Friday, March 23, 2012

Gebed in onsekere tyd


Ek lees vanaand ‘n gebed wat my raak. Dit gaan oor die moeilike tye wat ‘n mens soms so onverwags oorval. Hier is my verwerking daarvan:

Ek is, Here, bang by hierdie onverwagte draai in die pad. Ek vrees voor die onbekende, die onveilige, voor dit wat skielik so dreigend lyk. Hoe gaan ek hierdie pad loop? Hoe kan ek anderkant uitkom?  

Gee my vrede. Laat my, o God, in hierdie harde tye vashou aan die diepere, groter dinge, aan dit wat bly, aan dit wat my dra bo alle teenspoed en ellende heen.

As ek die pad loop, laat my nooit die mooi dinge miskyk nie. Maak my bewus van skoonheid wat nog steeds in u wêreld gesien sal kan word, al maak my angs my oë dof.

Wanneer ek die geraas van my eie twyfel en skrik hoor dreun, bid ek vir die sagte klank van U vrede. Open my ore vir soet klanke wat die wilde klop van my angstige hart sal verdryf.

Wanneer ek wonder wie my sal dra, bid ek dat ek hulle sal herken wat daar is om my te dra. Laat my hart oopgaan vir die liefde van almal wat altyd nog daar was, wat my steeds weer verdra en verduur het.

Wanneer ek raadop is, soek na wysheid, rondtas om te verstaan, bid ek dat U my die dieper wete sal laat ervaar. Laat my gedagtes tot rus kom in die besef dat daar soveel kennis is, soveel insigte wat my stryd-tye, die sinkplaat-tye, wat my reis, die reis in die donker nag, sal verlig en ligter sal maak.

Ek bid dat ek steeds weer ‘n oop hemel sal kan raaksien. Meer nog, Vader, gee dat ek nie in my eie dinge, my eie pyn verstrik sal word nie. Laat my bewus bly van hulle wat ook ly, wat ook in die donker tye moet reis. Laat my hulle nie vergeet nie. Gee dat ek nog steeds die stemme hoor van hulle wat desperaat roep om hulp.  Vul my met ontferming, God.

Laat my dan ook nooit tot niet gaan nie, Here. Herinner my altyd weer dat ek ook ‘n plek het om vol te staan, dat ek ook saak maak, dat ek ook bemin word. Laat my die vryheid wat U my skenk, met my hele hart herdenk en vier. Maak daarom my hart vol van ontferming. Laat my onsekerhede verdwyn. Smee hulle om in dade van goedheid en meelewling.

Laat my wys lewe. Iemand wat op reis na dit wat sin maak, wat ‘n lewe vol bevrediging, vreugde en vrede bleef.

Bly by my God. Laat ek altyd weet: U is naby. U is by my.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive