Ek gaan kyk verlede week na Paul Emslie se retrospektiewe uitstalling in die Sasol-Kunsmuseum.
Ek volg sy werk al lank, maar het in onlangse tye nie iets resents van hom gesien nie. Dus is ek nuuskierig.
Dit word toe vir my ‘n heel spesiale ervaring. 'n Mens soek na woorde om te kan vertel oor wat jy beleef. Niks kan werklik goed weergee wat 'n mens ervaar wanneer jy voor die reuse-doeke staan nie.
Dit besef ek toe ek weer daarna foto’s van die doeke in die katalogus bekyk.
'n Foto kan nie reg laat geskied aan die ryk, swartdonker agtergrond, die subtiele ligspel, die allerfynste detail wat hy, met die vinger nogal, op elke doek bewerk.
Ek spandeer tye en tye voor die doeke, ook om te probeer verstaan hoe kry hy dit reg, maar ingetrek in die skoonheid van wat hy uitbeeld.
As jy die foto's van die doeke sien, sou 'n mens dit nie sê nie. Die uitstalling is op die oog af maklik op die oog. Emslie werk in die tradisie van realistiese kuns.
En tog: hy is sekerlik nie ‘n maker van prentjies nie. Sy kuns het diep wortels, onder andere in algemene spiritualiteit. “Ek is eintlik ‘n spirituele mens”, sê hy. “Ek het agtergekom ek leef in ‘n abstrakte wêreld. Alles wat ek teken sê iets oor hierdie ander, weggesteekte wêreld.”
Emslie skilder nie sommer nie. Hy let fyn op die vorme van alles wat hy op doek verewig. Dit maak my opgewonde, want die sonde van ons tyd is dat ons nie sien nie. Ons kyk oppervlakkig, ons lees maklik, ons is haastig om tot konklusies te spring. Ons bedink nie, bekyk nie, sien nie regtig raak nie.
En dan ontglip ons wêreld ons, mis ons die avontuur in die ontdekking van ons wêreld.
Emslie kry dit reg om raak te sien. Daarom skryf hy byvoorbeeld dat diere eintlik heel vreemde wesens is, as ‘n mens eers net fyn kyk. Jy verwonder jou aan hulle, hoe hulle lyk, watter beeld en vorm hulle het.
Hy is byvoorbeeld bekend vir sy studies van diere, maar in onlangse tye, skryf hy, teken hy veral blomme in wit en swart kleure. En sy tegniek is om met die vinger in verpoeierde kryt sy prente te teken. Dit is al ‘n ervaring net om te kyk hoe hy teken, afgesien nog van wat hy teken en wat hy bereik daarmee.
Blomme, vertel hy, boei hom want hulle het uiters komplekse en moeilike vorme. Elke vorm is uniek, maar het ook ‘n stilte daaraan. Dit beteken, en dit sê Emslie nie, dat dit moeilik is om hulle te teken. Jy moet goed kyk en fyn raaksien.
Wat hy dan doen is om te kyk hoe lig en skaduwee’s oor die vorms wat hy skilder, val. Daarvoor balanseer hy verskillende skakerings van kleur. Dit is juis deur die lig en skaduwee’s dat die voorwerpe wat hy teken hul gewoonheid verloor en ‘n geestelike dimensie, ‘n mistieke betekenis verkry. Want, verduidelik hy, al hierdie baie vorme deel dieselfde ding: Lig en skaduwee val op dieselfde manier oor hulle.
Daar is iets onveranderliks, ewigs, verborge in die manier waarop vorm en lig/skaduwee, die tydelike en die selfde mekaar ontmoet. Daardie aanraking wat van buite kom en die verskil maak – suiwer mistiek.
Lig en donkerte beweeg oor alle dinge in die heelal. Steeds weer en altyd val hulle daaroor. En elke keer weer transformeer hierdie lig en donkerte die voorwerp.
Hy gaan selfs verder: daar is eintlik niks wat dinge in die wêreld van mekaar skei nie. Hulle vorm ‘n ineengestrengelde geheel. Mense, diere, dinge verskil van mekaar net maar in die digtheid van hul materie. Van al hierdie dinge is die vorm van alle dinge die boeiendste, veral wanneer lig en donker op hulle skyn.
Dit hou ‘n mens vasgevang: die vorm, die Gelaat, en die beweging van die ewige daaroor. Dan, in hierdie samekoms, ontstaan die misterie, ontmoet ‘n mens die Verborgene.
Hy teken dus nie maar net ‘n renoster of ‘n blom nie. Hy laat jou deel in ‘n ervaring van ‘n ligspel waarin die renoster of die blom meer as net ‘n dier of ‘n plant word. Hulle word ‘n ervaring van skoonheid. ‘n Mens herken in hom dieselfde ligspel soos in die werk van ‘n geniale Rembrandt of Velasquez. Daar is iets goddeliks in die lig/skaduwee’s wat die vorme afets en omring met geheimenis.
Emslie skryf: “Ek wil die voorwerp wat ek teken transformeer (!) van die sfeer van die gewone na die sfeer van die buitengewone. Deur hierdie transformasie word die beeld opgeneem in ‘n mens se verbeelding.” Jy reis daarmee verder. Dit word ‘n gespreksgenoot, ‘n vriend, ‘n minnaar wat jou gedagtes vul. Jy appropieer dit. Dit word deel van jou lewe. Jy neem nie maar net kennis nie. Dit doen iets aan jou.
Moet dus nie te maklik dink Emslie teken maar net ‘n blom of ‘n renoster of ‘n protret van Mandela nie. Hy teken gedigte. Hy vertel in sy skilderye van lewensavonture.
En as jy dit bekyk en daaroor nadink, kom die dieper denke. Want Emslie skryf dan hierdie veelseggende ding: “Die klem op die lig en skaduwee vul ons gedagtes met skrynende treurigheid oor die kort tydjie wat ons hier is, maar ook met die onbeantwoordbare vrae oor ons herkoms en waaroor ons hier is – dit grootste misterie van ons lewens.”
Ek lees die inligting nadat ek die uitstalling besoek en verstaan waarom die uitstalling my so raak en in my resoneer. Ek kyk weer ‘n paar keer na Amanda Botha, die ervare en bedrewe kurator van die uitstalling se nota’s oor Emslie, maar ook die skrywer se webwerf en dan wat ander mense se reaksies op sy werk is.
Ek besef: Die blomme wat hy teken hou jou blik gevange. Die absolute vaardigheid waarmee Emslie teken laat jou verstom. Wat hy raaksien, tog. Hoe is dit moontlik dat iemand in blote swart en wit soveel skoonheid op ‘n leë doek kan neerpen?
Meer nog: watter skoonheid kan ‘n mens nie teken wanneer ‘n mens deur die dieper dinge aangeraak en gedryf word nie.
Iewers, deur die eeue, begin mense teken omdat hulle iets spesiaals ervaar. Later sal ander die werk voortsit en sal hulle ook opnuut weer dinge maak wat ons ryker laat, wat ons verander en wat van ons mense maak wat die lewe lief het.
Al hierdie Groter dinge praat met ons, is ons intertekstuele Ankers, bring ons nader aan die Verborge Een en maak ons deel van die lewensAvontuur. So staan Emslie dankbaar in die ry van mense voor hom, en put ons weer, ook ry-staners, van sy meesterskap.
Die lewe is ‘n avontuur. Dit is die vreugdesreis saam met die Verborgene.
Hier is sy studie van Mandela:
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.