Volmaaktheid is ‘n sleutelwoord in Spiritualiteit.
Deur die eeue het dit die verkeerde betekenis gekry dat ‘n mens kan dink dat jy in alles net die goeie moet doen en dat jy nie meer “sondig” nie. Jy is volmaak omdat jou lewe so goed en mooi is.
Daar was natuurlik mense wat sulke sienings gekoester het deur selfs te dink het dat hulle dit reggekry het.
Maar volmaaktheid staan in Spiritualiteit nie aan die begin van die geestelike lewe nie. Dit is die eindpunt van die geestelike reis.
Ons is op pad na volmaaktheid in die sin dat ons lewe om uiteindelik heeltemal die beeld van God in ons te kan vertoon.
En tog is daar ook ‘n ander kant aan volmaaktheid. Die tyd van volmaaktheid in God kom nog. Intussen sien ons in 'n spieel soos 'n raaisel: volmaaktheid beteken dat ‘n mens jouself heeltemal toewy aan wat God wil hê.
‘n Mens is dan volmaak wanneer jy geheel en al na God se wil in jou lewe verlang.
Of jy dit regkry of nie, is ‘n ander saak. Paulus skryf dat ons op pad is na die volmaakte – wanneer ‘n mens eendag van aangesig tot aangesig sal sien. Tot dan is die reis ‘n stryd om volmaaktheid.
Teresa van Avila skryf hieroor:
Die hoogste vorm van volmaaktheid is wanneer ons wil volledig ooreenstem met alles wat God wil hê. Daar is niks waarna ons meer kan verlang as om God se wil te doen nie.
Om volmaak te wees is om in jou innerlike ‘n brandende verlange te hê dat jou lewe soos God s’n sal lyk. ‘n Meer volmaakte begeerte as dit kan niemand hê nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.