Monday, March 26, 2012

Eko-mistiek


Een van my goeie ervarings in die gemeente was toe ons by ‘n baie bekwame boer op ‘n Sondag gaan kuier het. Na middagete het hy ons uitgeneem op sy plaas. Dit was ‘n goedversorgde boerdery. In baie moeilike omstandighede, dikwels in uiterste droogte, het hierdie wyse boer versigtig met sy grond omgegaan. Hy het damme gebou, sy plaas omhein, goed vir sy werkers gesorg, sy implemente versigtig gebruik en nagesien en sy plaas versigtig laat bewei.

Op ‘n stadium, onthou ek goed, het ons by die grensdraad van sy plaas gekom.

Kyk, het hy vir my vertel, aan die een kant van die draad is die veld groen, die gras welig en die struike heup-hoogte. Aan die ander kant, sy buurman se kant, was daar min struike en net polle vaal gras.

Ek het die twee kante bekyk. En wat my bygebly het was die byna ontsagwekkende gevoel wat ek gekry het toe ek die goedversorgde veld bekyk het. Dit was asof ‘n mens die skeppingsverhaal weer beleef het, ironies: Aan die een kant die woes en leeg-wees, met, aan die ander kant, die malse, groen skoonheid van ‘n aarde wat goed en mooi was. Hoe goed kan die natuur tog wees as daar iemand is wat liefdevol daarvoor omgee en sorg dat dit goed daarmee gaan.

Ek het aangetrokke tot die natuur gevoel. Daar was in my ‘n spontane, goeie gevoel van vergenoegdheid teenoor die goeie veld wat vir my soveel vreugde op daardie Sondagmiddag verskaf het. En ek het nuwe bewondering gekry vir die boer wat met soveel liefde sy veld versorg het en wat met soveel trots uitgewys het hoe mooi kan die natuur word as jy maar net daarvoor omgee.

Maar daar was ook die “ander kant”. Die kant van die vernielde veld.

Wanneer mense aan die paradys-verhaal dink, staan die bevel aan die mensdom dikwels uit: “Onderwerp die aarde en heers daaroor”.

Heerskappy van die mens oor die aarde is vir vele mense ‘n belangrike tema. Dit behels dat ‘n mens die aarde moet tem, dit voluit moet benut en tot voordeel van die mens as die “kroon” van die skepping moet gebruik.

Dikwels is die ondertoon van hierdie houding dat die mens die aarde besit en dit voluit moet gebruik.

Al hoe meer is daar ‘n verset aan die opbou. Die Genesis-verhaal beskryf die mens as die beeld van God. Wanneer die mens dus met die natuur in ‘n verhouding tree, moet daardie verhouding in die teken staan van God se troue sorg en heerskappy. Die koning was immers in antieke tye die figuur wat verantwoordelikheid vir die welsyn van sy volgelinge geneem het.

Reeds hierdie insig bepaal hoe ‘n mens nadink oor die mens se “heers” oor die aarde.

Die mensdom “heers” oor die aarde soos ‘n koning wat sorg dat dit goed gaan met alle mense wat aan sy sorg toevertrou is.

Dit is ‘n omgee-houding, ‘n verhouding van bedagsaamheid en sorg.

Die mens is nie die baas van die plaas nie, die een wat die natuur “besit” nie. Die mens, besef jy, is maar net ‘n voogd, wat namens God liefdevol moet instaan dat wat God begin het, goed volgehou moet word. Die mense word ‘n vennoot van God, ‘n beeld van God, verteenwoordiger van God op die skepping.

Meer vertroue kan niemand geniet nie: Om ‘n medewerker van God te wees, God se regent in hierdie wêreld wat moet toesien dat die wêreld sy skeppingsdoel moet bly beleef. Vandaar dat die gelowige dubbeld toegewyd aan die skepping is.

Ten nouste hang hiermee saam dat die mens, saam met die natuur, deur God “geskep” is. Mens, dier en natuur is saam in een groot skeppingsgeheel die voorwerp van God se liefdevollge skeppingswerk. Daar is dus ‘n intieme, onlosmaaklike verband tussen die mens en die natuur. ‘n Mens gee nie net om vir die aarde omdat ‘n mens God se liefde verteenwoordig nie, maar ‘n mens gee om vir die aarde omdat ‘n mens wesenlik daaraan verbind is.

Die mensdom staan nie los van die natuur nie, maar is juis saam met die natuur tot een groot skeppingsgeheel gevorm.

Eintlik vertel die lotgevalle van die mensdom duidelik en helder hiervan: wanneer dit met die natuur goed gaan floreer die mens. En wanneer die mens eenvoudig die natuur hiet en gebied en misbruik, ly nie net die natuur daaronder nie, maar die mens self. Dit laat ‘n mens amper aan Paulus se beeld van die liggaam dink: as die een deel ly, ly die hele deel.

Die skepping is dus nie ‘n stuk besitting nie. Dit is ‘n organisme, waaraan die mens ook deel het.

Daar is iets mistieks omtrent hierdie dinge: daar is ‘n noue, lewegewende verhouding tussen mens en natuur. Op die Sondagmiddag in die oopte van die veld, die skepping van God, het ek ‘n feitlik sakramentele ervaring gehad. Alles wat ek die oggend in die erediens ervaar het, die teenwoordigheid van God in die midde van hulle wat gelowig bymekaar is, is daardie middag vir my onderstreep: hier, in die natuur, is dieselfde gebeurtenis te ervaar. Hier ook, kan ek my verwonder, is God teenwoordig. Hier sien ek lewe, sien ek hoe liefde transformeer, hoe omgee God se skepping tot nuwe groei kan bring. Hier is ‘n proses van die lewe aan die gang.

In die reuk van die veld, die kleure van die mild-groen gras, in die klanke van ‘n lui Sondagmiddag in die oop natuur, in die wete dat die ruimtes van die skepping ook ‘n mens bly maak, het ek die aanraking van God ervaar. So, het ek gedink, moes dit in die begin gewees het: elke keer weer het God se hart bly gebons by die aanblik van hoe mooi die skepping is. Dit was goed gewees. 

En, saam hiermee, het ek, soos ons vriende, die boer en sy familie, ervaar hoe diep verbonde ek aan die natuur is en hoe sterk die natuur se bande met my is. 'n Wedersydse verhouding, het ek besef, verbind ons aan mekaar en vorm die ruimte waarin God woon.







No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive