Die busramp in Switzerland waarin 'n twintigtal Belgiese leerlinge en hul onderwysers tragies gesterf het, het België tot stilstand gebring.
Op een van ons gunsteling-kanale (431) is die nuus oorheers deur die ramp en die baie roubetuigings waarmee die land hierop gereageer het.
In skole, fabrieke, treine, die parlement, op straat en oral het mense Vrydag om 11 vm vir 'n minuut stilgeword. Kamera's op baie plekke wys hoedat mense en masse ophou werk, reis en loop om hul eerbied en meelewing te betoon.
Aangrypende tonele van ingehoue verdriet speel hom voor ons oë af.
In onderhoude wat gebeeldsend word, vertel mense ingetoë van hulle skok en hoe tragies hulle dit vind dat sulke jong lewens so vroeg tot 'n einde gekom het. Telkens, as 'n steeds wederkerende refrein word die kinders se jeugdigheid uitgewys.
Wat my veral opval is die privaatheid wat aan die familie en die skool gegun word om op hul eie en sonder lastige opdringerigheid te kan afskeid neem en te kan rou.
Die media word nie naby die families toegelaat as hulle Switzerland toe geneem word en in die vliegtuie/busse inklim vir die reis nie. Die bus se gordyne is dig toegetrek sodat die families heeltemal afgesonderd is.
Die besoek van die families aan die ramp-plek in die Switserse tonnel is ook ontoeganklik vir die publiek en die media. Die ouers en familie is alleen by die plek waar hul kinders se lewe so brutaal tot 'n einde gekom het.
Daar is 'n woedende reaksie onder mense as foto's van die kinders se gesigte en hul name in koerante gepubliseer word. Mense raas daaroor. Hulle dink dit is hoogs onvanpas en disrespekvol teenoor die families. Die mense naby aan die kinders het niks nodig om hul rou swaarder te maak nie, roep hulle verontwaardig in intense oomblikke uit.
Ek staan verwonderd oor die bedagsaamheid wat uit hierdie beskerming van die ouers in hul tyd van verlies en verdriet uitstraal. En ook oor die ongekende meelewing wat 'n ieder en 'n elk betoon deur hul kommentaar, hul deelname aan die minuut van stilte en deur die blomme/kerse wat oral neergelê word.
Hoe waardig kan 'n hele gemeenskap rou.
Kyk maar net na die foto hierbo: die ruiker wit blomme, langs die kers in 'n glashouer by die register waar mense hul boodskappe kan gaan neerskryf.
Woorde soos innigheid, beheersd, intens, smaakvol, waardig, beskaafd, bedagsaam, meelewend en beskermend kom telkens by my op as ek sien hoe 'n hele volk die ramp beleef.
Maar uiteindelik bly iets anders my die meeste by: in 'n onderhoud merk iemand op dat 'n mens by die verlies van 'n kind die swaarste van alle vuishoue toegedien kry. Selfs taal vertel hoe mens se woorde soos mis voor die son verdwyn voor so 'n verskriklike ervaring. Sy verduidelik: as 'n mens jou man verloor, sê taal, meelewend, dat jy 'n weduwee is. As jy jou vrou verloor, is jy 'n wewenaar. As jy jou ouers verloor, is jy 'n weeskind.
Maar as jy jou kind verloor, vertel sy, is daar nie taal om dit te beskryf nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.