Monday, April 05, 2010
Die wonde van Christus
Ek dink vanaand na oor die vreemde verskynsel van stigmata – dit na aanleiding van ‘n skildery daaroor.
Mense wat simpatiek daarteenoor staan, glo dat gelowige mistici hulle in ekstatiese ervarings so sterk kan vereenselwig met Christus dat hulle in ‘n intense meelewing selfs die kruiswonde van Christus ervaar.
Stigmata is ‘n omstrede verskynsel in spiritualiteit. Daar is net 300 gevalle van stigmata in die geskiedenis opgeteken, maar dit het as mistieke ervaring buitengewone groot aandag getrek. Dit is ‘n relatief laat verskynsel want dit word eers van die dertiende eeu in geskiedskrywing genoem. Vandag word stigmata deur sommige medici as ‘n psigogeniese verskynsel beskou of selfs afgemaak.
Baie gelowige mense sal ook sinies oor stigmata wees. In ‘n Protestantse konteks is dit feitlik ‘n onbekende verskynsel en in die geloofslewe van Afrikaanse mense speel dit geen, of die kleinste van rolle.
In die kuns word die begrip herhaaldelik gebruik – veral as simbool van die kruiswonde van Christus. Selfs in van ons belangrikste Afrikaanse digters kom die motief voor. Johan Pieterse verwys byvoorbeeld in sy bekroonde bundel, Die Burg van Hertog Bloubaard se boek vyf na een van die beroemde voorvalle van stigmata in die lewe van Therese Neumann. Hy doen dit spesifiek in ‘n mistieke konteks.
Die stigmata het ook in die beeldende kunste diep spore getrap. Dit is juis na aanleiding van ‘n skildery en een van die bekendste mistici van alle tye dat ek vanaand nadink oor stigmata. Franciscus van Assisi het reeds vroeg in sy lewe visioene ervaar. In 1205 kry hy se eerste visioen, en toe weer in 1206 as 23 jarige jong man, sien hy in ‘n visioen vir Christus aan die kruis wat hom aansê om die kerk te herstel. Hy het dit letterlik opgeneem en die kerkgeboutjie onmiddellik begin restoreer. Een van die beroemdste oomblikke in hierdie mistikus se lewe was op 24 September 1224, twee jaar voor sy dood. Hy is na ‘n afgeleë gebied in die geselskap van ‘n paar volgelinge vir kontemplatiewe afsondering. Die gebeurtenis is deur broeder Leo beskryf. Hy vertel hoe Franciscus hier gaan bid het dat hy Christus se lyding en liefde mag leer ken. In ‘n verskriklike oorweldigende visioen verskyn Christus aan hom en ervaar hy die gekruisgde Christus se wonde aan sy eie lyf. Hy raak bewusteloos terwyl bloed uit sy liggaam stroom.
Caravaggio, een van die grootste kunstenaars ooit, het in 1595 ‘n allemooiste skildery oor die ervaring gemaak. Hy gee niks van die stormagtigheid van die visioen weer nie. Dit wys vir Franciscus in die hande van ‘n stil engelfiguur, maar daar is geen teken van die stigmata aan sy liggaam nie. In die omringende donkerte, staan die twee figure uit deur die helder lig wat hulle omstraal. Daar is iets diep geestelik aan hierdie skildery van die beroemde Caravaggio. Vandag hang die skildery in die Wadsworth Atheneum in Hartford, Connecticut.
Sommige mense sê die stigmata herinner hulle aan wat Paulus in Gal 6:14-17 skryf oor Christus se merktekens (littekens – N.A.V.) wat hy aan sy lyf dra. ‘n Mens sal Paulus se woorde nie só kan verletterlik nie. En die stigmata is werklik ‘n problematiese saak. Maar hier pas dit ‘n mens om liewers nie te vinnig te praat nie. Terwyl sommige medici stigmata met ‘n histeriese persoonlikheidstruktuur verbind, kan ‘n mens tog ook weer nie ontken dat Christus ons geroep het om sy kruis op te neem nie. ‘n Paar uitsonderlike heilige mense het ‘n intense begeerte om die navolging van Christus konsekwent tot die einde deur te voer. Daar is niks mee verkeerd om te begeer om Jesus tot in sy lyding na te volg nie.
Maar tog – miskien het Caravaggio die sleutel: wat tel is nie of ons die wonde in ons liggaam het nie. Wat ook nie tel nie, is ons spesiale vroomheid en begeertes, of ons kan spog met uitsonderlike tekens nie. Die belangrikste van alles is om by Christus te wees, om diep ingeënt te word in sy lewenswyse, om die pad saam met Hom, in sy teenwoordigheid te loop. Nie ons wonde nie, maar Sý wonde maak regtig saak en bring vir ons die vryheid.
As ek geboeid na Caravaggio se skildery kyk, sien ek ‘n man, oorweldig deur sy mistieke ervaring, in die versorging van ‘n engel. Hy is geborge in die helder lig van God se versorgende liefde. Dit is goed om by God te wees.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
April
(29)
- Vroomheid en heiligheid - 'n vergelyking
- Verlangend om by die Heilige te kan skuil
- Familie...
- Heiliging
- Ontsag en eerbied vir God as kernwoord van spiritu...
- Wat is spiritualiteit? Oor vier kernwoorde in Bybe...
- Drome droom...
- Wanneer die sonneblomme vrae vra. Oor God se liefde.
- Die mede-reisiger in die soeke na God se wil
- In God se onverganklike hand van liefde
- Varklelie
- Net om die draai...
- Om iemand tog so mooi hel toe te stuur.
- Wanneer 'n mens God beweeg tot verandering...
- Die opstanding: God is teenwoordig juis wanneer on...
- Spoor...
- Die ervaring van vertroue in God
- Onbetroubaar
- Nederigheid en spiritualiteit
- Wanneer ons die Bybel nie regtig hoor nie...
- Die Bybel kan net in stilte verstaan word.
- Skugterheid of skaam-wees
- Luther se haat vir God. Oor die transformatiewe ro...
- Die wonde van Christus
- Dit is nou tyd vir meer as net kalm wees. Oor Euge...
- Wanneer die kruis op ons lewens beslag lê
- Wanneer bekwaamheid nie meer tel nie....
- Hoe goed kan Goeie Vrydag wees?
- God se droom vir die wereld. Oor die einde van gew...
-
▼
April
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.