Dit is nie maklik om te verloor nie. Wanneer ‘n mens deelneem aan enige iets wat na kompetisie lyk, is dit ‘n heerlike gevoel om uiteindelik te wen.
Ek onthou hoeveel keer Henri Nouwen in sy werke skryf oor die prestasie-dwang waaraan ons in die Westerse kulturele sfeer onderwerp is en hoe negatief dit ons lewens beïnvloed. Dit sien ons in ons houding oor verloor.
Sommige mense vind dit hieroor en om baie ander redes moeilik om te verloor. Kinders, net soos ouer mense, hou ook glad nie daarvan nie. In ‘n sekere sin is kinders net baie meer spontaan en ongeïnhibeerd in hul reaksie op ‘n nederlaag. Hulle wys hulle innerlike gevoelens van frustrasie baie duideliker en meer emosioneel as volwassenes. Die kind wat die spel verloor, raak woedend aan die huil. Hy of sy slaan die vuis op die tafel, stamp sy voete, val op die grond neer, storm na die kamer en slaan die deur met ‘n harde knal agter hom of haar toe. Hulle verloor totaal beheer.
Volwassenes en selfs mense met bietjie ervaring en self-beheersing probeer dit nie doen nie. Maar ook hulle kry dit nie altyd reg nie.
Hoe nou gemaak met ons innerlike woede oor tye van frustrasies? Hoe loop ‘n mens die pad saam met ander mense wat al hulle speelgoed uit die pram gooi wanneer hulle teenspoed kry? Dit is immers ‘n algemeen menslike ervaring dat ‘n mens nie altyd eerste kan kom nie en dan baie opgewerk daaroor raak.
Die ouer of meer volwasse mens het verskillende opsies teenoor die kind wat die frustrasies laat oorborrel en destruktief optree: jy kan die kind lekker verskel om nie so kinderagtig te wees nie en weier om weer met hom of haar ‘n speletjie te speel. Net so kan ‘n mens vriende kwaai aanspreek of vermy as jy voel hulle onbeheersdhede is nie volwasse nie.
Ek sien die opvoeders skryf hieroor met algemeen menslike wysheid: Heel eerstens, beklemtoon hulle, moet ‘n mens besef so ‘n uitbarsting is ‘n unieke kans om jou oor die vriend of oor die kind te ontferm deur hulle tot beter opsies te probeer motiveer. Iewers moet ‘n mens teenoor hulle laat deurskemer: Woede oor verloor moet nie met woede van gedrag vererger word nie. Trouens, terwyl ek oor die insig nadink, besef ek ‘n mens sou die klem op beheerstheid en dissipline Bybels kan inklee. Die kwaad van verloor moet nie met die verdere kwaad van uitbarstings beantwoord word nie.
Daar is ook ‘n verdere wysheid van sommige opvoeders: Die woedende vriend of die kind moet nie verwerp word nie. Hulle woede is ‘n ideale geleentheid om hulle tot volwassenheid te begelei. Maar hiervoor het ‘n mens buitengewone wysheid nodig. Dit vra innerlike rustigheid om ander tot rustigheid te inspireer. Dus: die belangrike ding is om ‘n mens se eie reaksie op die kind se woede goed te bestuur en op jou eie optrede te let.
Die tweede oplossing is volgens die opvoeders om die kind te help om ‘n uitlaatklep te kry. Ek dink onwillekeurig aan Henri Nouwen wat iewers skryf dat wannner ‘n mens ontsteld is, jy jou gevoelens in ‘n brief moet gaan beskryf om daardeur uiting aan opgekropte, intense emosies te gee. Maar, voeg hy dadelik by, moenie die brief dieselfde dag pos waarop jy dit geskryf het nie. Jou skryf gee jou al ‘n ander perspektief, maar die volgende lyk dinge miskien nie meer so erg nie, of kry jy insigte wat jou anders laat optree.
Vir vele opvoeders beteken dit dat ‘n mens veral vir kinders heel prakties met hul woedebuie moet bystaan. Help hulle met ‘n uitlaatklep. Help die ander een om in die gewoonte te kom om eers tot 10 te tel, of om eers ‘n draai te gaan loop, of net doodeenvoudig te sê: Ek is sommer net so vies hieroor. In hierdie geval moet die verbale uiting van innerlike frustrasie as ‘n ontlading en ‘n verligting van emosies beleef word.
Help die kind dus met twee dinge – dit is, om nie te skreeu en beheer te verloor nie, maar op ‘n ander manier sy of haar frustrasie te lug. En hierdie insigte geld seker ook mense wat maklik hul frustrasies die oorhand kan laat kry.
Tog, vertel die opvoeders, kan ‘n mens nog meer doen deur self in te gryp in 'n moeilike situasie. ‘n Mens kan hulle help om op te tree deur sy verbalisering en ontlading van sy frustrasie te laat uitkom. Die ouer mens kan vir die kind help met verwoording van innerlike ervarings deur hom of haar aan te spoor met ‘n vraag: ‘n mens voel woedend of goor as dit gebeur, ne?
Maar ‘n mens, skryf die opvoeders, moet nie sulke situasies toelaat om maklik te ontstaan nie. Mens kan keer dat te veel vir mense op die spel is wanneer hulle deelneem aan kompetisie. ‘n Mens kan voor die speletjie eers ‘n bietjie praat oor hoe die verloorder gaan reageer – of nie reageer nie. ‘n Mens kan ook praat hoe lekker dit is om bloot te speel, om gesellig bymekaar te wees. Of ‘n mens kan ooreenkom dat almal saam na die spel iets gaan wen – die verloorders omdat hulle goeie verloorders was.
Uiteindelik is daar ‘n laaste gedagte: gee vir ander en die kinders in jou huis ‘n goeie voorbeeld. Om te vloek as jy iets breek of kos verbrand, om deure agter jou toe te slaan, om beheer te verloor as die dag by die werk nie reg loop nie, is nie ‘n goeie voorbeeld nie. Wat nie goed lyk by ander nie, is ook nie goed in jou eie lewe nie.
Aldus die opvoeders: praktiese raad en goeie self-ondersoek is dus die oplossings.
Ek sou dink ‘n mens moet ‘n bietjie dieper kyk. Iewers moet ons geestelike lewe en ons rus in God op alle vlakke van ons mens-wees na vore kom. Van die monnike in die woestyn wat alleen maar die broodnodigste geneem het op hul lewensreis met God tot Simone Weil wat haar daaglikse dieet gewysig het sodat sy net soveel sou eet as die arm arbeiders in haar omgewing, ontdek ons dat die lewe nie ‘n kwessie van wen of verloor is nie. Ons leer daaruit dat uitstyg bo ander net tydelik geluk bring. Wat saak maak is dat ons diep verbonde is met ander en dat ons innerlike vrede en rustigheid gebore word deur ons band met mekaar, gevoed deur ons band met God wat alle mense, ongeag hul prestasies, lief het. Hierdie band is belangriker en kosbaarder as enige wen of verloor.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.