Thursday, March 08, 2012

Hoe om besield oor God te wees....

 
Hoe word ‘n mens “besiel” vir en oor God?

In ons siellose wêreld is dit by vele mense ‘n diepe verlange.

Paulus het vir ons in Galasiërs boeiende uitsprake oor die inwoning van God in die mens nagelaat, oor hoe ‘n mens besiel oor God raak.

Hy skryf in Galasiërs 2:17-21 verskeie opvallende dinge hieroor. ‘n Mens, sou jy hom kon opsom, raak besiel oor God wanneer jy vry word van jou eie gejaag na wind en wanneer jy jou oopstel vir die liefde.

Kyk wat het alles Paulus se lewe volgemaak: Hy praat oor sy verlede, oor die groot plek wat die wet in sy lewe ingeneem het en nog vir baie mense in sy tyd inneem. Hy merk in vers 19 op hoe die ou bedeling van die wet verby gegaan het met die koms van Christus. Hy wat Paulus is het hierdie bedeling van die wet afgesterwe. Dit is verby. Hy is nie meer gebind deur die ou dinge nie.

Dit klink mooi. Maar dit word nogal radikaal as ‘n mens dink oor Paulus se eie geskiedenis en hoe sy hele lewe bestaan het daaruit om heel vroom die wet te verdedig en mense wat nie met hom saamgestem het nie, dood te maak. Hy vertel dit immers self in Galasiërs 1:13-14. Hy was ‘n vroom, maar ‘n bitter, besete en gevaarlike mens.

Toe het hy genade ontvang skryf hy in 1:15 toe hy geluister het hoe God hom wegroep van daardie gewelddadige, rustelose en leë lewe.

Wat dan nou?  Alles is omgekeer in Paulus se lewe. Hy skryf in Galasiërs 2:20: Ek leef nou “vir God”. Noudat alles nuut geword het, is sy hele lewe op God ingestel.

Daar is iets merkwaardigs direk aan hierdie opmerking. Sommer so: Ek leef vir God. So asof hy vantevore nie vir God geleef het nie.

Paulus is nog Paulus. Hy praat nog van homself. Dit is hy, Paulus, wat skryf “ek leef”.

Maar God het hom omvorm op so ‘n manier dat hy vir God lewe op ‘n direkte, onmiddellike manier. Hy leef nie meer vir homself nie. Sy aandag is elders. Dit is ingestel op God. Hy leef nie meer vir die wet nie, vir die dinge wat so maklik uiterlik kan word, vir vroomheid wat eintlik boosheid geword het.

Waaijman skryf hieroor aan die hand van Bernard van Clairvaux se beeld: Wanneer ‘n mens ‘n druppel water in ‘n glas wyn gooi, verloor daardie waterdruppel sy eie smaak en kleur. Wanneer ‘n mens die glas wyn drink, sal ‘n mens daardie druppel as wyn proe en sien.

Dit is wat met Paulus gebeur: Sy leef vir God word ‘n intieme verhouding waarin Paulus homself in Christus verloor. Alles in sy bestaan is nou gerig op God.

Meer nog: Hy leef nie meer nie. So skryf hy ook uitdruklik in Galasiërs 2:20. Jy sal Paulus nie meer op sy eie iewers vind of raakloop nie. Hy is die druppel wat in die wyn gemeng is en die geur en kleur van wyn aangeneem het. Hy is so deel van Christus dat hulle wêrelde ineengesmelt het.

Paulus is nog Paulus. Maar tog is dinge nie meer dieselfde nie: Christus leef, skryf hy, in “my”. Ons het onafskeidbaar geword. Daar is niks wat ons van mekaar skei nie.

Dit is nie dat hy hom nou verbeel dat hy Christus geword het nie – om dit eenvoudig te probeer verduidelik. Hy weet nog van sy “my”- dat hy Paulus is, dat hy sy lewe in die liggaam ly (vers 20).

En tog het Paulus radikaal verander. Hy is nie meer Paulus nie. Hy is nou die Paulus waarin Christus inwoon.

Dit is ‘n wonderbare eenheid tussen Paulus en God wat hier uitgebeeld word. Kyk net hoe praat hy oor Christus: dit is nie meer Christus wat destyds gesterf het nie. Hy stel nie belang om die historiese verhaal van die kruisdood van Christus te vertel nie. Hy leef hom totaal in in daardie kruisdood, maak dit sy eie en eien dit volledig vir homself toe. “Ek is gekruisig”, skryf hy. Hy is saam met Christus gekruisig. In Christus se dood het hy ook gesterwe. So onafskeidbaar het hy en Christus geword dat Paulus selfs sy dood deel.

In verborge taal verbind Paulus sy lewe so intiem en so intens met Christus dat wat met Christus gebeur het, met hom gebeur het.

Maar intussen gebeur iets nog groters:  Christus, die Seun van God (Gal. 2:20) “is” in Paulus. Daar is, sê hierdie gedeelte, iets goddeliks aan Paulus se bestaan. Daar het iets kragtigs met hom gebeur. Hy lyk nie meer na die ou Paulus nie. Hy lyk al hoe meer na Christus. Hy is nie meer sy eie baas nie. Hy behoort aan die seun van God. Hy lyk al hoe meer na die seun van God, die beeld van God.

Hy, Paulus leef vir God. Maar Hy, Christus, leef nou in Paulus. Noue, intieme eenwording, wedersydse inwoning.

Hoe kan ‘n mens nou meer besield raak oor God as dit? 

Dit is iets verborge. Dit is nie 'n reseppie wat jy kan namaak en opdis nie. Paulus het dit nie verstaan dat Jode in Christus geglo het nie. Hy het dit belaglik gemaak, dit verpes en dit wortel en tak probeer uitroei. Hy het dit nie verstaan nie.

'n Mens kan maar net ten beste hierop wag. Verlangend. Jy kan maar net begin skoonmaak vir daardie oomblik wanneer die Goddelike die ruimte in jou sou kon vul, tot barstens toe, tot sielsverblyding toe. 

En soms wag jy nie eers daarop nie. Jy ry nog so op 'n dag dapper op jou vinnige perdjie agter die kwaad aan, dan gebeur dit. Jy kan dit nie verstaan totdat op ‘n dag God nader kom en die liefde jou aanraak nie. 

Maar wanneer dit gebeur, wanneer jy jou Damaskus oomblik beleef en die armoede van jou lewe insien en die ryke helder lig van die Christus-liefde verblindend raaksien, gebeur dit ook met jou. Geen wonder dus dat Paulus skryf : “My lewe in die liggaam leef ek in die geloof in die seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my gegee het.”

Hoe raak 'n mens besield vir God? Wanneer die liefde stilweg, maar tog so dodelik suiwerend in jou kom inwoon. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive