiligheid spontaan.

Heiligheid is om by God te wees, sonder enige onreinheid. Dit is om werklik vry te wees van alles wat ‘n mens skei van God, van wat werklik saak maak.

Wanneer God ‘n verhouding met ons aanknoop, word ons opgeneem in God se suiwere teenwoordigheid. Heiligmaking volg as ‘n spontane liefdesaksie – om by God in absolute reinheid te wil woon.

Dit is boeiend om na te dink oor God as die heilige wat heiligmaking as ‘n liefdesgawe skenk.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive