Die lydenstyd is die tyd van self-ondersoek. Dit is ‘n sober tyd waarin ‘n mens na binne kyk en soek om ‘n lewe te lei wat nie besmet is met onreinheid nie. Dit is die tyd waarin ‘n mens soek om al die bande wat ‘n mens verkneg, te breek.
In baie kerklike tradisies is dit ook ‘n tyd waarin ‘n mens jou onthou van oordadigheid, van plesier, van alkohol, vermaak en waarin ‘n mens vas.
Soms kan ‘n mens hierdie tyd van reiniging swaar maak. Die lydenstyd word dan ‘n swaarmoedige, depressiewe fase in ons lewe.
Dit is nie die gesindheid waarmee die vroegste Christene dit gevier het nie.
Basilius die Grote het sy gedagtes oor die lydenstyd as volg uitgedruk: “Laat ons so vas dat dit vir die Heer aanvaarbaar is en vir Hom vreugde bring. Egte vas is om van die bose vervreem te word, om ‘n mens se taal te matig, om weg te bly van woede, om ‘n mens se begeertes te beheer, om op te hou met laster, leuens en meineed. Om van hierdie dinge weg te bly, is om op ‘n egte manier te vas.”
In die stryd teen kwaad, begeer Basilius die “egte” vas wat vir die Here “vreugde” bring. In die lydenstyd, dus, ontdek ‘n mens bly wat werklik in die lewe saak maak. Maar kyk net hoe vind ‘n mens die vreugde: deur te leef op ‘n manier wat vir die Here aanvaarbaar is. Die vreugde is te vind in die bevryding van dinge wat ons verhouding met die Here belas en die ervaring van die goddelike teenwoordigheid verduister.
Johannes Chrysostomus skryf byvoorbeeld oor die lydenstyd as ‘n tyd van reiniging met dieselfde blye toon:
“Kom, laat ons met vreugde begin om te vas. Kom laat ons ons geestelik inspan. Laat ons ons innerlike reinig, ons liggaam skoonmaak. Laat ons van ons begeertes vas soos ons van voedsel vas.”
Dit is die proses van self-ondersoek wat hier plaasvind. Deur die proses stel die mens hom/haar in om van alles wat negatief in sy/haar lewe werk, ontslae te raak.
Maar boeiend is dat hy hierdie proses van reiniging as iets positiefs en vreugdevol ervaar. Die tyd van inspanning, van reiniging moet “met vreugde” aangepak word. Chrysostomus skryf na die opmerking hierbo verder:
“Laat ons vreugde vind in die goeie werke van die Gees en hulle in liefde doen sodat ons almal waardig sal wees om die lyding van Christus, onse God en sy heilige pasga te sien terwyl ons met geestelike vreugde bly is.
Egte, ingetoë vreugde is ‘n vaste deel van die lydenstyd se onthouding. Twee keer praat Chrysostomus oor blydskap. Opmerklik is die liefdevolle toewyding waarmee ‘n gelowige mens volgens hom die goeie werke van die Gees soek. Ook hier kom die vreugde op uit die wete dat ‘n mens skoongemaak word van dinge wat afbreek en in die pad staan vir die werking van die Gees in jou lewe.
Die vroeg-Christelike viering van die lydenstyd vind weerklank in die nagmaalsformulier. In die formulier is daar ‘n gedeelte wat my altyd geraak het. “Hoewel ons die nagmaal met gewyde erns vier, is dit tog ‘n vreugdefees, waar die Heiland op ‘n besondere manier die vrugte van sy lyding, sterwe en opstanding uitdeel. Die nagmaal bied ‘n voorsmaak van die ewige vreugde wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam.”
Ook in tye van soberheid, in tye van lyding kan ‘n mens reken op die Here wat teenwoordig is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.