Die vorige blog het gefokus op die belangrike uitspraak in Lukas 17:21 dat die Koninkryk van God binne-in mense te vinde is. Lukas wou daarmee ‘n uiterlikheid, ‘n formele, siellose godsdiens wat God op die verkeerde plek soek, afwys.
Maar wat beteken dit dat Lukas so sterk die innerlikheid beklemtoon?
God, onderstreep hy, bestaan en leef in die hart van die mens. Lank voordat godsdiens in ons doen en late na vore kom, is God teenwoordig in die mees intieme deel van ons bestaan.
God is in die sentrum van die mens se siel.
In ons woon God in sy liefde. God "regeer" oor en is die koning van harte.
Augustinus het daarom die welbekende uitspraak gemaak: U is nader aan my as wat ek aan myself is. Hiermee wou hy die groot verborgenheid beklemtoon dat die liefde die kern van ons bestaan uitmaak - en dat dit so intiem is dat ons dit nie kan peil nie.
Lukas 17:21 onderstreep dit, in ander woorde, ook.
In ons woon daar dus ‘n goddelike liefdesmag – en dit is wat wag om herken en toegeëien te word.
Hier kan 'n mens van 'n stuk ironie praat: Terwyl ons ons lewe lei met die gedagte dat ons onsself so goed ken, bestaan ons in vele opsigte eintlik salig onbewus van die inwoning van God daar waar dit gaan om die hart van alle dinge.
Om te word wat ons werklik is, om in aanraking te kom met die Goddelike liefde, is dit nodig dat ons onsself sien soos God ons sien.
Vandaar dat Jesus in Lukas 17:21 die godsdienstige leiers van sy tyd, die Fariseërs, die dieper weg, die intiemer dele van hul hart onthul. Jesus bring hulle tot by die punt dat hulle hulself moet sien, soos God hulle sien.
Onbewus van hul werklike aard, van hoe God na hulle kyk, het hulle, ironies genoeg, allerhande godsdienstighede vasgehou asof dit vir hulle die belangrikste was.
Dat ‘n mens, anders as die Fariseërs, jou ware natuur moet ontdek en moet insien dat God in die hart van jou bestaan inwoon, het weer op sy beurt verrassende implikasies: een van Jesus se groot uitsprake was dat ‘n mens nie maklik oor ander moet oordeel nie. God sien in die hart van die mens, wat mense nie van mekaar kan sê nie. God ken die mens soos niemand anders nie.
In ‘n mens se eie hart weet ‘n mens wie jy is. Niemand ken jouself so goed soos jy nie. Wat ander dink, kom van buite af en is 'n oordeel op losse skroewe.
As jy jouself goed ken, soos niemand anders nie, geld dit ook van God wat die mens intiem ken, soos niemand anders nie. God, wat in ‘n mens se hart inwoon, ken ‘n mens dus van binne-uit omdat God in die mens se diepste bestaan inwoon.
Jesus bring die dieper verstaan wat die mens uit die slaap van sy eie miskenning wakker maak. Hy is die Een wat oor God se inwoning praat: God, vertel hy, ken die mens van binne-uit as die een in wie die Liefde woon: die onbegrensde Liefde van God word in mense uitgestort.
God wil dus dat ons onsself moet herken soos God na ons kyk: God sien ons as mense wat in die liefde geanker is. Die geestelike weg, die weg wat Jesus in Lukas 17:21 uitwys is dat mense dit van hulself moet ontdek. En om hul te vergesel in hierdie ontdekkingstog, het hulle Jesus as reisgenoot en intieme kind van God.
Waar dit gebeur dat mense hulself begin herken as geankerd in die Liefde, word uiterlike dinge en formaliteite, oppervlakkighede en tradisies onbelangrik. Wat dan tel is om in die liefde wat in ‘n mens is, te woon, te bly en te leef. Die liefde lei, inspireer, dryf, verenig, veredel en verryk die mens se hele bestaan. Meer as dit het ‘n mens nie nodig nie.
Hiermee staan ‘n mens aan die begin van nog meer spesiale insigte in die liefde. Meer hieroor volg.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.