Thursday, April 15, 2010

Die opstanding: God is teenwoordig juis wanneer ons dink God is afwesig



Die “mistieke antifrase” is ‘n gevestigde motief in spiritualiteit. ‘n Antifrase is ‘n uitdrukking wat die teenoorgestelde sê van die woorde wat gebruik word. ‘n Mens sê een ding, maar bedoel iets anders. In die mistiek beteken dit dat ‘n mens ‘n sekere ervaring het, maar dat die ervaring die teenoorgestelde inhou van wat dit op die oog af lyk te wees.

Dikwels ervaar ons God as “afwesig” in ons lewens. En tog, is God, volgens die mistiek juis aanwesig waar dit op die oog af lyk of God nie by ons teenwoordig is nie.

Hoe is God teenwoordig in ons ervaring van God se afwesigheid? Dit word verduidelik in die verhaal van die Emmausgangers. Daar is iets buitengewoon boeiends aan hierdie verhaal. Dit is die verhaal van twee mense wat hoop verloor het. Hulle wat naby aan Jesus geleef het, ervaar hom nou as afwesig.

En dan die ironie: Terwyl hulle met somber gesigte loop en praat oor hul verlies en hul onsekerheid, “kom Jesus self nader en loop met hulle saam” (vers 15). Die Grieks is onmiskenbaar: Dit is Jesus “self” wat na hulle toe kom, onderstreep Lukas versigtig. Maar hulle herken Jesus nie. Vir hulle bly hy, wat juis by hulle teenwoordig is, die afwesige.

Hierdie twee Emmausgangers herken egter nie hierdie “einste” Jesus nie. Met somber gesigte praat hulle oor die afwesige Jesus. Hulle vertel van ‘n “gesig” of “visioen” wat die vroue gehad het dat engele sê Jesus lewe. Maar, voeg Lukas by, die dissipels het Jesus “nie gesien nie” (verse 23-24). Hulle oë is versluier. Die vroue, vertel hulle self, het wel ‘n mistieke ervaring, ‘n mistieke visioen gehad. Verborge kennis is aan hulle oorgedra en geopenbaar. Die vroue verneem in die visioen dat Jesus lewe. Maar hierdie twee dissipels sien net afwesigheid. Hulle is “ontsteld” (vers 22). Geen wonder hulle gesigte somber en hulle bedroef is nie (vers 17). Daar is ‘n groot leemte in hul lewe.

En dan die mistieke antifrase: hulle ervaar afwesigheid – maar Jesus is tog by hulle. Hy agtervolg hulle soos hulle van Jerusalem weggaan. Hy soek hulle op.

Iewers het Jesus se besoek en reis saam met hulle vanaf die eerste oomblikke ‘n effek op hulle – al herken hulle hom nie. Op een of ander manier het hulle met versluierde oë en al tog iets van ‘n krag in hulle gevoel. Later, veel later, sou hulle selfs vertel hoe te midde van hul treurigheid en somberheid, hul desperaatheid oor die afwesige Jesus, hul harte brandende begin voel het (vers 32). Hulle begeerte na God was daar. Hulle verlange na Jesus was wakker. En iets van Jesus, die Opgestane, se krag het in hul begin brand – terwyl Hy aan die praat was met hulle.

Die teenwoordigheid van God het egter niks met hulle “gevoelens” of verbeelding te doen gehad nie. Terwyl die vroue ‘n visioen gehad het, is die twee dissipels by Jesus self. Die Emmaus-gangers verbeel hulle nie Jesus leef nie. Lukas beklemtoon dat Jesus na hulle gekom het soos Hy aan die einde weer uit hulle gesig verdwyn het (vers 31). Later sou Lukas in Lukas 24:37 beklemtoon dat die dissipels nie ‘n spook gesien het nie. Iets mistieks gebeur met hulle wanneer Jesus self tot hulle kom, wanneer iets “van buite” met hulle gebeur. Die mistieke antifrase wil juis dit beklemtoon: ons mistieke ervaring kom nie uit ons binneste op nie. Die ervaring word aan ons geskenk, onverwags, terwyl ons dit nie verwag nie. Die kom op ons af. Dit is ‘n goddelike inisiatief. Lank voor die Emmausgangers uiteindelik Jesus herken, is dit Jesus wat hulle agterna sit en hulle opsoek.

Daarmee skilder Lukas vir sy lesers die werklikheid van die opstanding.

Iets radikaals het met hierdie twee mense gebeur: hulle het te staan gekom voor ‘n werklikheid wat hulle verpletter het. Jesus was weg. Hulle het geen sin kon vind in hul ervaring van Jesus se afwesigheid nie. Maar terselfdertyd laat God die betekenis van hierdie werklikheid tot hulle deurdring. Nie net Jesus self nie, maar ook die Skrifte bring hulle tot die radikale besef van wat werklik gebeur het. Hulle dink nie antwoorde uit nie. Hulle vind dit in goddelike woorde en in die mistieke teenwoordigheid van Christus by hulle.

Die Emmausgangers vertel van ‘n kontemplatiewe oomblik in die lewe van die vroegste dissipels – die ervaring van God se oorweldigende teenwoordigheid in hulle lewens.

Die wonder van Jesus se opstanding word gekontinueer in die wonder van hulle transformasie: soos God in Jesus nuwe dinge gedoen het, so maak God ook vir hierdie twee somber mense die lewe nuut en transformeer God hulle tot ‘n totaal nuwe bestaan. Hulle “weet” wel aan die begin van hulle reis saam met Jesus van die opstanding. Hulle het kennis van die gebeure. Hulle is “histories” ingelig. Maar hulle herken eers die opstanding aan die einde van hul reis as hulle die krag van Jesus se teenwoordigheid beleef. Historiese kennis het niks aan hulle gedoen nie. Dit was die kontemplatiewe oomblik wat hulle getransformeer het.

Die mistieke antifrase onderstreep dat God na ons toe kom en op pad na ons toe is te midde van en in ons verlange na God. Al het hierdie twee dissipels Jerusalem opgegee, hul geloof wankelende, bly hulle praat oor Jesus, worstel hulle om die dinge te verstaan. En terwyl hulle nog begin praat, is God met hulle op pad – sonder dat hulle dit weet. Hulle word getransformeer. Hulle word deur God tot nuwe lewe gebring.


Die Franse kunstenaar, Dagnan-Bouveret het die skildery van die Emmaus-gangers geskilder wat hierbo gewys is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive