Wednesday, March 21, 2012

Deur askese vrygemaak tot die liefde

Askese is 'n groot woord in Spiritualiteit.

Die askeet het byvoorbeeld in die vroegste tye hom/haar onttrek aan die samelewing en in die woestyn gaan bly, weg van die beskawing, los van alle geriewe en net met die noodsaaklikste lewensmiddele.

Dit was die meer radikale oomblikke van askese in die geskiedenis van Spiritualiteit.

Maar daar is die kleiner, stille oomblikke: in die protestantse Spiritualiteit, veral onder gereformeerdes, word van "stiltetyd" gepraat. Dit is wanneer 'n mens jou onttrek van jou besige dagtaak. 'n Mens beweeg verby al die besige dinge: wat saak maak is nie meer wat jy werk nie, wat jy eet nie, wat jy aantrek nie.

Jy gee jouself prys. Alles wat 'n mens normaalweg wil doen, word nou opgeoffer en agtergelaat. 

Jy soek nie meer jou eie wil nie. Jy wil juis jou eie wil prysgee.

Dus sonder jy jouself af. Jy word 'n "askeet", 'n mens wat stil word.

En altyd weer is dit nie die stilte wat tel nie. Of die afsondering nie. Of die alleen wees nie.

Wat regtig tel is waarheen die stilte jou lei. Jy sonder jou af juis om nie meer alleen te wees nie.  Deur allerhande aksies word 'n mens ingestel op die groot doel: om in die teenwoordigheid van God te kan wees. Dit is waarom jy as 'n vaste deel van afsondering, stiltetyd, die Bybel optel en internaliseer. Dit is waarom 'n mens bid en dit is ook die rede waarom 'n mens dikwels vas. Al hierdie rituele bring jou uit by iets groters en belangrikers as jou eie wil, jou eie lewe - hoe vol, gejaagd en besig dit ook al is.

Jy word vry. En deur jouself prys te gee, deur te jaag na die dinge wat saak maak, deur uit te strek na die dinge van God, ontdek 'n mens skoonheid. Dit bring vreugde. Jy word 'n dankbare mens. Jy word vry van woede, angstigheid, self-ingekeerdheid, van jou laste, om tot rus te kom in God en toe te laat dat God in rus in jou kom woon.

Askese is nie belangrik nie. Rituele is nie belangrik nie. Wat tel is of askese 'n mens by die Liefde uitbring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive