Ervaring, het ons geleer van jongs af, is ‘n gevaarlike ding. ‘n Mens moet veral nie emosionele ervarings vertrou nie, is ons dikwels vermaan.
Dit is sekerlik waar. ‘n Mens kan emosioneel onstabiel wees en dinge doen op die ingewing van die oomblik waaroor ‘n mens net die volgende dag bitter spyt kan wees.
Maar ervaring het nie net met emosies te doen nie, hoewel dit ook dikwels die emosies betrek. Ervaring het te doen met die werklike lewe. Dit gaan oor die leerskool van die lewe. Ons weet maar te goed dat ‘n slim mens maar baie onervare kan wees. En ‘n ervare mens sonder groot geleerdheid kan ‘n wyse leier wees. Die wyse mens is die een wat deur ervaring en insig groei tot volwassenheid.
Ervaring kan dus buitengewoon belangrik en waardevol wees.
Ek lees vandag in David Regan se boek, Experience the Mystery, ‘n interessante opmerking in die verband – en dit hou my toe nogal besig: hy skryf in 1994 hoedat daar in ons tyd ‘n groot beweging na ervaring aan die gang is. Ons tyd het sy vertroue in woorde verloor. Te veel skade is deur slimmighede aangevang. Daar is ook ‘n teleurstelling in die groot klem op ons verstand. Daar is groter belangstelling in ons sintuie en in die subjektiewe. Maar, skryf hy in ‘n sinnetjie, daar is ook nie meer so ‘n skerp weersin teen ervaring nie: vroeër het (katolieke) mense ervaring afgeskeep omdat die Hervorming geloof grootliks op godsdienstige ervaring gebaseer het. Ervaring was ‘n negatiewe woord omdat dit vir baie gelowiges tot “afwykende” godsdienstige bewegings aanleiding gegee het.
Ek sit so bietjie terug – verbaas oor hierdie een sinnetjie, veral omdat ek nog nie eintlik ooit voorheen só oor die Protestantisme gedink het nie. En toe tel ek later in sy boek verwysings op na Luther en sy godsdienstige ervaringe wat my meer van sy stelling laat verstaan. En laat besef dat daar ‘n klomp waarheid insteek.
Met so bietjie speurwerk kom ek toe af op opmerkings wat Luther self oor sy godsdienstige ervaring gemaak het. Die groot Lutherse hervorming het duidelik nie, soos wat ons algemeen dink en deur ons rasionalistiese professore wysgemaak is nie, begin toe Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur vasgespyker het nie. Luther het nie ‘n stuk teologie uitgedink wat hy toe gebruik het om die Roomse Kerk reg te sien nie.
Luther self vertel herhaaldelik dat die groot ommekeer in sy lewe gekom het deur sy worsteling met die Bybel. Uit sy bittere ervaring het die ommekeer in sy lewe plaasgevind.
In ‘n tafelgesprek vertel Luther hoedat hy ‘n heel mistieke ervaring gehad het toe hy in die klooster in Wittenberg in sy studeerkamer, waar hy gebly het, skielik op ‘n oomblik verstaan het waaroor Romeine 1:17 gaan. Luther vertel ‘n paar keer in sy Tafelgesprekke van hierdie deurslaggewende oomblik in sy lewe toe hy ervaar het waaroor die Evangelie gaan (54:193-4; 308-9; 442-3).
Daar was op hierdie stadium in sy lewe as priester oor ‘n tyd heen intense innerlike worsteling om God se genade in sy eie lewe te ondervind. Hy kon maar net nie innerlik tot rus kom nie. Hy was besonder bewus van sy eie sondigheid ten spyte van sy voorbeeldige lewe en sy stryd om heiligmaking. Hoe meer hy gestry het om goed te leef, hoe meer is hy innerlik deur sy onsekerhede verteer.
