Dit bly opmerkilik dat die Kort Begrip en die Heidelbergse Kategismus, soos vele Protestantse dokumente en geskrifte lief is om te fokus op die trits: sonde, verlossing en dankbaarheid.
Die beginpunt is sonde: ‘n Mens moet weet hoe groot jou sonde is, vertel die Kort Begrip. Dan begryp ‘n mens soveel meer van verlossing en van dankbaarheid.
Maar klop dit werklik?
Dit is tog nie waar die Bybel begin nie.
Ons dink aan die sondeval en die slang as die groot boodskap van die Paradysverhaal.
Maar ‘n mens kan dit ook heel anders bedink. Die Paradys-verhaal is nou verbind met die skepping. God het die aarde tot stand gebring en van die vroegste tye, vertel die Genesis-verhaal, is die aarde die plek waar die paradys te vind is. En, selfs al verloor die mens die paradys, verdwyn die paradys nie van die toneel nie. Trouens, alles in die wêreldgeskiedenis is ingestel op die terugkeer van die paradys.
God se goeie skepping, die Paradys van vrede en volmaaktheid is die beginpunt.
Alles begin by wat goed is, wat seëninge bring.
Soelle skryf hieroor: die mistieke reis gaan om eenwording met God. Die mens kan uiteindelik die pad terugvind na die Vaderhart. Na die donker, lang reis word mens weer met God verenig. Dit oorheers alles - die liefdevolle eenheid met God.
Dit is nie sonde wat eerste kom nie, maar seëninge.
Van die begin af skenk God aan die mens en skepping met oorvloedige goedheid en seëninge. En God wil, wanneer dit verlore gaan, die mens en skepping weer terugbring na hierdie oorspronklike situasie.
Wat beteken dit nou? Dit beteken dat ons soos God na die mens en die wêreld moet kyk. Dit is nie in die eerste plek ‘n ellendige ruimte vol sonde en slegtheid nie, soos ons, maar te menslik, altyd swartgallig wil dink nie. God maak alles en sien dit is goed (Gen.1: 4, 12, 18).
Wanneer God die mens aanraak en inspireer om terug te kom, om die pad na die huis van Liefde te loop, is dit ‘n reis gelaai met verwondering oor die goeie, die seëninge. Die reis na die Here is ‘n pad wat vol wonders is.
Dus, terwyl ‘n goeie sondebesef belangrik is, mag die mistieke reis nooit in sonde-beheptheid ontaard nie. Altyd weer is eerbiedige verwondering die ondertoon van die mens wat God se verhouding koester. Dit is die begin en die einde van ons reis met en na God.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.