Thursday, April 22, 2010

Wanneer die sonneblomme vrae vra. Oor God se liefde.



(Van Gogh)

Tuis, nou net, na die konferensie in Pietermaritzburg.

Ons het, soos gewoonlik, ‘n groot klomp referate gehad oor al wat ‘n onderwerp is. Maar die hoof-referate het oor die opstanding gehandel. Daar is baie gepraat. Soms heftig. Soms rustig. Soms senuweeagtig. Soms met ‘n harde stem. Soms met ‘n stekie. Soms met ‘n hooghartigheid. En ander kere mooi, goed en reg. En dan was daar die kere wat ons slim was. Slim.

So gaan dit mos waar mense met God se dinge besig is.

En ons het gesellig gekuier. Sommige van ons is mos nou al dekades vriende en lank in die land. Ons getalle word min. Ontstellend min. Soms dink ek ons gaan weer beland in die situasie wat geheers het voordat die Renaissance begin het. Wintervingers raak my hart aan as ek dink oor die uitdagings van ons tyd, oor die min mense wat die Bybel in diepte lees en worstel om dit vir ons tyd te verstaan.

Maar dan, des te meer, waardeer ‘n mens mekaar, die min van ons wat oorgebly het.

Wat sal ons tog sê? Wat bly my by van al die besige voordragte? Watter woorde bly by my agter en watter gedagtes draal in my soos ek terugry lughawe toe, soos ek sit en wag vir my vliegtuig en soos ek nou op pad is huis toe?

Teologie is ‘n groot bedryf. ‘n Allemintige, groot fabriek van woorde. Ons vra die vrae, die moeilike vrae, die vrae oor die sin van al die baie woorde maak: kan ‘n mens tog so veel oor God sê en tog so veel oor God sê... En hoe moeilik kan ons tog worstel oor die moeilike dinge. En hoe moeilk kan ons tog raak as dinge nie moeilik genoeg gemaak word nie.

Maar: Teologie kan soms vir ‘n mens help om in ‘n helder oomblik die dieper, verborge dinge te begryp. En dit kan soveel helder lig bring in tye van donkerheid en domheid.

Ek is bly ek is ‘n teoloog. En ek is dankbaar oor die pad wat ek kon stap.

Ek verkyk my aan Pietermaritzburg. ‘n Mooi stad.

Ek let op hoe anders die Universiteit lyk as toe ons die vorige twee keer daar was.

Ek bly by Paul en sy kollega’s in hul huis. Hulle huis lê op die hoogste kop in Hilton en ‘n mens het panoramiese visie van Pietermaritzburg. Ons het ‘n pragtige land.

Woensdagaand 6 uur gaan die ligte uit. Die kragonderbreking sou nog tot 8 nm die volgende dag duur. 24 uur! Darem net in hulle buurt waar die krag al die afgelope paar jaar kort-kort uitgaan, vertel hulle my. Maar tot hierdie keer was dit nooit meer as ‘n uur nie. Hierdie keer ‘n dag lank.

Ons kom na die aand se funksie by die kongres dus in die stik donker tuis. Die kollega’s van Paul sit gesellig in die sitkamer by kerslig en gesels voor almal gaan slaap. Ons sit in die sitkamer – lam gepraat na ‘n lang dag en ‘n lang gekuier by die kongres. Niemand kla hier in hierdie huis en sitkamer oor die donkerte nie. Niemand raas oor “die land” en sy kragonderbrekings nie.

Die kerse brand hier en almal het hulle in hierdie aand sonder krag met ‘n rustigheid ingeleef.

Hulle haal ‘n drink-ietsie uit en Paul deel sy Belgiese sjokolade-paaseiers uit.

Hier is ‘n ander pratery aan die gang. Die lamheid sypel in my weg om plek te maak vir die ánder woorde. Só bring ons dan ‘n uurtjie deur hier in die stil, rustige sitkamer met ‘n drink-ietsie in die hand en terwyl ons gesels oor alles en nog wat. Normaalweg sou ek nou wou gaan inkruip en net slaap. Maar hier is iets stillers – in hierdie geselskap van mense wat oor baie jare heen alles wat hulle het prysgegee het om voltyds vir hul kerk te gaan werk.

Merkwaardig tog hoe ‘n mens soms ‘n onpeilbare lewensstyl en lewensdiepte kan uitstraal. Dan is jou woorde rustig, jou gedagtes vriendelik en gentle. Veral na die dag met al sy eise en verpligtinge. Want die kollegas het van ver gekom en het ‘n kwaai werksdag agter die rug. Sommige van hulle bly oor totdat hulle môre weer in die pad val.

Maar nou is dit ‘n tyd van saam-wees en deel.

Ek wonder, later, onwillekeurig of dit nie is soos Jesus met sy dissipels bymekaar was toe hulle die dinge gepraat het wat later in Johannes-Evangelie sou neerslag vind. ‘n Getoëndheid. Soms is jy mos by mense wat praat – maar wie se woorde veel minder saak maak as die feit dat jy saam met hulle kan wees.

Paul praat oor Hieronymus wat tog so ‘n kwaai ou derduiwel kon wees en vertel wonderlike staaltjies. Ons praat oor Claerhout. Daar hang die allermooiste kleinerige skildery van Claerhout in die gang van hulle huis wat Claerhout self aan hulle gegee het.

Toe vertel een van hulle van die skildery van Claerhout wat vir hom bo al die ander uitstaan en waaroor hy dikwels preek: Dit is ‘n uitbeelding van Christus wat bid in die tuin van Getsemane terwyl die sonneblomme en voëltjies om hom geteken is. Claerhout, vertel hy, het self die skildery vir hom uitgelê: Die sonneblomme buig oor en sê vir die biddende, bloedswetende Christus: “Maar jy het dan altyd met ons oor die liefde van die Vader gepraat?”

Ek verwonder my oor hierdie boeiende andekdote. Van hierdie dae bly dít my by...

Vier dae het ons by die kongres oor die Bybel gepraat. Baie gepraat oor die Bybel. Maar as ek moet onthou, sal ek eers dink aan die sitkamer met sy kerslig, sy rustige saam-wees, sy sagte woorde oor die Een wat altyd by ons in liefde is – al wonder die sonneblomme half-vraend en al sweet ons bloed...

Die sonneblomme, hulle wat van buite ons doen en late gadeslaan, herinner ons, vraend, aan die liefde.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive