My oog vang ‘n opmerking van Bonhoeffer: “Net die liefde keer ons om te vergeet.”
Dit bly knaag aan my.
Ek spoor die sinnetjie na en kom af op die gedeelte waarin hy dit geskryf het.
In die gedeelte dink hy na oor Psalm 119:16: “Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.”
Bonhoeffer skryf dat ‘n mens telkens weer nuwe dinge in die Bybel ontdek. Dit is ‘n ryk boek wat vir ‘n mens elke keer weer nuwe moontlikhede ontsluit om sinvol te lewe.
Maar dit vra van ons om met die Bybel self besig te wees, om die nuwe dinge uit die mond van God self te hoor. Dit help nie ons lees oor die Bybel of dink ons “ken” die Bybel nie. Die geheim is in die lewende kontak met die Woord self.
'n Mens kan Psalm 119 lees en dink dit is 'n dodelike, herhalende gerammel. Al swoegtende kan jy uit pligsbesef daardeur worstel.
Maar as jy tydsaam lees, stil nadink, bly mediteer met toewyding, word die Psalm jou skatkis, herken jy dit as die paradys-plek waar iemand God se werke in die wet uitbunding loof.
Daar is belangrike redes waarom ons aan die Bybel verknog moet bly. Wie ons is, weet ons net omdat God deur die eeue heen steeds weer aan die werk was. God het besig met die mens gebly, lank voor ons bestaan het, gedurigdeur of ons nou bewus is daarvan of nie. Dit moet ons bly onthou. Ons kan dit nie vergeet nie. Wie ons is, word bepaal deur wat God gedoen het.
Daar is groot beloftes in die ontmoeting met die Bybel. Wanneer ons bly dink aan al God se werkinge, ontdek ons vir onsself ‘n nuwe toekoms. Die lewe hou die belofte van nuwe dinge in. God is besig om ook in ons lewe wonderbare dinge te doen.
Maar hoe bly ons dink oor God se werkinge? Hoe werk die ontmoeting?
Deur die Woord te bedink, deur dit te “lees”. “Al u bepalinge wil ek een vir een opnoem” (Ps. 119:13).
Wie ek is, dat ek ‘n vry mens is, dat ek in liefde kan leef, het ek te danke aan Christus. Christus maak my tot wie ek is. Elke keer weer as ek nadink oor wie Christus is en hoe Christus my vrygemaak het, elke oomblik wanneer ek in die Woord lees, daaroor nadink, dit hardop my eie maak, word ek ‘n geseënde mens. Dan gaan die lewe vir my oop, ontdek ek nuwe dinge.
As ek Christus vergeet, gaan my geloof tot niet. As ek nie meer liefhet nie, sal ek nie meer onthou nie.
So gou, wonder Bonhoeffer, dwaal ‘n mens se gedagtes van God se woord weg. ‘n Mens vergeet nooit om te eet of te drink of te slaap nie. Maar waarom vergeet ‘n mens dan die Woord van God? Omdat ‘n mens nie saam met die Psalmis kan sê: “Ek verlustig my in u voorskrifte” nie. ‘n Mens vergeet nie die dinge wat jou bly maak nie. Jou hart is nie daarin nie. Dit is nie jou liefde nie.
Hoe nou gemaak? Bonhoeffer sluit af: “Hoe meer ek begin om my in God se voorskrifte te verbly, hoe meer ek dit raaksien in die skepping en in die Bybel, hoe meer sal dit by my bly elke oomblik van my lewe. Net liefde kan keer dat ‘n mens vergeet.
Vandaar dat ‘n mens met jou hele self en met jou hele hart, nie net met jou verstand nie, moet liefhê. Slegs wanneer ‘n mens in ‘n lewende gemeenskap met Christus verenig word, sal ‘n mens liefhê, sal ‘n mens onthou, sal die Woord ons pad verlig.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.