Die gesprekke in sekere boeke, koerante, tydskrifte en webblaaie oor godsdienstige sake kan ‘n mens verslae laat.
Hoe is dit moontlik, dink ‘n mens as jy na die kommentare kyk, dat mense wat gelowig is, mekaar so heftig kan aanvat, veroordeel en uitkryt?
Op allerhande punte van geloof sien jy hare na alle kante toe vlieg. Aan weerskante word die opponent na die diepste kamers van die hel verban. Die twis oor allerhande teologiese punte is hewig.
Verskeie dinge val my op:
Die eerste is dat mense so seker is omtrent wat hulle skryf. “Hulle” Bybel het die “regte” boodskap. “Hulle” verstaan is die “regte” verstaan. Die Bybelversies reën soos koeëls op mekaar neer: hulle is die “feite” waarmee die argumente oor God teen die ander bewys word.
So praat ons “oor”God. En “verdedig” God teen God se “vyande”.
Dit is min dat iemand terug sal staan en sal toegee dat die Bybel soms oor sekere dinge niks sê nie. Of dat uitsprake in die Bybel op meer as een manier verstaan kan word nie. Of dat ons soms sekere dinge in die Bybel met die allergrootste sekerheid aanhang en ander dinge weer skromelik ignoreer. Sommige Christelike kerke (Sewendagse Adventiste) vier op grond van die Bybel Saterdag as sewende, heilige dag. Die meeste hou aan Sondag as opstandingsdag vas. Maar sulke verskille ontgaan ons aandag en laat die skille nie van ons oë afval nie.
Die tweede opvallende saak is hoe min mense na binne kyk of die hand in eie boesem steek. Dit is asof Christus nooit gepraat het van die splinter en die balk nie. Of: dit is asof die Johannese verhaal van die sondares nie bestaan nie: laat die een sonder sonde die eerste klip gooi… Of: oordeel maar nie te gou nie, want wie oordeel sal geoordeel word.
Dat ons almal soekers is, dat ons almal maar ten dele weet, dat ons almal op ons manier probeer sin maak van die lewe en dit maar al te sukkelend doen, is min ter sprake. Hierteenoor staan die wat met soveel sekerheid weet wat die waarheid is, wat alles volledig weet – soveel so dat hulle God se oordeel nou al ken en namens God oor die ketters kan uitspreek.
Nederigheid is dikwels ‘n ondergewaardeerde deug in die arsenaal van wapens van die wat trots is op hul Christenskap en wat almal wat nie soos hulle dink nie, met kartetse van oordeel uitmekaar skiet.
Maar tog is dit nie die belangrikste nie. Daar is een groot saak wat ek die meeste mis in ons gesprekke oor geloof. En dit het te doen met verwondering. Watter gesprekke oor godsdiens inspireer ‘n mens nog om op jou knieë te gaan? Watter debatte laat jou aangetrokke voel tot die God waaroor mens met mekaar praat? Watter artikels bring ‘n verdieping in ‘n mens se geloofslewe? Watter boeke verander ons lewens? Watter onderwerpe laat ‘n mens lus voel om jou Bybel oop te slaan en te lees? Watter woorde van mense oor godsdiens laat jou voel daar is iets in hul verhouding met God wat jy beny en vir jou eie lewe soek? Hoeveel keer het ‘n preek jou verwonderd gelaat oor die gawe van geloof en oor die teenwoordigheid van God in jou lewe?
‘n Mens kan alles weet oor God, oor die Vader. Jy kan deel van die huisgesin van liefde wees, en tog kan dit jou koud laat en kan jy jou buite, in die donker, al bakleiende en grimmig, buite hierdie liefdeskring bevind.
En, verder nog: hoe kan ‘n mens kom tot die punt dat jy nie net weet hoe groot en wonderlik God is nie, maar dit ook beleef? Wanneer skok dit jou tot stilstand dat God se weë nie die mens se weë is nie, dat God dikwels werk op ‘n totale ander manier as wat mense dit doen? Want God is die Verborge God, die Een wat die kruisweg uitwys eerder as die pad van mag en geweld. God is die Onpeilbare, wat die sondaars lief het en die vromes met ‘n sweep uit die tempel verdryf. Ons kan God nie beheer nie. Ons kan God nie ken nie – al dink ons, die wetgeleerder, die voorste sitters in die kring van die vromes, soveel van ons kennis.
Verwonderd voor God sal ons die pad van die liefde loop en ons vingerswaaiende handjie en gebalde vuiste laat sak voor die groter mag van omgee, aanvaarding, vergifnis, ontferming en ondersteuning.
Daarom, wanneer ons ‘n boek, tydskrif, artikel of webblad oopmaak en lees, is die belangrike vraag nie: teen watter ketterye moet ek God nou verdedig nie.
Steeds weer is die soekende vraag van hulle wat oor God praat: Is ek hier, in hierdie arena van gesprekke, in die teenwoordigheid van die Verborge, Onuitspreeklike God?
Paulus, wat nie onbekend is vir sy liefde vir die waarheid nie, is juis die een wat geskryf het: die gawe van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik (1 Kor. 13:8-9). Groter as die kennis, is die liefde. Al besit ‘n mens al die kennis, en, selfs as ken ‘n mens al die geheimenisse, is ‘n mens niks sonder die liefde nie (1 Kor.13:2). Daarom is die toetsteen vir alle spreke oor God, die liefde. Debatte oor God in boeke, tydskrifte, artikels en webblaaie sonder die liefde is daarom niks. Niks.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.