Hy het dus steeds weer Romeine 1:17 as ‘n groot bedreiging ervaar. Hierin is hy gekondisioneer deur die teologie van groot geleerdes soos Duns Scotus en Thomas Aquinas wat die vers verbind het met God wat regverdig is en daarom die sondaar gaan straf. Elke keer as hy die vers gelees het, skryf Luther, het dit hom in sy gewete soos weerlig geslaan en ‘n benoudheid soos ‘n donderslag in sy hart laat slaan. Daar was, het hy geglo, geen manier waarop hy God se regverdige eise sou kon nakom nie.
Nog negatiewer is die gevolge van hierdie ervaring vir sy geloofslewe: In sy hart het hy teen God in opstand gekom, kwaad omdat God die sondaar deur die Wet belas, maar ook vies omdat God boonop in ‘n vers soos Romeine 1:17 in die Nuwe Testament as Evangelie die sondaar dreig. Daar staan tog in die vers immer dat God “in die evangelie” sy regverdigheid onthul.
En tog kon hy nie wegkom van die gedeelte nie. Dit het hom aangetrek soos ‘n mot na ‘n kers. Luther skryf hy het dikwels, heel dikwels, daaroor nagedink en gemediteer.
Totdat hy die vers tot op die einde lees. “Elkeen wat deur Gode vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” God, besef hy skielik op ‘n dag toe hy weer oor die tweede helfte van die vers dink, spreek mense uit genade vry. Dit is nie ons werke wat ons uiteindelik na lange worsteling sal vrymaak nie. Die sondaar sal nie sy geregtigheid deur goeie werke verdien nie, maar word dit heeltemal verniet geskenk om Christus se ontwil.
Dit is wonderlik om Luther se reaksie te sien wanneer hy die teks só ervaar. Hy raak ekstaties daaroor: Hierdie vers ontsluit, skryf hy, vir hom die paradys. Dit was asof hy weergebore was. Hy het innerlike vrede ervaar. Die groot geestelike worsteling en die krampagtige greep na God was verby.
En vanuit ‘n totale transformasie skryf hy sy emosionele ervaringe neer wat veral by hom opkom wanneer hy as bevryde mense wat uit die evangelie van genade leef, oor God se genade dink: Die geregtigheid van God, sê hy dan, het nie meer in hom woede en angs soos voorheen losgemaak nie. Hy kon die frase daarna met ‘n liefde besing wat so groot was as die haat waarmee hy voorheen die begrip geregtigheid van God bejeën het.
Hier, by hierdie innerlike ervaring, maar ook uit die groter ervaring van die herhaalde lectio van Romeine, van sy meditasie, van sy biddende omgang en van sy kontemplering van God groei die Reformasie en sou die wêreldgeskiedenis nooit weer dieselfde lyk nie.
Kyk dus maar net na die Protestantisme om te sien hoe die ervaring van een vers deur ‘n worstelende gelowige kan uitkring.
Is ervaring gevaarlik, soos sommiges so oppervlakkig dink?
Is die Protestantisme ‘n fout?, sou hulle moes vra as dit waar was.
In hierdie ervaring het Luther juis al die slimmighede, die hoë skolastieke teologie afgesweer. Hy het op ‘n mistieke manier ervaar en bewus geword hoe God hom aanraak, weliswaar deur ‘n Bybelwoord, maar sekerlik op ‘n lewegewende, transformatiewe manier. Een vers wat in ‘n man se meditatiewe worsteling van alle kante bekyk en beleef word totdat, skielik, op ‘n dag, hy ervaar hoe ‘n enkele frase durende genesing en vrede bring.
Ervaring, selfs en veral ook emosionele ervaring, kan wêrelde heeltemal op hul kop keer. God werk deur ervaring.
Ten slotte:
Ek hou baie van Cranach die Ouere se werke. Uitsonderlik is sy boeiende skildery van Luther. Ek het jare terug vir my 'n kopie vir my studeerkamer laat raam. Ek dink dikwels terug oor hoe normaal en sterk hierdie skildery is - en dit van 'n mens wat sulke buitengewone intense ervarings gehad het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.