Daar kom tye in ‘n mens se lewe, skryf Rahner, dat jou ervaring van liefde skielik omvorm word. As jy liefgehad het, was dit ‘n soort van algemene liefde, byna ‘n rasionele egoïsme. Jy weet jy gee om omdat dit redelik lyk, normaal is en gedoen behoort te word. Jy het lief omdat jy iets wen daardeur. Jy het lief omdat dit sin maak.
Maar dan, op 'n keer, ontdek jy egte godsdiens.
Dan tref iets anders jou op ‘n dag, soms uit die bloute.
Dan het jy lief sonder dat jy daarvoor iets terug ontvang.
Dit is dan dat jy vertrou sonder enige waarborg dat ander jou vertroue waardig is.
Dit is dan dat jy waag waar dit lyk asof dit waansinnig is.
Daar kom dae, ook in jou lyding, dat verlange ‘n pynlike werklikheid word. Jou verlange om vir altyd in God se liefde te kan leef, vreet aan jou. Jou bestaan word deurtrek met die lyding onder God se afwesigheid.
Dit kan so erg word, dat dit voel of jou lewe uitmekaar val. Dit bring fisieke pyn oor jou.
Maar dan kom daar ‘n dag waarop ‘n dieper wete in jou lewe inkom. Dit is die dag dat jy God in ‘n verborge, mistieke liefde leer liefkry: Jy ervaar: Jou pyn is ‘n boodskap van My. As jy uitroep: O God!, dan roep Ek: “Hier is ek!” As die verlange na My jou uitmekaar skeur, is dit ‘n teken dat Ek jou nader aan My trek. Die liefdesangs wat jy beleef is My ontferming oor jou.
Wanneer ‘n mens in Godverlatenheid, in die donker na God uitgeroep het, is dit ook die tyd om stilweg te kan bid: Vader, Vader, in U hande, in U troue hande, vertrou ek myself toe.
Liefde sonder beloning. Liefde in volledige oorgawe. Die lig van die liefde wat in die donkerste tye bly skyn.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.