Keats het ‘n allerberoemde gedig, Lamia, in 1819, twee jaar voor sy dood geskryf.
Ek word aan die gedig herinner deur ‘n werkstuk van Brenda. Die werkstuk gaan oor die filosofie en die teologie wat by vele denkers hul oorspronklike karakter van lewenswysheid verloor het.
Teologie en filosofie is volgeprop met allerhande bespiegelinge oor die mees obskure dinge. Dit is lank nie meer die lewenswysheid wat so belangrik was dat Sokrates daarvoor met sy lewe betaal het nie. En teologie verval dikwels by skrywers in skolastieke haarklowery wat nie veel transformatiewe krag het nie. Dikwels het die vak niks meer as slimmerige dispute oor obskuriteite geword.
Vandaar dat Spiritualiteit na vore kom, want in Spiritualiteit wil die veranderingskrag, die transformatiewe uitwerking van ‘n teks ervaar word. Spiritualiteit wil afskeid neem van koue afstandelikheid. Ook in filosofie is daar 'n terugkeer na spiritualiteit - soos Solomon se boek bewys (Spirituality for the Skeptic: The Thoughtful Love of Life. Oxford, 2002).
In die verband is dit interessant om na te dink oor hoe ons brein, so noodsaaklik om ons van alle stommiteite en bygelowe te bewaar, ons tog ook van kosbare dinge kan beroof. Keats, die romantiese digter van die 19e eeu, het die onderstaande gedig geskryf in verset teen die kille rasionaliteit van filosofie en wetenskaplike verklaring wat skoonheid tot niet maak, wat verbeelding vernietig en wat waarheid in gedistansieerde betragting vind. Die gedig is 'n protes teen slimheid en 'n pleitdooi vir wysheid.
Die aanhaling is deel van ‘n gedig waarin Lykios deur sy ou streng filosoof-leermeester van liefde beroof word omdat hy nie verborge skoonheid herken nie. Daarom is filosofie “koud” – dit beroof van die warmte van liefde.
In die gedig word die “aweful” (eintlik awesome/boeiende). reënboog deur koue rasionalisering gelyk gestel aan sonstrale wat deur vele vogdruppels ‘n klomp kleure in die lug laat skyn. Die lugkastele, die betowering van die reënboog wat ‘n mens verstom met sy skoonheid, die wêreld van verbeelding, die droom-dinge word nou deur wetenskaplike kennis onluister tot iets wat net so gewoon is soos ‘n item in ‘n handelskatologus.
Do not all charms fly
At the mere touch of cold philosophy?
There was an awful rainbow once in heaven:
We know her woof, her texture; she is given
In the dull catalogue of common things.
We know her woof, her texture; she is given
In the dull catalogue of common things.
Philosophy will clip an Angel’s wings,
Conquer all mysteries by rule and line,
Empty the haunted air, and gnomed mine –
Unweave a rainbow …
Hier is my vertaling:
Verdwyn dan nie alle betowering
Sommer by kil filosofie se eerste aanraking?
Eens staan ons voor ‘n reënboog, verstom:
Oor sy weefwerk, sy fyn tekstuur; hy kom
Ru in die vaal katalogus van gewone dinge ingeperk.
Filosofie versnipper ‘n Engel se vlerk,
Onluister die verborgene deur reëls en redenasies,
Sloop die droom-kastele en verpand kabouter-plasies –
Pluk ‘n reënboog uitmekaar….
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.